Hoe om julle kinders teen die misbruik van bloed te beskerm
1 “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE” (Ps. 127:3). As julle so ’n kosbare erfdeel van Jehovah het, het julle, as ouers, ’n wonderlike maar ernstige verantwoordelikheid om julle kinders te onderrig, vir hulle te sorg en hulle te beskerm. Het julle byvoorbeeld elke redelike stap gedoen om julle jong kinders teen ’n bloedoortapping te beskerm? Hoe sal julle kinders reageer as hulle dalk ’n bloedoortapping moet kry? Het julle al as ’n gesin bespreek hoe julle ’n noodsituasie waar daar met ’n bloedoortapping gedreig word met welslae die hoof sal bied?
2 Om julle gesin vir sulke situasies voor te berei, hoef nie ’n rede tot kommer of oormatige spanning te wees nie. Julle kan nie elke gebeurlikheid in die lewe voorsien en daarvoor voorberei nie, maar daar is baie wat julle, as ouers, vooraf kan doen om julle kinders teen ’n bloedoortapping te beskerm. As julle hierdie verantwoordelikhede verwaarloos, kan dit daartoe lei dat julle kind tydens mediese behandeling ’n bloedoortapping ontvang. Wat kan gedoen word?
3 Vaste oortuiging belangrik: Julle moet ernstig nadink oor hoe vas julle eie oortuiging oor God se wet ten opsigte van bloed is. Leer julle julle kinders om Jehovah in hierdie saak te gehoorsaam, net soos julle hulle sy wet ten opsigte van eerlikheid, sedelikheid, neutraliteit en ander aspekte van die lewe leer? Voel ons werklik soos God se wet in Deuteronomium 12:23 beveel het: “Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie”? Vers 25 voeg by: “Jy mag dit nie eet nie, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan as jy doen wat reg is in die oë van die HERE.” ’n Dokter sê dalk dat bloed dinge vir julle siek kind ‘goed sal laat gaan’, maar julle moet vóór enige noodgeval reeds vasbeslote wees om bloed vir julle en julle kinders te weier en julle verhouding met Jehovah as iets hoërs te beskou as enige sogenaamde verlenging van die lewe wat tot die verbreking van sy Goddelike wet sal lei. God se goedkeuring nou en die ewige lewe in die toekoms is daarby betrokke!
4 Ja, Jehovah se Getuies wil lewe. Hulle het geen begeerte om te sterf nie. Hulle wil lewe sodat hulle Jehovah kan loof en sy wil kan doen. Dit is een rede waarom hulle na hospitale toe gaan en hulle kinders vir behandeling daarheen neem. Hulle vra geneeshere om hulle te behandel, en wanneer daar vir hulle gesê word dat bloed die standaardbehandeling is of dat dit die behandeling is wat medies vereis word, vra hulle om mediese behandeling met alternatiewe bloedlose middels. Daar is baie alternatiewe middels vir bloed. Ervare geneeshere gebruik dit. Sulke alternatiewe middels is nie kwaksalwersmiddels nie, maar bestaan uit medies betroubare behandelings en metodes wat in toonaangewende mediese tydskrifte opgeteken is. Duisende geneeshere dwarsdeur die wêreld werk met ons saam deur goeie mediese behandeling sonder die gebruik van bloed te voorsien, hoewel dit soms steeds ’n probleem is om geneeshere te vind wat Getuiekinders sonder die gebruik van bloed sal behandel.
5 Soek ’n tegemoetkomende dokter: Geneeshere het baie dinge waarmee hulle rekening moet hou wanneer hulle pasiënte behandel, en wanneer julle hulle vra om julle kind sonder bloed te behandel, vergroot dit die uitdaging. Party geneeshere sal daartoe instem om volwassenes te behandel en hulle versoek ten opsigte van bloed te respekteer solank ’n aanvaarbare vorm ingevul word wat hulle van aanspreeklikheid vrystel. Sommige sal eweneens daartoe inwillig om minderjariges te behandel wat bewys het dat hulle volwasse minderjariges is, aangesien sommige howe al erken het dat volwasse minderjariges die reg het om hulle eie mediese keuses te doen. (Sien Die Wagtoring, 15 Junie 1991, bladsye 16-17, vir ’n bespreking van wat ’n volwasse minderjarige is.) Maar geneeshere kan weier om klein kindertjies, veral babas, te behandel tensy hulle toestemming het om ’n bloedoortapping te gee. Trouens, daar is baie min geneeshere wat ’n mens die volle versekering sal gee dat hulle onder geen omstandighede bloed sal gebruik wanneer hulle ’n kind behandel nie. Die meeste dokters meen dat hulle om mediese en wettige redes nie so ’n waarborg kan gee nie. Nogtans is al hoe meer van hulle bereid om die kinders van Jehovah se Getuies te behandel en sal hulle alles doen wat hulle meen hulle gewete hulle toelaat sodat hulle ons wense ten opsigte van bloed kan respekteer.
6 Gestel dat julle, in die lig hiervan, in julle soektog na ’n gepaste dokter vir julle kind een vind wat daarvoor bekend is dat hy goed met Jehovah se Getuies saamwerk en wat in die verlede vir ander Getuies dieselfde bloedlose behandeling gegee het, maar hy meen dat die wet hom nie toelaat om onvoorwaardelik te waarborg dat bloed nie gebruik sal word nie? Hy gee julle egter die versekering dat daar hierdie keer ook nie ’n probleem behoort te wees nie. Julle besluit miskien dat dit julle beste keuse is. Julle dink dalk dat julle onder hierdie omstandighede toestemming kan gee dat hy voortgaan. Maar stel dit baie duidelik dat julle, hoewel julle toestemming tot mediese behandeling vir julle kind gee, nie toestemming tot bloedoortappings gee nie. Hierdie besluit is julle verantwoordelikheid en ander mag nie dink dat julle ’n kompromis aangegaan het nie.
7 As julle natuurlik ’n redelike, alternatiewe keuse van behandeling kan vind wat die kanse dat bloed gebruik sal word nog kleiner sal maak of dit heel moontlik sal uitskakel, sal julle waarskynlik die weg volg wat die minste gevaar inhou. Julle moet natuurlik ’n ywerige poging aanwend om die geneesheer of chirurg te vind wat bereid is om verder as enigiemand anders te gaan in sy ooreenkoms om nie bloed te gee nie. Die beste verdediging is om probleme te verwag. Probeer alles in julle vermoë om vooraf ’n tegemoetkomende dokter te vind. Probeer waar moontlik wegbly van ontegemoetkomende dokters en hospitale.
8 Nog ’n faktor wat in sommige lande kan bepaal of ’n bloedoortapping gegee sal word, is die wyse waarop daar vir hospitaalbehandeling betaal gaan word. Waar ouers mediese versekering of ander sekuriteit het sodat hulle ’n dokter kan kies, kan die kinders makliker uit die hande van ontegemoetkomende geneeshere of hospitaalpersoneellede gehou word. Toereikende finansiële dekking bepaal dikwels watter soort diens en samewerking die gesin van dokters en hospitale kry. Dit hang dikwels ook af van die ouers se vermoë om vir behandeling te betaal of ’n hospitaal of geneesheer bereid sal wees dat ’n kind na hulle oorgeplaas word. En dit is belangrik dat toekomstige moeders gedurende hulle swangerskap na hulle gesondheid omsien! Dit sal baie help om vroeggeboortes en die gepaardgaande komplikasies te verhoed, aangesien daar dikwels bloed by die standaardbehandeling vir vroeggebore babas en hulle probleme betrokke is.
9 Soms kla geneeshere dat Jehovah se Getuies hulle besware teen bloed eers ter elfder ure bespreek. Dit moet nooit die geval wees nie. Een van die eerste dinge wat Getuie-ouers moet doen wanneer hulle hospitaal toe gaan of wanneer hulle van die dienste van ’n geneesheer gebruik maak, is om hulle standpunt ten opsigte van bloed te bespreek. As daar chirurgie by betrokke is, moet julle lank voor die tyd met die narkotiseur praat. Die chirurg kan julle dalk hiermee help. Die toelatingsvorms moet sorgvuldig nagegaan word. Julle het die reg om enigiets te skrap waarteen julle beswaar het. Om enige twyfel uit die weg te ruim, moet julle duidelik op die toelatingsvorm skryf dat bloed om godsdienstige en mediese redes onder geen omstandighede gewens of toelaatbaar is nie.
10 Hulp van Jehovah se organisasie: Watter voorsienings het Jehovah se organisasie gemaak om julle te help om julle kinders teen bloed te beskerm? Daar is baie. Die Genootskap het al baie gepubliseer om ons oor bloed en bloedlose alternatiewe middels in te lig. Julle het die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red? en ander publikasies oor hierdie onderwerp bestudeer. En julle het julle broers en susters in die plaaslike gemeente wat julle baie hulp en ondersteuning kan gee. Wanneer daar ’n krisis is, besluit die ouere manne moontlik dat dit raadsaam is om te reël dat daar 24 uur per dag iemand by die hospitaal is, verkieslik ’n ouere man en een van die pasiënt se ouers of ’n ander intieme familielid. Bloedoortappings word dikwels gegee wanneer alle familielede en vriende huis toe is vir die nag.
11 In Suid-Afrika en die naburige lande is daar altesaam 12 Hospitaalskakelkomitees in die groot stede. Alle gemeentes is aangewys na ’n komitee wat bestaan uit opgeleide broers wat beskikbaar is om te help. Julle kan deur julle ouere manne met hulle in aanraking kom wanneer julle hulle hulp nodig het. Hulle moenie oor klein probleempies geskakel word nie, maar julle moenie te lank wag as dit lyk of daar ’n ernstige probleem ontstaan nie. Hulle kan dikwels die name van tegemoetkomende geneeshere voorsien asook wenke oor alternatiewe middels. Indien dit nodig en moontlik is, moet julle reël dat hierdie broers teenwoordig is sodat hulle die probleem kan help oplos.
12 Hoe om betrokkenheid deur ’n hof te voorsien en te hanteer: Gestel ’n dokter of ’n hospitaal besluit om ’n hofbevel te kry sodat hulle julle kind ’n oortapping kan gee? Is dit die tyd om op te gee en aan te neem dat niks meer gedoen kan word nie? Geensins nie! Dit is dalk nog moontlik om ’n oortapping te voorkom. Voorbereidsels vir so ’n moontlikheid moet vooraf getref word. Wat kan gedoen word?
13 As julle party van die wetlike beginsels verstaan waardeur hospitale en regters in hierdie saak gelei of beïnvloed word, sal dit julle grootliks in julle verdediging help. Een so ’n beginsel wat van wesenlike belang is, is die feit dat die wet ouers nie onbeperkte gesag gee om mediese behandeling vir hulle kinders te aanvaar of te weier nie. Hoewel volwassenes gewoonlik die reg het om mediese behandeling te aanvaar of te weier, is ouers nie vry om behandeling te weier wat as noodsaaklik vir hulle kind se welsyn beskou word nie, selfs nie eers wanneer hulle weiering op opregte godsdiensoortuiging gegrond is nie.
14 Hierdie grondbeginsel is in 1944 weerspieël in ’n besluit deur die Amerikaanse Appèlhof wat gesê het: “Ouers is vry om self martelare te word. Maar dit beteken nie dat hulle in identiese omstandighede vry is om van hulle kinders martelare te maak voordat hulle kinders die ouderdom van volle en wettige oordeelsvermoë bereik het wanneer hulle daardie besluit self kan neem nie.” Hierdie selfde primêre besorgdheid oor die kind se liggaamlike gesondheid en welsyn word vandag in kindersorgwette omvat. Hierdie wette, wat op kindermishandeling gemik is, is ook bedoel om kinders teen mediese verwaarlosing te beskerm.
15 Christenouers dink beslis nie dat dit verkeerd is om kinders teen ouerlike mishandeling en verwaarlosing te beskerm nie. Maar wette in verband met kinderverwaarlosing en die Appèlhof se verklaring wat hierbo aangehaal word, word dikwels verkeerd toegepas op gevalle waarby kinders van Jehovah se Getuies betrokke is. Waarom? Om maar een ding te noem, dit is glad nie Getuie-ouers se bedoeling om van hulle kinders “martelare” te maak nie. Waarom neem hulle dan hulle kinders in die eerste plek hospitaal toe as dit hulle bedoeling is? Inteendeel, Getuie-ouers wil hê dat hulle kinders mediese behandeling ontvang. Hulle het hulle kinders lief en wil graag hê dat hulle goeie gesondheid geniet. Maar hulle glo hulle het ’n godgegewe plig om op verantwoordelike wyse die soort mediese behandeling te kies wat die beste vir hulle kinders is. Hulle wil hê dat hulle kinders se gesondheidsprobleme sonder bloed reggestel word. Hierdie alternatiewe bloedlose behandeling is nie net beter en veiliger as bloed nie, maar wat die belangrikste is, is dat hulle kinders sodoende die groot Lewegewer, Jehovah God, se guns geniet.
16 Ten spyte van die voordele van bloedlose mediese behandeling beskou baie dokters en kindersorgbeamptes oortappingsterapie as ’n standaard- mediese gebruik wat in sekere omstandighede noodsaaklik of lewensreddend is. Wanneer Getuie-ouers gevolglik aanbevole oortappings weier, kan daar probleme ontstaan. Die wet laat dokters oor die algemeen nie toe om kinders sonder die ouers se toestemming te behandel nie. Om die ouers se weiering dat bloed gebruik word, te oorkom, kan dokters of ander hospitaalpersoneellede toestemming in die vorm van ’n hofbevel by ’n regter vra. Sulke hofgemagtigde toestemming kan deur middel van kindersorgbeamptes verkry word of deur dokters of hospitaalamptenare wat optree om die kind teen sogenaamde mediese verwaarlosing te beskerm.a
17 Hofbevele wat die gebruik van bloed magtig, word dikwels baie gou verkry met min of geen kennisgewing aan die ouers nie. Dokters, mediese superintendente of kindersorgbeamptes probeer sulke haastige bevele regverdig deur te sê dat dit ’n mediese noodgeval is waarin daar nie tyd is om die ouers ten volle oor gebeure in te lig nie. Maar dokters het al dikwels tydens ondervraging erken dat dit nie werklik ’n noodgeval is nie en dat hulle ’n hofbevel wil hê “net ingeval” ’n oortapping, volgens hulle, in die toekoms nodig sal wees. As die natuurlike voogde van julle kind het julle te alle tye die wesenlike reg om te weet wat dokters, mediese superintendente of kindersorgbeamptes ten opsigte van julle kind doen. Die wet vereis dat julle, indien dit enigsins moontlik is, ingelig moet word omtrent pogings om ’n hofbevel te verkry en toegelaat moet word om julle kant van die saak voor die hof te stel.
18 Hierdie geregtelike werklikhede beklemtoon hoe belangrik dit is om ’n tegemoetkomende dokter te vind. Gee hom julle samewerking, en help hom met die bystand van lede van julle Hospitaalskakelkomitee om bloedlose behandeling vir julle kind se mediese probleem te vind, of laat julle kind oorplaas na ’n dokter of hospitaal wat sulke behandeling sal gee. Maar as daar tekens is dat die dokter, die mediese superintendent of die kindersorgbeampte van plan is om ’n hofbevel te verkry, moet julle wakker wees en vra of dit is wat beplan word. Soms word dit in die geheim per telefoon gedoen. As hulle beplan om hof toe te gaan, moet julle beklemtoon dat julle daarvan wil weet sodat julle ook julle kant van die saak aan die regter kan stel (Spr. 18:17). As daar tyd is, is dit raadsaam om die hulp van ’n prokureur in te roep. Soms word prokureurs deur die hof aangestel. As julle julle eie prokureur het of een wat deur die hof aangestel is, kan die Genootskap hom van inligting voorsien wat hom sal help om die saak op die bes moontlike manier onder die omstandighede te verdedig.
19 As jy bloed weier en die saak hof toe geneem word, kan die dokter se opinie dat bloed nodig is om jou kind se lewe of gesondheid te red baie oortuigend wees. Die regter, wat ’n leek op mediese gebied is, sal gewoonlik die dokter se mediese kundigheid eerbiedig. Dit is veral die geval wanneer ouers min of geen geleentheid gebied word om hulle kant van die saak te stel nie en die dokter sy saak oor die “dringende” noodsaaklikheid van bloed sonder protes kan stel. Sulke eensydige hofsake help nie om vas te stel wat die waarheid is nie. Feit is, dokters se opinies oor wanneer en waarom bloed nodig is, is dikwels slegs hulle persoonlike siening en baie twyfelagtig. Dit gebeur dikwels dat een dokter sê bloed is absoluut noodsaaklik om ’n kind se lewe te red, terwyl ’n ander dokter wat ondervinding daarin het om dieselfde mediese probleem sonder bloed te behandel, sê dat bloed nie nodig is om die pasiënt te behandel nie.
20 Wat sal jy doen as ’n prokureur of regter jou vra waarom jy ’n “lewensreddende” oortapping vir jou kind weier? Hoewel jou eerste gedagte moontlik sal wees om jou geloof in die opstanding te verduidelik en jou sterk oortuiging uit te spreek dat God jou kind sal terugbring as hy sterf, sal so ’n antwoord op sigself dalk niks meer doen as om die regter, wie se belangrikste oorweging die fisiese welstand van die kind is, te oortuig dat jy ’n godsdiensdweper is en dat hy moet intree om jou kind te beskerm nie.
21 Wat die hof moet weet, is dat julle, hoewel julle bloed om diepgegronde godsdiensredes weier, nie mediese sorg weier nie. Die regter moet sien dat julle nie julle kind verwaarloos of mishandel nie, maar dat julle eerder liefdevolle ouers is wat behandeling vir julle kind wil hê. Julle stem bloot nie daarmee saam dat die sogenaamde voordele van bloed opweeg teen die potensieel dodelike gevare en komplikasies daarvan nie, veral nie wanneer daar alternatiewe mediese middels beskikbaar is wat nie hierdie gevare inhou nie.
22 Julle kan na gelang van die situasie vir die regter sê dat één dokter meen dat bloed nodig is, maar dat dokters verskillende benaderings het en dat julle graag die geleentheid wil hê om ’n dokter te vind wat julle kind met behulp van die algemeen verkrygbare bloedlose behandelingsmetodes sal behandel. Julle het moontlik met behulp van die Hospitaalskakelkomitee reeds ’n dokter gevind wat julle kind sonder bloed sal behandel en wat nuttige getuienis in die hof kan lewer, miskien telefonies. Die skakelkomitee sal waarskynlik vir die regter—en selfs vir die dokter wat die hofbevel wil hê—mediese artikels kan wys wat toon hoe julle kind se mediese probleme doeltreffend sonder die gebruik van bloed behandel kan word.
23 Wanneer regters inderhaas gevra word om ’n hofbevel uit te reik, het hulle dikwels nie die talle gevare van bloed, onder andere vigs, hepatitis en ’n menigte ander gevare, in aanmerking geneem of is hulle nie daaraan herinner nie. Jy kan dit onder die regter se aandag bring, en jy kan hom ook in kennis stel dat jy, as ’n Christenouer, die gebruik van iemand anders se bloed in ’n poging om lewe te red as ’n ernstige verbreking van God se wet sal beskou en dat dit op verkragting sal neerkom as bloed aan jou kind opgedwing word. Jy en jou kind (as hy oud genoeg is om sy eie oortuiging te hê) kan verduidelik dat julle so ’n skending van julle liggaam verafsku en ’n beroep op die regter doen om nie so ’n bevel toe te staan nie, maar om julle toe te laat om alternatiewe mediese behandeling vir julle kind te soek.
24 As die verdediging behoorlik waargeneem word, kan regters die ander kant—julle kant, as ouers—duideliker insien. Dan is hulle nie so haastig om ’n oortapping te magtig nie. In sommige gevalle het regters die dokter se vryheid om bloed te gebruik geweldig beperk en selfs vereis dat alternatiewe middels eers oorweeg word, of hulle het ouers die geleentheid gegee om dokters te soek wat sonder bloed sal behandel.
25 Wanneer ’n mens te doen het met diegene wat ’n bloedoortapping aan iemand wil opdwing, is dit noodsaaklik dat jy nooit onseker van jou oortuiging lyk nie. Regters (en dokters) vra soms of dit vir ouers ’n probleem sal wees as hulle die verantwoordelikheid om oor ’n oortapping te besluit op hulle neem, omdat hulle meen dat dit dan vir die ouers makliker sal wees om hulle gewete te sus. Maar dit moet vir almal wat daarby betrokke is duidelik wees dat julle, as ouers, verplig voel om aan te hou om alles in julle vermoë te doen om ’n oortapping te voorkom. Dit is julle godgegewe verantwoordelikheid. Dit kan nie op iemand anders geplaas word nie.
26 Wanneer julle dus met dokters en regters praat, moet julle voorbereid wees om julle standpunt duidelik en oortuigend te stel. As ’n hofbevel ten spyte van julle beste pogings uitgereik word, moet julle die geneesheer aanhou smeek om nie ’n oortapping te gee nie en hom aanspoor om alternatiewe behandeling te gee. Hou aan vra dat hy mediese artikels en die raad in ag neem van enige dokters wat gewillig is om oor die mediese probleem geraadpleeg te word om te keer dat bloed gebruik word. ’n Skynbaar ontoegeeflike dokter het al by meer as een geleentheid uit die operasiesaal gekom en trots gesê dat hy nie bloed gebruik het nie. Jy moet dus, ongeag wat gebeur, nooit moed opgee nie al is ’n hofbevel uitgereik!—Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Junie 1991.
27 Onthou, Jesus het gesê: “Pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke . . . voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle en vir die heidene.” Jesus het ter bemoediging onder sulke omstandighede bygevoeg dat die heilige gees ons sal help om wat reg en nuttig is by sulke geleenthede te spreek.—Matt. 10:16-20.
28 “Hy wat blyk gee van insig in ’n saak, sal die goeie vind, en gelukkig is hy wat op Jehovah vertrou” (Spr. 16:20, NW). Ouers, tref die nodige voorbereidsels om julle kind teen ’n geestelik besoedelende bloedoortapping te beskerm (Spr. 22:3). Kinders, gee gehoor aan julle ouers se onderrigting wanneer dit by hierdie voorbereidsels kom en laat julle hart daarop ag gee. As ’n gesin moet julle ‘daar net vas by bly dat julle die bloed nie eet nie, dat dit met julle goed kan gaan’ omdat julle Jehovah se seën het en sy goedkeuring wegdra.—Deut. 12:23-25.
[Voetnote]
a Alleenlik wanneer daar ’n noodgeval is wat volgens die dokter onmiddellik aandag verg, mag behandeling wat as noodsaaklik vir die kind se lewe of gesondheid beskou word (onder andere bloedoortappings) wettiglik sonder ouerlike of regterlike toestemming gegee word. ’n Geneesheer moet natuurlik verantwoording kan doen wanneer hy hom op hierdie noodbevoegdheid van die wet beroep.