Hoe nuttig is dit tog om te vertel wat Jehovah gedoen het!
1 Die geïnspireerde skrywer van Psalm 48 het diegene in Israel aangespoor om ‘rondom Sion te gaan, sy torings te tel, sy versterkings te bekyk, sodat hulle dit aan ’n volgende geslag kon vertel’. Wanneer hulle deur ’n liefde vir Jehovah beweeg is, sou hulle intens belangstel in elke besonderheid van daardie aardse sentrum van teokratiese heerskappy. Hoe kosbaar sou hierdie besonderhede tog wees, aangesien dit die stad was waarop Jehovah sy eie naam geplaas het! Hulle sou daaroor praat, en hulle sou veral seker maak dat hulle kinders hoor van al die dinge wat hulle in hulle eie hart as ’n skat bewaar het.—Ps. 48:13, 14,NAV.
2 Ons lewe nou in die tyd wanneer die teokratiese heerskappy van Jehovah se Messias nie langer in die aardse Sion gesetel is nie, maar in die hemelse Jerusalem (Hebr. 12:22). Jehovah se Koninkryk in die hande van Jesus Christus is reeds sedert 1914 aan bewind (Openb. 12:10). Die bedrywighede van daardie Koninkryk is vir ons van die allergrootste belang. Ons stel ook intens belang in die manier waarop Jehovah sy knegte op aarde lei sodat hulle sy wil as sigbare verteenwoordigers van daardie Koninkryk kan uitvoer. Interessante besonderhede in hierdie verband verskyn in ons nuwe boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk. Hoe verheug was ons tog toe ons dit by ons onlangse “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms ontvang het!
3 Teen 1September was die boek reeds in 20 tale uitgegee en was die broers besig om die boek te vertaal en te druk om in die behoeftes van 13 ander taalgroepe te voorsien. Het julle huisgesin ’n eksemplaar bekom? Lees julle dit? Praat julle oor die dinge wat julle daarin leer?
4 Baie broers en susters het, nadat hulle na die prente gekyk en die byskrifte gelees het, soos daar by die byeenkoms voorgestel is, dadelik die dieper materiaal begin lees. Wat is hulle kommentare? Hier is net ’n paar.
5 ’n Suster het geskryf: “Dit is die enigste boek wat ek nog ooit ontvang het wat ek nie kan wag om deur te lees sodat ek weer van voor af kan begin nie. Ek is nou by hoofstuk25. Hoe meer ek lees, hoe meer rol die trane en loop my hart oor van liefde vir Jehovah. Die boek is so bemoedigend en geloofversterkend.”
6 ’n Broer wat Jehovah al meer as 40 jaar dien, het gesê: “Ek sou nooit kon dink dat hierdie boek so boeiend sou wees nie. Ek het laat opgebly en vroeg opgestaan en dit binne twee weke deurgelees. Dit is waarlik een van die roerendste boeke wat ek nog gelees het. Dit is ’n meesterstuk van navorsing, maar ook ’n meesterstuk van bemoediging.”
7 ’n Gereelde leesprogram: Party wat die hele boek vinnig deurgelees het, het besluit om dit weer deur te lees, maar hierdie keer teen ’n stadiger pas.
8 As daar meer as een van jou gesinslede in die waarheid is, kan julle dalk gedeeltes van die boek in julle gesinstudie gebruik. Sommige gesinne het dit binne ’n paar dae nadat hulle ’n eksemplaar by die byeenkoms ontvang het, begin doen. Dit beteken nie dat ander dinge, soos die voorbereiding vir die Wagtoring-studie, agterweë gelaat moet word nie. Maar julle sal dit baie nuttig vind om dalk ’n bykomende 15 of 20 minute te gebruik om materiaal in die Verkondigers-boek te lees en te bespreek.
9 Ander gesinne lees elke aand twee of drie bladsye—miskien een of twee tussenhofies—voordat hulle van die etenstafel opstaan. Hulle het moontlik reeds ’n groot gedeelte van die boek persoonlik gelees, maar vind nou baat by ’n stadiger pas sowel as by die geleentheid om die materiaal te bespreek. Sommige wat hiermee besig is, dien Jehovah al baie jare lank. Wanneer hulle lees, wek dit talle goeie herinneringe. Dit verbly hulle hart wanneer hulle hulle eie aandeel aan die gebeure waarvan hulle lees saam bespreek.
