Behou ’n positiewe gesindheid
1 Hoe bly is ons tog wanneer ons lees van die wonderlike groei wat in baie lande plaasvind! Nogtans besef ons dat Koninkryksverkondigers in sommige gebiede dikwels met onverskilligheid, ’n gebrek aan belangstelling of selfs openlike teëstand teen ons predikingswerk te kampe het. Hoe kan ons ’n positiewe gesindheid behou as dit in ons gebied die geval is? Hoe kan ons ’n negatiewe gesindheid vermy wat ons van ons vreugde kan beroof of ons ywer vir die dissipelmaakwerk kan demp?
2 ’n Positiewe gesindheid sal ons help om gebalanseerd te bly. Selfs onder moeilike omstandighede moet ons nie toelaat dat negatiewe denke ons beskouing oorheers nie. Jesus het die volmaakte voorbeeld vir ons gestel. Betreklik min mense het aanvaar wat hy hulle geleer het. Baie is deur sy lering gestruikel. Hy het te staan gekom voor situasies wat sy volharding swaar beproef het. Godsdiensleiers het sy werk gekritiseer en planne beraam om hom dood te maak. Daar is op hom gespoeg, hy is geklap, gespot, geslaan en uiteindelik doodgemaak. Nogtans het hy vreugde geput uit die werk wat hy gedoen het. Waarom? Hy het besef hoe belangrik dit is om God se wil te doen, en hy het nie moed opgegee nie.—Joh. 4:34; 13:17; Hebr. 12:2.
3 Handhaaf die regte beskouing van ons bediening: Ons moet verskeie faktore in gedagte hou as ons dit wil doen. Onthou dat ons ’n boodskap het wat deur die meeste mense geïgnoreer of teëgestaan word (Matt. 13:14, 15). Hoewel die apostels amptelik beveel is om op te hou om in Jesus se naam te leer, het hulle getrou gebly aan hulle opdrag om te preek, en die getal dissipels het voortdurend vermeerder (Hand. 5:28,29; 6:7). Ons weet vooraf dat betreklik min mense in sommige gebiede sal luister (Matt. 7:14). Daarom het ons rede tot blydskap as net een persoon in ons gebied na ons boodskap luister. Hou ook in gedagte dat selfs diegene wat teëstand bied ’n geleentheid moet kry om te hoor (Eseg. 33:8). Party teenstanders verander uiteindelik en word aanbidders van Jehovah.Wanneer ons die regte beskouing het, gee ons bediening ons die gevoel dat ons iets bereik het, selfs al luister net ’n paar mense. Net die feit dat ons met die boodskap van God se Koninkryk by mense se huise aanklop, is ’n getuienis.—Eseg. 2:4,5.
4 Ons het goeie rede om ’n positiewe beskouing te hê. Die vooruitgang van die wêreldwye werk en die toenemende bewyse dat die groot verdrukking naby is, behoort ons almal te beweeg om ons uiterste bes te doen om ons diens met godvrugtige toegewydheid te verrig (2 Pet. 3:11,14). ’n Ywerige deelname gedurende Augustus sal ’n goeie manier wees om ons waardering te toon vir wat ons geleer het. Ons wil ook hê dat nuwelinge ’n positiewe gesindheid moet toon deur gebruik te maak van wat hulle geleer word. As sommige van ons Bybelstudente vordering gemaak het en gereed is om ongedoopte verkondigers te word, is Augustus moontlik ’n uitstekende tyd vir hulle om velddiens te begin doen.
5 Of ons nou as verkondigers of as pioniers dien, dit help ons almal as ons in gedagte hou dat Jehovah se vereistes nie swaar is nie (1 Joh. 5:3). Hy beloof om ons te onderskraag (Hebr. 13:5b, 6). Ten spyte van ’n openlike gebrek aan belangstelling, onverskilligheid of teëstand moet ons positief wees en met die predikingswerk volhou omdat dit God se wil is dat ons dit doen.—1 Tim. 2:3,4.