Vraebus
◼ Watter prosedure moet gevolg word wanneer resolusies aan die gemeente voorgelê word?
’n Resolusie is nodig wanneer daar oor belangrike sake besluit moet word, soos die aankoop van eiendom, die ombou of bou van ’n Koninkryksaal, spesiale bydraes aan die Genootskap of bydraes tot die kringopsiener se uitgawes. Dit is gewoonlik beter om elke keer ’n resolusie vir goedkeuring voor te lê wanneer gemeentelike fondse gebruik word.
As ’n uitsondering kan die gemeente dalk net een keer besluit om elke maand ’n spesifieke bedrag aan die Genootskap te stuur bo en behalwe dít wat elke individu reeds tot die wêreldwye predikingswerk bydra. Gewone Koninkryksaaluitgawes, soos nutsdienste en ’n voorraad skoonmaakmiddels, het ook nie ’n resolusie nodig nie.
Wanneer dit duidelik is dat daar ’n behoefte ontstaan het, moet die liggaam van ouere manne die saak deeglik bespreek. As die meerderheid besluit dat iets daaromtrent gedoen moet word, moet een van die ouere manne, dalk ’n lid van die Gemeentelike Dienskomitee, ’n geskrewe resolusie opstel wat by die Diensvergadering voorgelê kan word.
Die ouere man wat as voorsitter optree, moet kortliks maar duidelik uiteensit wat die behoefte is en wat die ouere manne as ’n oplossing voorstel. Die gemeente word dan die geleentheid gebied om spesifieke vrae daaromtrent te vra. As dit ’n ingewikkelde saak is, sal dit dalk beter wees om die stemming tot die volgende Diensvergadering te laat oorstaan totdat almal tyd gehad het om daaroor na te dink. Die stemming self word gedoen deurdat die gemeentelede hulle hande opsteek.
Slegs toegewyde en gedoopte lede van die gemeente kan oor ’n resolusie stem, tensy wetlike vereistes anders beveel, soos in gevalle waarby korporasiesake of Koninkryksaallenings betrokke is. Dit sal nie vir besoekers van ander gemeentes gepas wees om daaraan deel te neem nie.
Nadat die resolusie goedgekeur is, moet dit gedateer, geteken en in die gemeentelêer geplaas word.