10 Weens jou huislike omstandighede moet jy dalk op jou eie lees. ’n Suster wat aan die Genootskap geskryf het, het gesê: “Ek lees elke aand ’n stukkie in hierdie boek voor ek gaan slaap. Hierdie boek bou ’n dieper waardering en liefde vir die waarheid in my, en ek voel nader aan Jehovah en is so dankbaar dat ek aan sy organisasie behoort. Ek geniet werklik elke bladsy wat ek lees.”
11 Hoewel dit ’n dik boek is, is die afsonderlike afdelings nie lank nie. Die inleidende afdeling is ’n vinnige maar interessante oorsig van gebeure van Abel se tyd af tot en met 1992—in net 108 bladsye. Ander afdelings is tussen 13 en 150 bladsye lank. Elkeen van hierdie afdelings is in ’n aantal hoofstukke opgedeel. Moenie daardeur jaag nie, maar neem eerder een afdeling, een hoofstuk of een tussenhofie op ’n slag en put genot en voordeel daaruit.
12 Neem tyd om na te dink oor wat jy lees: Wat gaan jou doelwit wees terwyl jy lees? Dit moenie wees om net bladsye te dek—om die boek deur te lees—nie. Die Verkondigers-boek bevat ’n verslag van jou geestelike erfenis. Jy behoort goed daarmee vertroud te wees. Neem tyd om na te dink oor die belangrikheid van wat jy lees. Wanneer jy die bedrywighede van Jehovah se vroeë getuies hersien, kan jy dink aan hoe jy hulle geloof kan navolg (Hebr. 12:1‚ 2). Wanneer jy omtrent die ontwikkeling van die groot afvalligheid lees, kan jy veral let op die strikke waarin diegene gevang is wat afvallig geword het, sodat dit as ’n beskerming vir jou eie geestelikheid kan dien. En wanneer jy omtrent ons hedendaagse geskiedenis lees, kan jy let op die geestelike eienskappe van diegene wat deur God gebruik is, hoe hulle getoon het dat dit die belangrikste ding in hulle lewe was om God se wil te doen en hoe hulle gereageer het in situasies—waarvan sommige baie moeilik was—wat God toegelaat het om oor hulle te kom.—Hebr. 13:7.
13 Dit sal jou geloof versterk om die besonderhede te ondersoek van hoe Jehovah sy volk tot die duidelike begrip van Bybelwaarheid gelei het wat ons nou geniet. Jou waardering vir die sigbare reëling wat Jehovah gebruik, sal toeneem wanneer jy beter vertroud raak met die ontwikkeling van die organisasie. Jy sal ongetwyfeld opgewonde raak wanneer jy lees hoe die goeie nuus, ter vervulling van profesieë, die uithoeke van die aarde bereik het. Die ondervindinge van getroues uit alle wêrelddele wat ywerig gewerk het om die Koninkryk te verkondig, sal jou hart verbly. Wanneer jy lees wat getroue broers en susters al moes verduur omdat hulle Jehovah liefhet, sal dit jou versterk om persoonlike beproewinge met welslae die hoof te bied.
14 Nadat julle ’n gedeelte van die materiaal gelees het, moet julle tyd neem om saam die waarde daarvan te bespreek en die besonderhede te hersien. As julle jong kinders het, kan julle hulle daarin betrek deur hulle te vra om die prente te verduidelik en julle te vertel wat hulle van die mense in die prente weet. Al lees jy op jou eie, kan jy probeer om ander te vertel van die dinge wat jy leer. Waar dit gepas is, kan jy die materiaal tydens herbesoeke gebruik sowel as wanneer jy tuisbybelstudies hou. Wanneer jy die inligting herhaal, sal dit ’n dieper indruk op jou eie verstand en hart maak, en ander sal ook daarby baat vind.
