Nooi ander om die grootste mens te volg
1 Soos in Mattheüs 5:14 opgeteken is, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld.” Volgelinge van Jesus moes oral vir mense vertel van Jehovah se Koninkryk en Sy liefdevolle voorsiening vir redding deur Jesus. Met daardie opdrag in gedagte sien ons daarna uit om gedurende Desember die boek Die grootste mens wat nog geleef het aan te bied. Hier is ’n paar wenke wat jy moontlik wil gebruik.
2 Nadat jy jouself voorgestel het, kan jy die volgende in jou eie woorde stel:
◼ “Baie het al gewonder watter soort persoon Jesus was toe hy as ’n mens op hierdie aarde gelewe het. In watter opsigte dink jy het hy van ander verskil? [Laat die huisbewoner antwoord.] Hierdie boeiende boek, Die grootste mens wat nog geleef het, beskryf die hoogtepunte van sy lewe en bediening en dit voorsien insig in die soort persoon wat hy was. Wanneer hulle dit gelees het, voel sommige asof hulle ’n geleentheid gehad het om persoonlik met hom te assosieer, ’n deel te hê aan sy lyding en sy bediening eerstehands waar te neem.” Wys na die eerste prent in die boek waarop die titel verskyn. Blaai dan na die inleiding en lees die tweede paragraaf onder die tussenhofie “Vind baat daarby om van hom te leer”. Bied die publikasie aan teen ’n bydrae van R10,50.
3 Of jy kan iets sê soos:
◼ “Mense dink gedurende hierdie tyd aan Jesus. Maar weens soveel slegte dinge wat oor die hele wêreld plaasvind, wonder party of Jesus werklik vir ons omgee. Wat dink jy?” Laat die huisbewoner antwoord. Blaai na hoofstuk 24 van die Grootste mens-boek en bespreek kortliks waarom Jesus aarde toe gekom het. Lees dan Johannes 15:13 en beklemtoon Jesus se innige liefde vir ander. Onthou om die jongste tydskrifte, ’n brosjure of ’n gepaste traktaat byderhand te hê om aan te bied as die boek nie aanvaar word nie.
4 Hier is ’n ander voorstel:
◼ “Die meeste jongmense soek ’n rolmodel om na te volg, maar dit is moeilik om goeie rolmodelle te vind. Jesus Christus het vir elkeen die volmaakte voorbeeld gestel. [Lees 1 Petrus 2:21.] Sy hele lewe het om die aanbidding van sy hemelse Vader gedraai. Hoe dink jy sou dit wees as meer mense hom probeer volg het?” Laat die huisbewoner antwoord. Verwys na die vierde paragraaf op die voorlaaste bladsy van die boek wat sy spesiale eienskappe beskryf. Verduidelik hoe die Grootste mens-boek ons almal kan help om beter Christene te word.
5 Jy wil miskien iets soos die volgende gebruik:
◼ “Wanneer iemand van Jesus Christus praat, dink baie mense aan hom as ’n baba of as ’n man wat ly en op die punt staan om te sterf. Hulle begrip van Jesus sluit net sy geboorte en sy dood in. Die wonderlike dinge wat hy gedurende sy leeftyd gesê en gedoen het, gaan dikwels ongemerk verby. Wat hy bereik het, raak elke mens wat tot nog toe op hierdie aarde gelewe het. Dit is waarom dit lewensbelangrik is dat ons soveel moontlik leer oor die wonderlike dinge wat hy ten behoewe van ons gedoen het.” Lees Johannes 17:3. Blaai na die eerste bladsy van die inleiding van die Grootste mens-boek en lees die vierde paragraaf. Verduidelik hoe die boek verkry en vir persoonlike studie gebruik kan word.
6 Maak seker dat jy ’n verslag hou van die belangstelling wat jy vind en die boeke wat jy versprei sodat jy die belangstelling verder kan kweek wanneer jy herbesoeke doen. Laat ons, terwyl daar nog tyd is, ywerig na opregtes van hart soek en hulle help om volgelinge van ons Verlosser, Jesus Christus, te word.—Matt. 16:24.