Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 2/94 bl. 3-4
  • “Julle sal deur al die nasies gehaat word”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Julle sal deur al die nasies gehaat word”
  • Ons Koninkryksbediening—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • Sonder oorsaak gehaat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Dié wat teen God veg, sal nie oorwin nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Liefde help ons om te volhard wanneer ons gehaat word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1994
km 2/94 bl. 3-4

“Julle sal deur al die nasies gehaat word”

1 Ons almal was in onlangse jare verheug om opwindende verslae te hoor van die wonderlike seëninge wat wêreldwyd deur Jehovah se volk ondervind word. Die wettiging van die werk in Malawi ná 26 jaar van wrede onderdrukking het ons tot trane van vreugde beweeg. Ons het ’n sug van verligting geslaak toe ons die ondergang van die Godlose Kommunisme in Oos-Europa aanskou het en letterlik duisende van ons broers gevolglik van daardie onderdrukkende juk bevry is. Ons het met besorgdheid toegekyk toe die kwessie van ons godsdiensvryheid in Griekeland voor die hof gebring is; ons was verheug toe ons ’n klinkende oorwinning in die hoogste hof in Europa behaal het. Dit verskaf ons groot genot om verslae te hoor van die grootskaalse uitbreiding van die Genootskap se takkantore, wat meebring dat ontsaglike hoeveelhede lektuur vir waarheidsoekers gedruk kan word. Hoe verstom was ons tog toe ons gehoor het dat meer as 7 400 by die byeenkoms in Kiëf, in die Oekraïne, gedoop is. Ja, hierdie dramatiese vooruitgang in die Koninkrykswerk het ons onbeskryflike vreugde verskaf!

2 Hoewel ons oorweldigende rede tot vreugde het, moet ons daarteen waak dat ons nie uitermatig verheug word nie. ’n Reeks gunstige verslae kan ons laat dink dat teëstand teen die goeie nuus besig is om te verkrummel en dat Jehovah se volk rondom die wêreld aanvaar begin word. So ’n denkwyse kan bedrieglik wees. Hoewel ons ’n paar bevredigende oorwinnings behaal het en redelike welslae in ’n paar lande geniet het om hindernisse in die weg van die goeie nuus uit die weg te ruim, moet ons nie vergeet dat ons basiese verhouding met die wêreld niks verander het nie. As volgelinge van Jesus is ons ‘nie van die wêreld nie’. Gevolglik sál ons “deur al die nasies gehaat word” (Joh. 15:19; Matt. 24:9). So lank hierdiestelsel van dinge nog bestaan, gaan niks die basiesebeginsel verander dat ‘almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, vervolg sal word’ nie.—2 Tim. 3:12.

3 Die geskiedenis bevestig die waarheid van hierdie waarskuwing. Hoewel Jesus, die Grondlegger van die ware Christelike geloof, ’n indrukwekkende getuienis voor magtige heersers en hulle onderdane gelewer het, is hy daagliks beledig en uitgeskel en was sy lewe voortdurend in gevaar. Al het sy apostels baie mense gehelp om dissipels te word en al het hulle ’n aandeel daaraan gehad om die Christelike Griekse Geskrifte te skryf en wonderdadige gawes van die gees besit, is hulle eweneens gehaat en sleg behandel. Ten spyte van hulle goeie gedrag en naasteliefde is alle Christene deur die meeste mense as ’n veragtelike “sekte” beskou ‘waarteen daar oral gespreek is’ (Hand. 28:22). Hoewel die wêreldwye Christengemeente vandag op ’n wonderlike wyse deur Jehovah gebruik word om sy wil uit te voer, word dit voortdurend deur elke element van hierdie goddelose stelsel van dinge teëgestaan en beswadder. Daar is geen rede om te verwag dat daardie teëstand sal ophou nie.