15 Let op die besonderhede: Die tyd wat jy gebruik om die Verkondigers-boek te lees, moet genotvol sowel as lonend wees.
16 Wil jy graag hê dat jou gesin die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies moet besoek? Die fasiliteite wat die Genootskap ’n eeu gelede in die Pittsburgh-omgewing gebruik het, verskyn op bladsye 208-9. Die geboue wat later in Brooklyn gebruik is, verskyn op bladsye 216-17. Die foto’s op bladsye 352-6 kan jou help om te visualiseer hoe die wêreldhoofkwartier vandag lyk. Hoofstukke 26 en 27 verskaf besonderhede oor die werk wat by Bethel gedoen word, en bladsye 295-8 verskaf verdere inligting oor Bethellewe.
17 Die meeste van ons is nie in die posisie om baie van die Genootskap se takke te besoek nie. Bladsye 357-401 van die Verkondigers-boek neem jou op ’n wêreldtoer. Daar is geen rede om haastig te wees nie. Bring ’n bietjie tyd in elke land deur en geniet dit. Gebruik die wêreldkaart op bladsye 415-17 om te sien waar elke plek geleë is. Lees die kommentare wat langs die prent van elke takkantoor verskyn. Jy kan ook ander interessante inligting oor elke land deur middel van die saakregister opspoor. Gebruik hierdie geleentheid om die lede van jou geestelike gesin in ander lande te leer ken.
18 Wanneer mense sosiaal saam verkeer, speel hulle dikwels speletjies wat te doen het met ’n mens se kennis van sekulêre feite. Sou dit nie baie nuttiger wees om die belangrike datums en gebeurtenisse in die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se volk te leer ken nie? Jy sal baie van hierdie feite in die lys op bladsye 718-23 in die Verkondigers-boek aantref. Daardie lys voorsien ’n basiese raamwerk; jy kan feite daarby voeg uit die besonderhede wat in die res van die boek aangetref word. Gebruik dit as ’n grondslag vir hersiening. Die jongeres in die gesin sal hulle waarskynlik gou kan memoriseer. Party van ons wat ouer is, sal dalk ’n bietjie langer neem. Maar hierdie is feite aangaande die teokratiese geskiedenis wat vir ons almal nuttig sal wees om te weet. Nadat jy die datums en basiese feite geleer het, kan jy op daardie grondslag voortbou. Kyk hoeveel besonderhede jy oor elke gebeurtenis kan onthou. Gesels dan met mekaar oor watter rol elke gebeurtenis in die uitvoering van God se wil gespeel het. Bespreek daarna hoe dit jou eie lewe geraak het en hoe jy inpas in die dinge wat Jehovah doen.
19 Sien die geleenthede wat vir jou beskikbaar is: Wanneer jy Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk lees en bespreek, sal jy sien hoe die luisterryke vervulling van Jesaja 60:22 (NW) voor jou ontvou word. Die boek sê op bladsy 519: “Die belofte dat ‘die kleine duisend sal word’, is ongetwyfeld vervul, en op reuseskaal! In elk van meer as 50 lande waar daar nie eers ’n ‘kleine’ was nie—waar daar in 1919 geen Getuies van Jehovah was nie, waar hulle nog glad nie gepreek het nie—is daar vandag meer as duisend lowers van Jehovah. In party van hierdie lande is daar nou tienduisende, ja, selfs meer as honderdduisend, Getuies van Jehovah wat ywerige verkondigers van God se Koninkryk is! Jehovah se Getuies het wêreldwyd ‘’n magtige nasie’ geword—as ’n verenigde wêreldwye gemeente is hulle meer as die afsonderlike bevolking van ten minste 80 selfbesturende lande van die wêreld.”
20 Die werk van Koninkryksvermeerdering is beslis nog nie voltooi nie. Inteendeel, Jehovah het dit in ’n ongeëwenaarde mate bespoedig. In watter mate gaan jy ’n aandeel daaraan hê? Is jy werklik bewus van al die geleenthede wat aan jou beskikbaar is? Mag jy, wanneer jy sien wat ander doen, deur jou eie hart beweeg word om ook ’n volle aandeel te hê aan die groot werk wat ons liefdevolle God in ons dag deur middel van Jesus Christus rig.