’n Merkwerk wat redding meebring
1 Voordat Jehovah sy regverdige oordele voltrek, gee hy altyd waarskuwings en bied hy aan die sagmoediges ’n geleentheid om te ontkom. In Esegiël se dag was daar diegene wat gesug en gesteun het oor al die gruwels wat gedoen is. Jehovah het sulke verdienstelikes vir redding laat merk (Eseg. 9:4-6). Ons predikingswerk doen vandag presies dieselfde. Ons kan ’n belangrike rol daarin speel.
2 Om opregte mense te vind, is slegs die eerste stap. Ons tref reëlings vir ’n herbesoek. Voorbereiding vir die herbesoek word tydens die eerste besoek gedoen deur neer te skryf wat ons daar gelaat het en waaroor ons gepraat het. Ons sukses met ons herbesoek hang grootliks af van wat ons voorberei het om te sê en te doen wanneer ons teruggaan.
3 Wanneer jy teruggaan waar “Die Wagtoring” gelaat is, kan jy die aandag op die hooftema vestig:
◼ “Jy sal oplet dat hierdie tydskrif op sy voorblad sê: ‘Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan.’ Wat hierdie tydskrif so uniek maak, is die feit dat dit God se Koninkryk as die enigste oplossing vir die wêreld se probleme voorstaan. Dit verduidelik wat God se Koninkryk sal bewerkstellig wanneer God se wil op die aarde gedoen word. Dít is die goeie nuus wat Jesus gesê het in die hele aarde verkondig sal word.” Lees Matteus 24:14 en verduidelik hoe Die Wagtoring gereeld verkry kan word en vir persoonlike Bybelstudie gebruik kan word.
4 Jy verkies dalk om eenvoudig die aandag op die Bybel self te vestig en te beklemtoon waarom dit gereeld gelees moet word. Jy kan die volgende sê:
◼ “Dit lyk asof omtrent almal wat ons ken ’n bietjie praktiese raad sal waardeer oor hoe om die probleme van die daaglikse lewe die hoof te bied. Waar dink jy kan ons betroubare raad vind? [Laat die huisbewoner antwoord.] Baie wat hulle vertroue in die raad van vriende gestel het of wat vir professionele raadgewing betaal het, is grootliks teleurgestel. Aan die ander kant het miljoene mense gevind dat die Bybel die enigste bron van betroubare raad is. Die Bybel gee leiding oor hoe ons enige probleem waarvoor ons dalk te staan kom die hoof kan bied. [Lees 2 Timoteus 3:16, 17.] Al het jy dit moontlik moeilik gevind om die Bybel te verstaan, wil ek jou graag wys hoe jy dit kan gebruik om ’n skatkamer van wyse raad te ontsluit.” Sit die gesprek voort deur te blaai na “Liefde” in die gedeelte “Indeks van Bybelwoorde” agter in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte, en meld van die verwysings wat toon hoe liefde ons kan help om verskille met ander op te los.
5 As dit jou doelwit is om ’n Bybelstudie te begin, verkies jy dalk om die boek “Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe” en die volgende inleiding te gebruik:
◼ “Ons is lief vir ons gesin en wil die beste vir hulle hê. Hoe sal jou gesin daarby baat vind om in ’n wêreld soos hierdie te lewe?” Wys vir die huisbewoner die prente op bladsye 156-7. Lees een of twee van die tekste wat op daardie bladsye aangehaal word en verduidelik dat dít beloftes is wat gemaak is deur Jehovah God, wat nie kan lieg nie. Verwys na die lys hoofstukke op bladsye 5-6 en vra die huisbewoner watter onderwerp hom die meeste interesseer; blaai na die hoofstuk wat hy kies en bespreek een of twee paragrawe.
6 Sal jy ’n ander persoon wil help om vir redding gemerk te word? Sukses hang daarvan af dat jy ‘jou bediening ten volle moet uitvoer’ deur goed voor te berei en gou terug te gaan na alle belangstellendes wat jy vind.—2 Tim. 4:5.