4 In die eerste eeu het Satan Jesus se dissipels op verskillende maniere vervolg. Kwaadwillige teenstanders het onbeskaamd leuens vertel wat die dissipels in ’n slegte lig gestel het (Hand. 14:2). Daar is wrede dreigemente gemaak om hulle te probeer intimideer (Hand. 4:17‚ 18). Verwoede skares het hulle die swye probeer oplê (Hand. 19:29-34). Hulle is sonder grondige rede in die tronk gegooi (Hand. 12:4‚ 5). Hulle vervolgers het dikwels fisiese geweld gebruik (Hand. 14:19). In sommige gevalle is onskuldiges opsetlik vermoor (Hand. 7:54-60). Die apostel Paulus self is aan feitlik al hierdie vorme van vervolging onderwerp (2 Kor. 11:23-27). Teenstanders het enige geleentheid aangegryp om die predikingswerk te dwarsboom en hierdie getroue werkers te vervolg.

5 Satan gebruik vandag soortgelyke taktiek. Infame leuens is al vertel, wat ons valslik voorstel as ’n sekte of kultus wat op ’n dwaalspoor is. In sommige lande het die owerheid besluit dat ons lektuur ondermynend is en het hulle dit verbied. Ons eerbied vir die heiligheid van bloed is al in die openbaar bespot en betwis. Gedurende die veertigerjare het verwoede skares wat ontstoke was oor die vlagsalueringskwessie ons broers aangeval, hulle beseer en hulle eiendom vernietig. Duisende is al weens die neutraliteitskwessie tronk toe gestuur. In totalitêre lande is ons broers valslik daarvan beskuldig dat hulle die regering ondermyn, wat daartoe gelei het dat honderde in tronke en konsentrasiekampe wreed gemartel en om die lewe gebring is. Die druk het nog nooit opgehou nie, wat duidelik toon dat ons sonder grondige rede gehaat word.—Sien Verkondigers, hoofstuk 29.

6 Wat hou die toekoms in? Hoewel Jehovah se volk van tyd tot tyd ’n deurbraak maak om die druk in sommige dele van die wêreld te verlig, bly die situasie oor die algemeen dieselfde. Die Duiwel is steeds woedend oor sy vernedering in 1914. Hy weet sy tyd is kort. Sy woede sal ongetwyfeld toeneem namate die groot verdrukking nader kom. Hy is vasbeslote om sy oorlog teen die gekroonde Koning, Christus Jesus, te voer, en hy is vasbeslote om tot die bitter einde toe te stry. Hy en sy demone kan slegs aan hulle woede uiting gee teen Jehovah se volk hier op aarde, wat getrou “die gebooie van God onderhou en die werk het om van Jesus te getuig”.—Openb. 12:12‚ 17,NW.

7 Wanneer ons dus na die toekoms kyk, moet ons realisties ten opsigte van ons verwagtinge wees. Daar is geen rede om te dink dat die Duiwel sal terugdeins of die stryd gewonne sal gee nie. Die haat wat hy in hierdie wêreld teenoor ons aangeblaas het, kan te eniger tyd en op enige plek opvlam. In baie lande het ons eers ná ’n lang stryd die vryheid om te preek tot stand gebring. Daardie vryheid kan van korte duur wees, aangesien dit moontlik net as gevolg van ’n simpatieke heerser wat tans aan bewind is of ’n ongewilde wet geduld word. Dramatiese veranderinge kan oornag plaasvind en chaos en skreiende skendings van menseregte tot gevolghê.

8 Die voorspoed en vryheid wat ons tans in sommige lande geniet, kan skielik tot ’n einde kom, en ons broers kan aan dieselfde vervolging onderwerp word wat hulle in die verlede ondervind het. Ons kan dit nie bekostig om in ’n gees van onverskilligheid te verval en te dink dat ons vyande verander het nie. Hierdie wêreld se haat is dalk nie altyd so duidelik te sien nie, maar dit bly intens. Alles in God se Woord toon dat die wêreld se teëstand nie sal bedaar nie, maar dat dit eerder sal vererger namate die einde nader kom. Daarom moet ons op ons hoede wees en “versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” wees (Matt. 10:16). Ons moet besef dat ons reg tot die einde toe ‘kragtig sal moet stry’ en dat volharding die sleutel tot ons oorlewing is.—Jud. 3; Matt. 24:13.

