“Dít beteken die ewige lewe”
1 Jesus se woorde wat in Johannes 17:3 opgeteken is, moet ernstig opgeneem word. Hy het bedoel wat hy gesê het—om kennis van God en Christus in te neem, beteken die ewige lewe! Maar is dit net as gevolg van die kennis wat ons van Jehovah en Jesus besit dat ons met die ewige lewe beloon gaan word? Nee. Die Israeliete het geweet dat Jehovah hulle God is, maar hulle lewenswandel het nie daardie oortuiging weerspieël nie. Hulle het gevolglik sy guns verloor (Hos. 4:1, 2, 6). Vandag het miljoene mense dalk “’n ywer vir God . . . ; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Rom. 10:2). Hulle moet Jehovah, “die enigste ware God”, leer ken en leer hoe om hom behoorlik te dien. Met dié doel gaan ons gedurende November die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei aanbied. Watter benadering gaan jy gebruik wanneer jy die Kennis-boek aanbied? Hier is ’n paar wenke wat jou kan help.
2 Aangesien die gedagte om vir ewig op die aarde te lewe vir die meeste mense iets nuuts is, sal hierdie inleiding dalk hulle belangstelling wek:
◼ “Ons vra ons bure ’n vraag. Indien jy genooi word om vir ewig in so ’n wêreld te lewe, sal jy die uitnodiging aanvaar? [Wys die prent op bladsye 4-5 in die Kennis-boek. Wag vir ’n antwoord.] Dit kan werklik jou gelukkige toekoms word. Maar wat dink jy sal jy moet doen om dit vir jou ’n werklikheid te laat word? [Wag vir ’n antwoord.] Let op watter optrede volgens Johannes 17:3 nodig is. [Lees.] Hierdie boek help baie mense om hierdie spesiale soort kennis te verkry. Wil jy graag jou eie eksemplaar hê om te lees? [Wag vir ’n antwoord.] Jy kan hierdie een teen ’n klein bydrae van R4,00 kry. Wanneer ek jou weer kom besoek, kan ons bespreek waarom dit redelik is om te glo dat ons ewige lewe reg hier op die aarde kan verkry.”
3 Wanneer jy terugkeer om diegene te besoek met wie jy Johannes 17:3 bespreek het, kan jy op hierdie manier te werk gaan:
◼ “Met my laaste besoek het ek vir jou Jesus se fassinerende woorde in Johannes 17:3 gelees, waar hy ons verseker het dat dit die ewige lewe beteken as ons kennis van God en van hom inneem. Maar baie mense glo dat ’n beter lewe net in die hemel verwerf kan word. Hoe voel jy daaroor? [Wag vir ’n antwoord.] As jy die boek wat ek by jou gelaat het byderhand het, sal ek graag vir jou ’n paar Bybeltekste wil toon wat bewys dat die Paradys op die aarde herstel gaan word. [Bespreek paragrawe 11-16 op bladsye 9-10 in die Kennis-boek.] Met my volgende besoek sal ek graag vir jou wil wys waarom jy hierdie beloftes wat in die Bybel gevind word, kan vertrou. Miskien kan jy intussen hoofstuk 2 in jou boek lees.”
4 Hier is ’n aanbieding wat jy dalk met mense wil gebruik wat godsdienstiggesind is:
◼ “Ons praat met ons bure oor waarom daar soveel verskillende godsdienste in die wêreld is. Daar is meer as 4000 onafhanklike kerke in Suid-Afrika alleen, en wêreldwyd is daar meer as 10 000 godsdienste. Tog is daar net een Bybel. Wat dink jy is die rede waarom daar hierdie godsdiensverwarring is? [Wag vir ’n antwoord. Maak die Kennis-boek by hoofstuk 5 oop en lees paragraaf 1.] Jy sal bevredigende antwoorde op daardie vrae vind wanneer jy hierdie hoofstuk lees. Ek sal met graagte die boek by jou wil laat teen ’n bydrae van R4,00.” Indien dit geneem word, moet jy spesifieke reëlings tref om terug te keer en sê: “Wanneer ek terugkom, kan ons miskien bespreek of alle godsdienste bloot verskillende paaie is wat na dieselfde plek lei.”
5 Wanneer jy terugkeer om die bespreking voort te sit oor waarom daar soveel godsdienste is, kan jy sê:
◼ “Toe ek laas met jou gepraat het, het ek die vraag geopper of alle godsdienste nie bloot verskillende paaie is wat na dieselfde plek lei nie. Wat dink jy daarvan? [Wag vir ’n antwoord.] Ek wil graag in die boek wat ek by jou gelaat het vir jou wys wat Jesus oor die saak gesê het. [Blaai na hoofstuk 5 in die Kennis-boek en lees paragrawe 6-7, met inbegrip van Matteus 7:21-23.] Miskien wonder jy waarom dit so belangrik is om presies te weet wat die wil van God is. Jy sal vind dat die volgende paragrawe baie insiggewend is. Lees asseblief die res van hierdie hoofstuk. Met my volgende besoek sal ek graag vir jou wil wys wat die waarde daarvan is om juiste Bybelkennis te hê.”
6 ’n Direkte benadering is dikwels effektief om Bybelstudies mee te begin. Hier is ’n voorgestelde inleiding wat op bladsy 14 van die “Redenering”-boek verskyn:
◼ “Ek besoek u om u ’n gratis tuisbybelstudiekursus aan te bied. As ek mag, wil ek net ’n paar minute gebruik om te demonstreer hoe mense in meer as 200 lande die Bybel tuis as gesinsgroepe bespreek. Ons kan enige van hierdie onderwerpe as grondslag vir ons bespreking gebruik. [Toon die inhoudsopgawe van die Kennis-boek.] In watter een stel u veral belang?” Wag vir die persoon om een te kies. Blaai na die gekose hoofstuk, en begin die studie in die eerste paragraaf.
7 Hier is nog ’n doeltreffende direkte benadering wat jy kan probeer om studies te begin:
◼ “Ek gee gratis Bybellesse en het plek in my rooster vir nog studente. Dit is die Bybelstudiehulp wat ons gebruik. [Wys die Kennis-boek.] Die kursus duur net ’n paar maande en voorsien antwoorde op vrae soos: Waarom laat God lyding toe? Waarom word ons oud en sterf ons? Wat gebeur met ons afgestorwe dierbares? En hoe kan ons na aan God kom?” Vra dan: “Kan ek die studie vir jou demonstreer?” As die aanbod van ’n studie van die hand gewys word, kan jy vra of die persoon die Kennis-boek wil hê om op sy eie te lees.
8 Wat ’n skat is die juiste kennis van God en Christus tog vir elkeen wat dit het! Om dit in te neem, beteken waarlik ewige lewe onder volmaakte toestande. Kom ons gebruik in November elke geleentheid om ander te vertel van die kennis wat tot die ewige lewe lei.