Berei Bybelstudente vir die bediening voor
1 Wanneer ons Bybelstudies hou, is ons einddoel om nuwe dissipels te maak, werkers wat by ons sal aansluit om ander te onderrig (Matt. 28:19). Die doel van die studie is dus nie net om kennis oor te dra nie; dit moet opregte geloof by ons studente aankweek en hulle daarop voorberei om hulle hoop aan ander bekend te maak (2 Kor. 4:13). Op watter praktiese maniere kan ons hulle help om bekwaam te word om ander te onderrig?—2 Tim. 2:2.
2 Hou die bediening as ’n doelwit voor: Maak dit reg van die begin af duidelik dat ware aanbidding “openbare bekendmaking tot redding” behels (Rom. 10:10, NW). Selfs ons naam, Jehovah se Getuies, impliseer dat ons met ander moet praat. Help hulle om te sien dat hulle nie net ter wille van hulle eie redding onderrig word nie. Wanneer hulle self onderrigters word, het diegene wat na hulle luister ook ’n geleentheid om gered te word.—1 Tim. 4:16.
3 Hersien wat geleer is: Gereelde hersiening van wat geleer is, is ’n waardevolle leermiddel. Dit help die student om geestelik te groei namate nuwe waarhede wat hy leer diep in sy verstand en hart gewortel raak. Ons ondervind dit self wanneer ons die hersieningsvrae beantwoord wat deel uitmaak van die Wagtoring-studie. Berei eenvoudige, direkte vrae vir jou student voor wat hy in sy eie woorde kan beantwoord.
4 Jy kan ’n velddiensagtergrond vir jou hersiening gebruik. Stel ’n vraag of beskryf ’n tipiese situasie wat gewoonlik voorkom wanneer daar vir ander getuig word. Laat jou student demonstreer wat hy sou sê, met jou in die rol van die huisbewoner. Prys hom vir wat hy goed gedoen het en gee praktiese wenke wat hom sal help om volgende keer selfs meer welslae te behaal. Hierdie opleiding sal hom leer hoe om dit wat hy al geleer het, te gebruik en om al hoe bekwamer te raak in sy gebruik van die Bybel.
5 Redenering-boek: Maak seker dat jou student ’n eksemplaar van die Redenering-boek het en leer hom om dit te gebruik. Wys jou student watter wenke daarin gegee word om gesprekke te begin, Bybelvrae te beantwoord of besware te oorbrug. Gebruik die boek tydens die studie om te toon hoe ’n mens op ’n oortuigende manier met ander kan praat. Hierdie boek kan jou student se vertroue opbou en sy inisiatief vergroot om die Koninkryksboodskap aan ander bekend te maak.
6 Beklemtoon die belangrikheid van die vergaderinge: Die doel van gemeentelike vergaderinge, veral die Diensvergadering en die Teokratiese Bedieningskool, is om ons vir velddiens voor te berei. Al die grondbeginsels van doeltreffende getuieniswerk word hersien en deur diegene gedemonstreer wat ervare en bedrewe daarin is. Beklemtoon die belangrikheid van die vergaderinge en doen wat jy kan om jou student te help om dit by te woon. Gereelde bywoning kan jou student die nodige aansporing gee om ’n ware dissipel van Jesus te word.
7 Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is jou eie voorbeeld. Jou bereidwilligheid en gereeldheid in die predikingswerk toon jou innige waardering vir die waarheid. Só ’n voorbeeld moedig jou student aan om meer te doen om bewys van sy geloof te lewer (Luk. 6:40, NW). Dit alles kan ’n nuweling help om die bediening as ’n voorreg te beskou en om dankbaar te wees om ’n aandeel daaraan te hê.—1 Tim. 1:12.