9 In die wêrelddeel waar ons woon, gaan die werk moontlik voorspoedig voort sonder enige merkbare inmenging deur teenstanders. Dit kan ons skepties laat word en ons laat dink dat daar geen rede tot ernstige kommer is nie. Dit is nietemin nodig om waaksaam te wees. Omstandighede kan skielik verander. Teenstanders kan sonder enige waarskuwing die een of ander kwessie uitbuit en dit teen ons gebruik. Afvalliges is gedurig op soek na ’n verskoning om klagtes teen ons in te bring. Verwoede geestelikes wat deur ons werk bedreig voel, kan ons in die openbaar veroordeel. Ons planne om ’n Koninkryksaal in ons gemeenskap te bou, kan ’n geskil ontketen wat die hele gemeenskap ontstig. Opruiende aanmerkings kan in die pers verskyn en ons in ’n slegte lig stel. Vooraanstaande plaaslike figure kan ons opsetlik beswadder, wat kan veroorsaak dat ons bure vyandiggesind is wanneer ons hulle besoek. Selfs geliefdes in ons eie huisgesin kan gegrief begin voel en ons vervolg. Dit is dus noodsaaklik dat ons op ons hoedeis en besef dat die wêreld ons nog altyd vyandiggesind is en dat daardie vyandigheid te eniger tyd kan opvlam.

10 Hoe behoort dit ons te raak? Al hierdie dinge het heel tereg ’n uitwerking op ons denke en op ons uitkyk op die toekoms. In watter opsig? Moet dit ons senuweeagtig laat voel, bevrees oor wat ons dalk sal moet verduur? Moet ons minder in die predikingswerk begin doen omdat dit party in ons gemeenskap dalk grief? Het ons grondige rede om ontsteld te wees wanneer leuenagtige aantygings teen ons gemaak word? Is dit onvermydelik dat wrede behandeling ons ons vreugde in Jehovah se diens sal ontneem? Is ons onseker oor wat die toekoms inhou? Nee, beslis nie! Waarom nie?

11 Ons moet nooit die feit uit die oog verloor dat die boodskap wat ons verkondig van Jehovah af kom en nie van ons af nie (Jer. 1:9). Ons staan onder verpligting om op hierdie vermaning ag te slaan: “Roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend ... op die hele aarde” (Jes. 12:4‚ 5). Hy het die vervolging van sy volk om ’n spesifieke rede geduld, naamlik ‘dat hulle sy Naam op die hele aarde kan verkondig’ (Ex. 9:16). Ons doen ’n werk wat Jehovah ons beveel het om te doen, en hý gee ons die moed om met vrymoedigheid te spreek (Hand. 4:29-31). Dit is die belangrikste, nuttigste en dringendste werk wat in hierdie laaste dae van die ou stelsel gedoen kan word.

12 Hierdie wete gee ons die moed om ’n ferm standpunt teen Satan en hierdie wêreld in te neem (1 Pet. 5:8‚ 9). Die wete dat Jehovah met ons is, maak ons “sterk en vol moed” en verdryf enige vrees wat ons voor ons vervolgers ondervind (Deut. 31:6; Hebr. 13:6). Hoewel ons altyd sal probeer om taktvol, redelik en oordeelkundig op te tree wanneer ons deur vervolgers gedreig word, sal ons dit duidelik stel dat ons vasbeslote is om ‘aan God meer gehoorsaam te wees as aan mense’ wanneer ons aanbidding in die gedrang kom (Hand. 5:29). Wanneer die geleentheid hom voordoen om iets tot ons verdediging te sê, sal ons dit doen (1 Pet. 3:15). Ons sal egter nie ons tyd mors deur met verstokte teenstanders te redeneer wat net daarop uit is om ons in ’n slegte lig te stel nie. In plaas van kwaad te word of te probeer om met gelyke munt te betaal wanneer hulle ons beswadder of valse aantygings teen ons maak, sal ons hulle eenvoudig ‘laat staan’.—Matt. 15:14.

13 Dit behaag Jehovah wanneer ons ondanks beproewinge volhard (1 Pet. 2:19, NW). Watter prys moet ons vir daardie goedkeuring betaal? Moet ons ons daarin berus dat ons sonder vreugde moet dien omdat ons gehaat en teëgestaan word? Glad nie! Jehovah belowe om ons gehoorsaamheid met “blydskap en vrede” te beloon (Rom. 15:13). Jesus het ten spyte van intense lyding gelukkig gebly vanweë “die vreugde wat Hom voorgehou is” (Hebr. 12:2). Dieselfde geld vir ons. Omdat die beloning vir ons volharding so groot is, word ons beweeg om ons ten spyte van swaar beproewinge ‘te verbly en te verheug’ (Matt. 5:11‚ 12). Selfs wanneer ons moeilike tye deurmaak, is hierdie vreugde op sigself ’n rede om Jehovah te loof en te eer ter ondersteuning van die Koninkryksboodskap.

14 Is daar enige onsekerheid oor die finale uitslag wat ons rede gee om bevrees of weifelagtig te wees? Nee, die uitslag van die stryd tussen Jehovah se organisasie en Satan se wêreld is lank gelede reeds beslis (1 Joh. 2:15-17). Ongeag hoe intens of hoe groot die teëstand is, Jehovah sal ons die oorwinning gee (Jes. 54:17; Rom. 8:31‚ 37). Al word ons tot die uiterste toe beproef, kan niks verhinder dat ons die beloning ontvang nie. Ons het geen rede om ‘oor enigiets besorg te wees nie’, want Jehovah gee ons vrede in antwoord op ons smekinge.—Filip. 4:6‚ 7.

15 Ons dank Jehovah dus elke keer wanneer ons verslae hoor van ons broers wat van vervolging bevry is of die vryheid toegestaan is om in gebiede te preek waar dit in die verlede verbode was. Ons is verheug wanneer veranderende omstandighede nuwe geleenthede vir duisende opregtes skep om met die Koninkryksboodskap in aanraking te kom. Ons is innig dankbaar wanneer Jehovah ons die oorwinning in konfrontasies met kwaadwillige teenstanders gee. Ons weet dat hy ons werk sal seën en voorspoedig sal maak in watter opsig dit ook al nodig is om sy huis van ware aanbidding te verhef en die “begeerlike” mense van al die nasies ’n geleentheid te gee om dit binne te gaan.—Hag. 2:7,NW; Jes. 2:2-4.

16 Ons is terselfdertyd terdeë daarvan bewus dat ons vyand, Satan, baie magtig is en dat hy ons reg tot die einde toe onvermoeid gaan teëstaan. Hy kan openlike aanvalle gebruik, of hulle kan subtiel en bedrieglik wees. Vervolging kan skielik op plekke opvlam waar ons in die verlede net vrede ondervind het. Kwaadwillige teenstanders sal moontlik genadeloos en meedoënloos wees in hulle pogings om ons ten onregte te onderdruk. Mettertyd sal dit vir hulle almal duidelik word dat hulle in werklikheid “teen God stry”, en hy sal hulle verdelg (Hand. 5:38‚ 39; 2 Thess. 1:6-9). Intussen is ons vasbeslote om standvastig te bly in ons lojale diens aan Jehovah en in die verkondiging van die Koninkryksboodskap, ongeag wat ons moet verduur. Ons is die gelukkigste mense op die ganse aarde, want ons weet ‘as ons die toets deurstaan het, sal ons die kroon van die lewe ontvang’.—Jak. 1:12.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel