Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 11/95 bl. 3-6
  • Bethel het jou voortgesette ondersteuning nodig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bethel het jou voortgesette ondersteuning nodig
  • Ons Koninkryksbediening—1995
Ons Koninkryksbediening—1995
km 11/95 bl. 3-6

Bethel het jou voortgesette ondersteuning nodig

1 Dit was 1910. Broer Russell het vir Will Johnston gesê om ’n eenmanstakkantoor in Skoollaan, Durban te open. Met slegs ’n klein vertrek tot sy beskikking het broer Johnston toesig gehou oor die werk in die hele Suider- en groot dele van Sentraal-Afrika. In 1923 is die takkantoor na Kaapstad verskuif waar ’n paar broers in net een groot vertrek gewerk het. Tien jaar later is die takkantoor na ’n groter gebou verskuif, maar daar was steeds nie werklik ’n Bethelhuis nie. Soos broer Knorr later geskryf het: “Die werkers [is] nie in staat om gesinslewe saam te geniet soos by ander takke nie.”

2 Maar “die dag van klein dinge” moes nie verag word nie (Sag. 4:10). Ons Bethelgesin hier in Suid-Afrika het so gegroei dat daar vandag meer as 800 mense is! Maar selfs met hierdie groot gesin van gewillige werkers is daar steeds ’n dringende behoefte aan meer vrywilligers. “Waarom is daar so ’n groot behoefte?”, wonder jy dalk.

3 Jehovah bespoedig die werk: Kortom, hierdie behoefte bestaan omdat Jehovah sy belofte vervul het om die Koninkrykswerk in hierdie laaste dae te bespoedig (Jes. 60:22). Dit is nie net die geval in Suid-Afrika nie, maar ook in baie omliggende lande. Gevolglik is groter takfasiliteite in ’n aantal lande nodig, soos Mosambiek, Mauritius, Madagaskar, Kenia, Zimbabwe, Zaïre en natuurlik hier in Suid-Afrika. Malawi sal ook in die nabye toekoms nuwe takfasiliteite begin bou. Daarbenewens moet byeenkomssale in etlike van die bogenoemde lande gebou word, asook op die eiland Réunion. Dit is benewens die feit dat daar oral Koninkryksale gebou word. Ja, Jehovah bespoedig inderdaad die werk. En ons tak is grootliks betrokke by die uitbreiding van die bogenoemde takke.

4 Met die oog op al die groei in hierdie deel van die wêreld het die Bestuursliggaam ons tak gevra om al die bouprojekte in die voormelde lande van voorraad te voorsien. Die rede hiervoor is dat boutoerusting en -materiaal dikwels nie in hierdie lande beskikbaar is nie. Baie van die boumateriaal vir hierdie projekte kan net hier in Suid-Afrika verkry word. Ons moes gevolglik groot departemente op die been bring om na hierdie bykomende werk om te sien. Eerstens moet die pryse vasgestel en voorraad aangekoop word. Afgelewerde goedere moet nagegaan en gestoor word totdat ons klaring het om dit te versend. Laastens word besendings opgemaak, gedokumenteer en na die ander takke toe gestuur. Die werklas stel ook toenemende eise aan ons Vervoerafdeling. Ons het nou vyf swaardiensvragmotors om hierdie groot hoeveelhede boumateriaal na die takke te vervoer of na die hawes waarvandaan dit verskeep sal word.

5 Ons vervaardig ook baie van die artikels wat vir hierdie bouprojekte benodig word. Ons maak byvoorbeeld aluminiumvensters en -deure, houtkassies sowel as plaatmetaalleiding. Soos jy kan sien, is dit ’n groot onderneming en ons word besig gehou. Ons beskou dit nietemin as ’n voorreg om hierdie ander takke van boubenodighede te voorsien.

6 Die Bestuursliggaam het daarbenewens gereël dat ons tak tydskrifte vir baie van die nabygeleë takke druk. Ons druk tans elke maand 32 verskillende nommers van Die Wagtoring en 18 nommers van die Ontwaak!. Van Januarie 1996 af sal ons elke maand 34 nommers van Die Wagtoring druk. Ons druk ook brosjures in baie tale, sowel as die vorms wat deur die verskillende takke in Suider-Afrika benodig word.

