Spoor hulle aan om Sy volgelinge te word
1 Paulus het in 1 Korinthiërs 3:6 geskryf: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.” Paulus het hierdie redenasie gebruik om sy broers die belangrikheid daarvan te help insien om eendragtig onder die hoofskap van Christus te werk. Sodoende het hy hulle ook help besef watter lewensbelangrike rol hulle speel in die belangrike werk om te plant en nat te maak.
2 Daardie lewensreddende werk moet vandag nog voltooi word. As toegewyde Christene het ons ook die belangrike verantwoordelikheid om ander te help om volgelinge van Jesus te word (Hand. 13:48). Hoe sal jy die belangstelling wat jy kon wek verder aanwakker deur die boek Die grootste mens wat nog geleef het te gebruik?
3 As jy teruggaan na iemand wat die boek geneem het, kan jy sê:
◼ “Toe ons voorheen gesels het, het ons bespreek watter soort persoon Jesus Christus as mens was. Ek het die boek Die grootste mens wat nog geleef het by jou gelaat. Wat het jou die meeste omtrent Jesus se onderrigting en sy persoonlikheid beïndruk?” Laat die huisbewoner antwoord. Blaai na hoofstuk 113 en bespreek Jesus se voortreflike voorbeeld van nederigheid. Lees Filippense 2:8 om te toon hoe die apostel Paulus Jesus se nederige gesindheid beskou het. Jy kan dan verduidelik hoe daar meer geleer kan word deur ’n gereelde studie van die Bybel.
4 Jy verkies dalk hierdie inleiding:
◼ “Ons het gesels oor dinge wat Jesus gedoen het terwyl hy op aarde was wat toon dat hy werklik vir ons omgee. Wat dink jy gaan hy uiteindelik doen om verligting te gee aan diegene wat soveel gely het?” Laat die huisbewoner antwoord. Blaai na hoofstuk 133 en hersien die kommentare in die vyfde paragraaf. Blaai na die prent op die volgende bladsy en verduidelik hoe dit sal wees wanneer God se wil op die aarde net soos in die hemel geskied. Vestig die aandag op die voordele wat dit kan meebring as die huisbewoner meer leer.
5 As daar nie genoeg belangstelling getoon is om die boek aanvanklik aan te bied nie, kan jy miskien jou bespreking soos volg begin:
◼ “Ek dink ons stem albei saam dat baie mense vandag hulle lewe lei in navolging van iemand wat hulle as hulle rolmodel beskou. Jesus Christus is die beste rolmodel wat enigeen kan hê. Ek wil graag vir jou van ’n baie belangrike les vertel waarvan ek geleer het toe ek die voorbeeld bestudeer het wat Jesus gestel het. [Blaai na hoofstuk 40 in die Grootste mens-boek en vestig die aandag op Jesus se goeie les oor barmhartigheid.] Dit was vir my ’n kragtige herinnering aan hoe ek hierdie eienskap teenoor ander moet betoon.” Lees Mattheüs 5:7. As daar nou meer belangstelling getoon word, kan jy die boek of die brosjure Gee God werklik vir ons om? aanbied.
6 Of jy wil miskien hierdie direkte benadering gebruik:
◼ “Toe ek laas hier was, het ons die belangrikheid daarvan bespreek om kennis van Jesus op te doen. Johannes 17:3 sê dat dit “die ewige lewe” beteken om sulke kennis in te neem. Hoe kan ons dit doen?” Laat die huisbewoner antwoord. Gaan voort deur ons Bybelstudiereëling te verduidelik en hoe om daarby baat te vind.
7 Paulus sê dat ’n arbeider in die oes “sy eie loon volgens sy eie arbeid [sal] ontvang” (1 Kor. 3:8). As ons ons kragtig inspan om ander te help om volgelinge van Jesus te word, sal ons beloning gewis groot wees.