Hoe sal hulle hoor tensy ons teruggaan?
1 “Hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” (Rom. 10:14). Ja, hoe sal hulle die betekenis van die waarheid verstaan tensy ons doeltreffende herbesoeke doen? Ons behoort terug te gaan na elke huisbewoner met wie ons oor die Koninkryksboodskap gepraat het. Ons kan hierdie maand ons aanvanklike gesprekke opvolg met bykomende skriftuurlike gedagtes uit die boekie wat ons by hulle gelaat het, en dit kan moontlik tot ’n Bybelstudie lei.
2 As jy die boekie “’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind” by iemand gelaat het, kan jy ’n gesprek wat tot ’n Bybelstudie kan lei soos volg begin. Jy kan na die voorblad wys en vra:
◼ “Sou jy graag in ’n wêreld wou woon waar ’n veilige toekoms vir jou en jou gesin gewaarborg is? [Laat huisbewoner antwoord. Blaai dan na paragraaf 2.] Dit is ons almal se begeerte, maar baie twyfel of dit ooit moontlik sal wees. Vir God, wat belowe om dit te verwesenlik, is dit nie onmoontlik nie.” Lees Jesaja 32:17,18 waar dit in paragraaf 2 aangehaal word of lees dit in jou Bybel. Gaan dan voort en verduidelik dat daar mense dwarsdeur die wêreld is wat reeds die vreugde en gemoedsrus geniet wat met ’n vaste hoop op die toekoms gepaardgaan. Bespreek die skriftuurlike gedagtes in paragraaf3, en verduidelik dan hoe ’n studie van die boekie die huisbewoner kan help om meer te leer. As die persoon belangstelling toon, kan jy reëlings tref om so gou moontlik terug te gaan om die bespreking voort te sit.
3 Wanneer jy teruggaan nadat jy die boekie “Is daar ’n God wat omgee?” by die huisbewoner gelaat het, sal die volgende dalk doeltreffend wees:
◼ “Toe ek laas hier was, het ons gesels oor die vraag: Is daar ’n God wat omgee? Dink jy God gee genoeg vir ons om dat hy ’n einde aan lyding en geweld sal maak? [Nadat die persoon geantwoord het, kan jy na paragraaf 32 blaai en voortgaan.] God het belowe om hierdie goddelose wêreld met ’n nuwe wêreld te vervang waarin goeie mense sal woon wat in vrede sal kan lewe. [Lees Psalm 37:11.] Ek en jy kan ook die lewe in daardie nuwe wêreld geniet as ons die Bybel glo en die raad daarin toepas.” Verduidelik die program wat ons het om mense te help om die Bybel te bestudeer.
4 Wanneer jy ’n herbesoek doen waar jy die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut” gelaat het, kan jy begin deur vir die huisbewoner die prent op die voorblad te wys en dan te vra:
◼ “Hoe dink jy sal dit wees om in ’n volmaakte wêreld te lewe? [Laat huisbewoner kommentaar lewer.] Dit wat jy in hierdie prent sien, is nie bloot ’n illusie nie; dit is gebaseer op die onfeilbare beloftes in die Bybel. [Lees Openbaring 21:4 en Psalm 37:11,29.] Ek wil graag verduidelik hoe jy en jou gesin hierdie seën kan geniet.” As die huisbewoner belangstelling toon, kan jy die bespreking voortsit en ’n Bybelstudie aanbied.
5 Wanneer ons opregte mense teëkom wat na die waarheid soek, betoon ons ons opregte liefde deur na hulle toe terug te gaan en hulle te help om op te tree in ooreenstemming met wat hulle gehoor het. Ons gebruik die heilige waarhede wat aan ons toevertrou is sodat ons sowel as diegene wat na ons luister ewige seëninge kan smaak.—1 Tim. 4:16.