7 Ons tak brei uit!: Dan is daar ons eie bouprojek. Dit was ’n gelukkige dag vir die Bethelgesin toe die eerstes op 6April in die nuwe woongebou (Nommer 7) ingetrek het. Maar dit was geensins voldoende om die huisvestingsprobleem te verlig nie. Laat ons jou dus vertel watter bouwerk nog gedoen moet word.

8 Ons het reeds aan die verbindingsdeel tussen Woongeboue 7 en 8 begin werk. Ons hoop om teen die einde van die jaar Woongebou 8 te begin bou wat 64 kamers asook ander fasiliteite sal hê. Terselfdertyd het ons die kantoorgebou begin vergroot om sodoende nog 77 kantore te voorsien wat dringend nodig is. Daarbenewens hoop ons om vroeg in 1996 te begin werk aan die vergroting van die eetsaal en wassery. Ons sien daarna uit om ’n eetsaal te hê wat sitplek het vir eenduisend mense. En dit is nie al nie! As jy Bethel onlangs besoek het, sou jy dalk opgelet het dat ons ook meer ruimte in die drukkery nodig het. Ons het dus met die argiteksplanne vir uitbreiding begin om voorsiening te maak vir toekomstige groei.

9 Uit die voorafgaande kan jy duidelik sien dat ons nog baie werk het om te doen. Ons nooi jou om na te dink oor die vraag: Kan jy ons help? Laat ons asseblief toe om maniere te beskryf waarop jy persoonlik kan help omsien na die groei wat Jehovah nou gee.

10 “U volk sal hulle gewillig aanbied”: Ja, Jehovah het in Psalm 110:3 belowe dat sy ‘volk hulle gewillig sal aanbied op die dag van sy krygsmag’ (NW). En is dit nie wat ons Jehovah se volk sien doen nie? Oral bied hulle hulle gewillig aan om Koninkryksbelange te bevorder en ywerig die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Daarbenewens is party in staat om in Bethelhuise te dien of met bouprojekte te help. Hierdie teks sê verder dat jong mans soos verkwikkende “doudruppels” in hierdie groot werk sal wees. En hulle is beslis. Ons het tans honderde jong mans hier by Bethel wat hulle gewillig in verskillende vertakkings van Jehovah se diens aangebied het—vertaling, drukwerk, die voorbereiding van kos, konstruksie en baie ander bedrywighede. Hulle is ’n bron van verkwikking en ons stel hulle diens hoog op prys. Is daar ander jong mans wat hulle vir Jehovah se werk beskikbaar kan stel?

11 As ’n jong man vra jy dalk: ‘Hoe is dit om by Bethel te dien? Sal ek my daar kan aanpas?’ Om hierdie en ander vrae te beantwoord, wil ons jou graag vertel watter soort plek Bethel is en wat jy kan verwag wanneer jy ons kom help.

12 ’n Dag in die “Huis van God”: Die naam Bethel (“Huis van God”) is uiters gepas omdat almal wat by Bethel woon toegewyde knegte van Jehovah is. Die hele atmosfeer by Bethel is teokraties. Ons begin ons dag met oggendaanbidding wat 15 minute duur waartydens ons na ’n opbouende bespreking van die dagteks luister en dan in hartgrondige gebed verenig. Om ons gedagtes op Jehovah en sy aanbidding toe te spits, is vir ons die beste manier om die dag te begin.

13 Ons het baie ander geestelike voorsienings waaraan ons groot waarde heg. Ons geniet byvoorbeeld ons gesinstudie terdeë—’n spesiale Wagtoring-studie elke Maandagaand. Die goed voorbereide kommentare deur ’n paneel van ouer manne en bedieningsknegte is verkwikkend en geestelik aanmoedigend. Dit gee ons dan uitstekende gedagtes wat ons die volgende Sondag aan die broers in ons toegewese gemeentes kan oordra. Van tyd tot tyd geniet ons ’n spesiale lesing wat uitsluitlik vir lede van die wêreldwye Bethelgesin voorberei word deur die Bestuursliggaam.

14 Nog ’n bron van vreugde en verkwikking is ons gereelde aandeel aan die velddiens met ons toegewese gemeentes. Baie van ons was pioniers voor ons Bethel toe gekom het en ons geniet dit dus om gedurende weeksaande en oor naweke aan alle aspekte van die veldbediening deel te neem. Hierdie aspek van ons heilige diens help ons om die belangrikheid van die werk wat ons by Bethel doen duidelik voor oë te hou.

15 Ons het ook gereeld besoekers van ander takke, of van Brooklyn, wat ons interessante ondervindinge vertel en verslae gee van gebeure van oor die hele wêreld. Ons het byvoorbeeld onlangs ’n bemoedigende verslag oor die goeie vordering van die werk in Malawi geniet. Ons is seker jy sal saamstem dat daar, weens hierdie unieke geestelike voorsienings, nie ’n beter plek vir ’n jong man is om werklik geestelike vooruitgang te maak nie.—1 Tim. 4:15.

16 Benewens die feit dat die broers geestelike vooruitgang maak, word hulle goeie werksgewoontes geleer. Ons lei voortdurend broers op vir talle nuttige bedrywighede wat hulle vir die res van hulle lewe goed te pas sal kom. Ons het byvoorbeeld ’n spesiale opleidingsprogram vir jong broers wat met die bouprojek help om vir verskillende ambagte, soos verfwerk of loodgieterswerk, te kwalifiseer. Party van ons Internasionale Dienaars het al baie van ons jong manne geleer om bedrewe in hulle onderskeie werkstoewysings te word.

17 Bethellewe behels egter nie nét werk nie. Die Genootskap het baie liefdevol voorsiening gemaak vir heilsame ontspanning en oefening. En ons jong broers by Bethel leer om goeie balans te ontwikkel—hoewel Koninkryksbelange eerste kom, weet hulle hoe om op ’n heilsame manier te ontspan. Luister na wat party van hullesê:

18 “Dit was werklik aanmoedigend toe elke lid van die Takkomitee ons by Bethel verwelkom het”, onthou een van ons nuwer lede van Kaapstad. “Een van die Takkomiteelede het onthou dat hy ons foto’s op ons aansoekvorms gesien het, en het gesê: ‘Dit is ’n voorreg om julle nou persoonlik te ontmoet.’ Hy het ons tuis laat voel en ons hartlik aangemoedig om Bethel ons voltydse loopbaan te maak. Ek het werklik goed gevoel nadat ek dit gehoor het!”

19 “My besluit om Bethel toe te kom”, het ’n Portugese broer gesê, “was die verstandigste stap wat ek nog gedoen het—behalwe natuurlik om gedoop te word. Voordat ek hier aangekom het, was ek senuweeagtig en onseker oor wat om te verwag. Maar nou ontwikkel ek geestelik. Dit is ook ’n groot voorreg om mense van verskillende lande en agtergronde te ontmoet en om na verslae en ondervindinge te luister. Ek geniet ook my vrye tyd nou meer as voorheen. Ek is dankbaar dat ek die pragtige braaiareas kan gebruik, in die sauna kan ontspan of van ons uitstekende biblioteek gebruik kan maak.”

20 “Party van ons”, sê ’n broer wat al ses jaar by Bethel is, “hou daarvan om ’n besige week van diens aan Jehovah af te sluit deur met die pragtige bergpaadjie aan die agterkant van ons Bethelkompleks langs te stap of in die swembad te ontspan.”

21 “Dit is die mense wat Bethel vir my so wonderlik maak”, het ’n 27-jarige broer gesê. “Ek hou daarvan om deel van ’n gelukkige groep mense te wees wat almal een God dien en wat almal met een doel saam werk. Hoewel ons ’n vol program het, het ons mekaar lief en gee ons vir mekaar om as vriende en as ’n gesin.”

22 Ja, ons teokratiese omgang by Bethel is ’n wonderlike voorreg wat ons baie waardeer. Ons geniet die hele dag deur die omgang van ons toegewyde broers en susters. Ons is baie dankbaar dat ons nie voortdurend met mense van die wêreld in aanraking kom nie, soos baie van julle van dag tot dag moet doen. Ons kan verstaan waarom baie van julle al die begeerte uitgespreek het om in die soort omgewing te werk wat ons elke dag hier by Bethel geniet. Ons Bethelatmosfeer is ongetwyfeld bevorderlik vir bestendige geestelike groei.

23 Maar dit laat die vraag ontstaan: Kan jong susters Bethel toe kom? Ons het nou ’n aantal jong susters hier, en ons stel hulle werk hoog op prys. Maar aangesien die meeste van die werk baie veeleisend is, kan ons nie op die oomblik meer susters gebruik nie. Ons vra ons ywerige jong susters om eerder die leemte in die pioniergeledere te vul wat geskep is deur die betreklike groot aantal jong broers wat gevra is om Bethel toe te kom.

24 Geskoolde werkers nodig: Behalwe die jong broers wat ons oplei, het ons baie geskoolde broers nodig om ons te help. Dit geld vir verskillende afdelings by Bethel—in die Bethelwoongebou, drukkery en veral met die bouwerk. Ons het ook ’n aantal ouer broers nodig—ouer manne en bedieningsknegte—wat kwalifiseer om die leiding te neem in skrynwerk vir bekisting en afwerking, messelwerk, staalkonstruksie en om jonger manne te help oplei. Gedurende die afgelope jaar was ’n aantal broers wat nie in Bethel woon nie baie behulpsaam met die bouwerk. Party van hulle het hulle dienste op ’n permanente grondslag aangebied en is nou deel van ons gereelde span. Ander met gesinsverantwoordelikhede kon ons ’n week of twee of selfs ’n maand op ’n slag help. Geskoolde ambagsmanne lewer ’n waardevolle bydrae tot ons bouprogram. Ons nooi dus almal wat geskool is in enige ambag wat met konstruksie verband hou om dit te oorweeg of hulle hulle vir ’n week of twee of langer gewillig kan aanbied. Besluit gerus nou wanneer jy ons sal kan kom help.

25 Diegene wat hulle beskikbaar stel, sal beslis ’n geestelik verkwikkende tyd hier by Bethel geniet. “Ek het ’n maand lank hier gewerk”, het ’n broer van die Oos-Kaap gesê, “en ek het baie geleer. Nie net wat die werk betref nie, maar ook met betrekking tot gedrag, streng gehoorsaamheid aan regverdige beginsels, georganiseerdheid en geestelike vordering. Dit het my baie gelukkig gemaak!” ’n Jong broer van Durban het gesê: “Hoewel ek sowat 600 kilometer van die huis af is, het julle broers en susters dit vir my ’n tweede huis gemaak.” ’n Egpaar van die VSA het geskryf: “Hierdie kaartjie kan nooit sê hoe ons werklik voel nie. Ons voel waarlik dat ons geseënd was om met die projek te help, om die krag van Jehovah se gees werksaam te sien, om die liefde en eenheid te ervaar. Wat ’n seën is dit tog om deel van Jehovah se organisasie te wees!” ’n Ander egpaar het dit so gestel: “Dis ’n soet voorsmaak van die Paradys!”

26 Ons rig dus ’n hartlike uitnodiging aan almal wat kwalifiseer om te kom en saam met ons in die vreugde van hierdie Koninkryksuitbreiding te deel. Ons verwag dat ons bouprojek nog vier jaar sal voortduur. Maar nou, terwyl jy hierdie saak eerlik en biddend oorweeg, wonder jy dalk:

27 Wie kwalifiseer?: Enige toegewyde, gedoopte broer kan vir permanente Betheldiens aansoek doen as hy tussen 19 en 35 jaar oud is of vir konstruksie as hy tussen 19 en 55 jaar oud is. Hy moet onder meer goeie fisiese gesondheid geniet en geestelik sterk wees. Skryf asseblief om ’n aansoekvorm as jy jou gewillig kan aanbied in hierdie tyd wanneer Jehovah die werk bespoedig. Toon duidelik aan vir watter diens jy aansoek doen: Betheldiens of konstruksie. Ons is in werklikheid een gelukkige, verenigde Bethelgesin. Dalk besluit jy dus om vir Bethel en Konstruksie aansoek te doen en die Genootskap dan toe te laat om jou te stuur waar hulle jou die nodigste het.

28 Maar ná sorgvuldige oorweging besef jy dalk dat jy ongelukkig nie nou vir Bethel kan aansoek doen nie. Is daar enige ander manier waarop jy kan help omsien na die groot vermeerdering wat Jehovah nou in Suider-Afrika gee indien dit die geval is? Ja, daar is beslis, soos ons sal verduidelik.

29 Ondersteuning deur nabygeleë gemeentes oor naweke: Ons doen elke tweede Saterdag konstruksiewerk sodat ons by ons werkskedules kan bly. Ons maak dus oor die naweke grootliks staat op die ondersteuning van nabygeleë gemeentes. Ons onthou met waardering dat julle ons met die vorige projek uitstekende ondersteuning oor naweke gegee het. Dit het ons baie gehelp om die werk betyds te voltooi. Ons sal ook met hierdie projek baie werk vir die naweke hê en ons sal al die ondersteuning waardeer wat ons kan kry.

30 Julle kan dit gerus ’n gesinsprojek maak. “Maar wat van ons kinders?” vra jy dalk. Ter wille van veiligheid en ander redes is dit ons beleid dat net diegene wat 19 jaar en ouer is met die bouwerk kan help. Maar jonger lede van julle gesin kan op ander maniere gebruik word. Kinders tussen die ouderdomme van 12 en 15 kan ’n groot hulp in die tuin wees, solank hulle saam met een van hulle ouers werk. Jongmense tussen die ouderdomme van 16 en 18 kan sonder ouerlike toesig in die tuin werk, mits hulle dit onder toesig van een van ons tuinopsieners doen. Dit spyt ons dat ons nie voorsiening kan maak vir kinders onder 12 om hier by Bethel te werk nie. Ons moedig gesinne dus aan om reëlings te tref dat daar tuis na sulke jonger kinders omgesien kan word sodat soveel as moontlik Bethel toe kan kom op die Saterdag waarop julle gemeente hier moet werk. Party broers het aansoek gedoen om een Saterdag per maand hier te werk, en hulle kan dus waardevolle diens in ’n gereelde werkstoewysing lewer.

31 Daar is nietemin iets wat ons almal kan doen om ’n deel te hê aan die uitbreiding van Koninkryksbelange, hetsy ons naby aan of ver van Bethel af woon.

32 Finansiering van teokratiese projekte: Besoekers wat ons bouprojekte sien, vra dikwels: “Hoe word die Genootskap se projekte gefinansier?” Wel, hoe is bouprojekte in Israel gefinansier? Die antwoord is: Deur gewone mense wie se harte hulle beweeg het om Jehovah se aanbidding te ondersteun. Dink aan die nasie Israel in die woestyn toe die tabernakel gebou moes word. Nie een van hulle het werk gehad nie. Daar was hoegenaamd geen manier waarop hulle enigiets wat hulle vir die bou van die tabernakel gegee het, kon vervang nie. Maar hoe het hulle oor daardie projek gevoel? Die Bybelverslag in Exodus 35:21 sê: “En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die HERE gebring vir die werk aan die tent van samekoms.” (Ons kursiveer.) Vers 22 toon dat hulle onvervangbare artikels van goud en silwer gebring het omdat hulle “gewillig van hart” was. Hulle het uiteindelik “meer as genoeg” gebring en Moses moes ’n bevel gee sodat die mense sou ‘ophou bring’.—Ex. 36:4-7, vgl.NW.

33 Later, toe hulle hulle in die Beloofde Land gevestig het, moes die tempel gebou word. Teen hierdie tyd was die nasie goed gevestig en voorspoedig. Hoe sou hulle nou daaroor voel om die bou van daardie baie duur tempel te ondersteun? Hulle het dieselfde ‘gewilligheid van hart’ as in die woestyn geopenbaar. Eerste Kronieke hoofstuk 29 vertel hoe die koning en die owerstes groot hoeveelhede goud en silwer gegee het. Die res van die volk het ook met ’n gelukkige hart gegee. Vers 9 sê dat “die volk bly [was] oor hulle gewilligheid, want met ’n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee”. Dit was weer eens hulle hart wat hulle beweeg het. Hulle wou ware aanbidding van ganse harte ondersteun, en dit het hulle groot vreugde verskaf om so te gee.

34 Jesus het dieselfde gees genoem toe hy na ’n weduwee verwys het wat ’n bydrae in die tempel se skatkiste gegooi het. Hoewel haar bydrae werklik baie klein was, het haar hart haar beweeg om ‘al die middele vir lewensonderhoud in te gooi wat sy gehad het’ (Luk. 21:1-4). Jesus het gesê dat die ander uit hulle oorvloed gegee het. Vir hulle was dit nie ’n opoffering nie; hulle kon gee sonder dat hulle hulle enigiets ontsê het. Maar hierdie weduwee se hart het haar beweeg om alles te gee wat sy gehad het. As ’n blyk van selfopofferende toegewydheid was haar bydrae baie waardevol in Jehovah seoë.

35 ‘Gewillige’ ondersteuning in ons tyd: Wat die ondersteuning van die vooruitgang van ware aanbidding vandag betref, is baie soos daardie Israeliete wie se harte hulle beweeg het. Hulle openbaar dieselfde gees as die weduwee wat “in haar gebrek” gegee het. Ons is deeglik daarvan bewus dat baie van ganse harte gee—nie net ’n minimale bedrag uit hulle oorvloed nie. Baie moet werklik opofferings maak om te gee. Hulle ontsê hulle dikwels sekere noodsaaklikhede, nie net dinge wat hulle wil hê nie, sodat hulle Jehovah se werk kan ondersteun. Ons spreek ons opregte dank en waardering uit vir sulke goedhartige vrygewigheid. Dit is wanneer ons werklik opofferings moet maak om te gee, wanneer ons ons sekere dinge moet ontsê, dat dit veral vir Jehovah aanneemlik is. Jehovah “is lief vir ’n man wat bly is om te gee”.—2 Korintiërs 9:6,7, An American Translation.

36 Daar was al baie gevalle waar ons broers ‘bly was om te gee’ en verbaas was oor wat hulle met Jehovah se seën kon vermag. In die vroeë tagtigerjare was dit byvoorbeeld nodig dat die takkantoor in Spanje hulle fasiliteite vergroot. Hulle het gevra of die Bestuursliggaam die nodige fondse kon voorsien. Maar as gevolg van ander groot finansiële verpligtinge destyds kon die Genootskap nie hulp verleen nie. Die vraag was dus: Kon die Spaanse Getuies, met hulle betreklik lae lone, genoeg fondse vir so ’n onderneming voorsien?

37 “Die situasie is aan hulle verduidelik”, sê Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk. “Hulle het met blydskap hulle juwele, ringe en armbande geskenk sodat dit in kontant omgesit kon word. Toe een bejaarde Getuie gevra is of sy seker is dat sy die swaar goue armband wil skenk wat sy gegee het, het sy gesê: ‘Broer, dit sal baie meer vir ’n nuwe Bethel beteken as wat dit aan my arm sal beteken!’ ... Egpare het die geld bygedra wat hulle vir vakansies gespaar het. Kinders het hulle spaargeld gestuur. ’n Jong seun wat ’n ghitaar wou koop, het die geld vir die takkantoorprojek gestuur.”

38 Ja, in navolging van die Israeliete in die woestyn het die Spaanse Getuies ’n vrygewige en ‘gewillige’ gesindheid aan die dag gelê. Hulle was nie net in staat om alles te gee wat materieel nodig was nie, maar hulle het hulleself beskikbaar gestel om die werk te voltooi. Hulle het by die duisende gekom. Party het voltyds gekom, ander het gedurende hulle vakansies en oor naweke gewerk. Feit is, hulle het gewerk! Weens hulle selfopofferende, ‘gewillige’ gees kon hulle voltooi wat aanvanklik na ’n onmoontlike taak gelyk het.

39 Dit is hierdie einste gees en hartsgesindheid van Jehovah se volk wat dit vir die Genootskap moontlik maak om die predikingswerk en die takkantoorbouprojekte waaraan nou gewerk word te finansier. Dit is dus goed vir elkeen van ons om van tyd tot tyd die gesindheid waarmee ons gee te ondersoek. Soos Paulus in 2 Korintiërs 9:7 gesê het, moet elkeen in sy eie hart besluit tot watter mate hy gaan gee—“nie teësinnig ... nie, want God het ’n blymoedige gewer lief”. Dit is gepas vir ons almal om ons af te vra: Sou daar in al die behoeftes voorsien kon word as die finansiering van die Koninkrykswerk afgehang het van die gees waarin ek persoonlik gee? Maak ek werklik opofferings? Of gee ek bloot ’n bietjie uit my oorvloed om Jehovah se werk te ondersteun? Beweeg my hart my om Jehovah se diens ten volle te ondersteun?

40 Baie broers verkies om hulle persoonlike bydrae vir die Koninkrykswerk en vir die bouprojek direk aan die Genootskap te stuur. Ons stel al hierdie bydraes hoog op prys en betuig ons dank vir elkeen per brief. As jy graag op hierdie manier wil bydra, moet jy asseblief jou bydrae stuur aan: Wagtoringgenootskap, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740. Ander wil dalk hulle bydrae in die bussie by die Koninkryksaal sit wat “Takkantoorboufonds” gemerkis.

41 Daar is weliswaar baie gebiede wat julle geldelike ondersteuning vereis. Dit sluit julle eie Koninkryksaal in, die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk, miskien ’n byeenkomssaal in julle gebied sowel as die Genootskap se takkantoorbouprojek. Dit vereis dat jy jou balans behou en doen wat jy kan. Wat jou hart jou ook al beweeg om te doen, wees asseblief daarvan verseker dat die Genootskap jou gereelde ondersteuning waardeer. Ons besef dat die lewe vir baie van julle nie maklik is nie. Party van julle sukkel “om die pot aan die kook te hou” weens die verhoogde lewenskoste en die druk van die wêreld. Dit is waarom elkeen in sy hart moet besluit totwatter mate hy die Genootskap kan ondersteun omna die Koninkrykswerk om te sien. Ons kan nietemin verseker wees van Jehovah se liefde wanneer onsdoen wat ons kan om Koninkryksbelange te bevorder.

42 Wanneer laas het jy Bethel besoek?: Terwyl jy sorgvuldig en biddend oor hierdie gedagtes nadink, wil ons jou graag nooi om te kom kyk wat by Bethel plaasvind. ’n Egpaar van Kaapstad het gesê: “Niks het ons op die grootte en kompleksiteit van die takkantoor voorberei nie. Dit is veral die stille ywer van al die broers en susters, en die liefde wat so opvallend is, wat ons oortuiging versterk het dat dit waarlik Jehovah se organisasie is.” ’n Egpaar van Natal het met waardering geskryf: “Dit het ons harte verbly om self ons pragtige sentrum vir aanbidding te sien. Ons was werklik beïndruk deur die goeie vakmanskap sowel as die uitstekende materiaal wat gebruik is om Bethel te bou. Jehovah het waarlik sy seën hieroor uitgestort!—Maleagi 3:10.”

43 Kom kyk dus gerus self na die jongste uitbreidings. Ons toere sluit nou ’n besoek aan die bouperseel in waar ’n mens, van ’n uitkykpunt af, kan sien hoe die opslaankonstruksie gedoen word. En wanneer jy die geweldige uitbreiding sien, moet jy asseblief besef dat dit plaasvind omdat elkeen van ons, “wie se hart hom opgewek” het, bygedra het tot hierdie groot werk wat Jehovah se seën geniet.

44 Salomo het wyslik gesê: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Psalm 127:1). Ja, sonder Jehovah se gees en seën sal ons werk by Bethel tevergeefs wees. Broers, ons versoek julle dus nederig om voort te gaan om tot Jehovah te bid en sy leiding in hierdie allerbelangrikste werk te vra. Benewens alles wat julle hart julle beweeg om te doen, kan julle julle voortdurende ondersteuning van Bethel toon deur middel van julle gereelde, hartgrondige gebede. Mag ons God, Jehovah, die toegewyde diens van al sy ‘gewillige’ knegte ryklik seën tot die ewige lof en eer van sy groot en roemryke naam!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel