Voorbereiding—’n sleutel tot sukses
1 Voorbereiding vir die bediening sal ’n mens help om enige huiwerigheid te oorkom wat jy dalk ondervind om velddiens te doen. Wanneer jy die deure nader, sal jy weet wat jy vir die huisbewoners wil sê. Jy sal nie bevrees hoef te wees oor die uitdagings wat jy dalk sal teëkom nie. Wanneer jy van die velddiens af terugkeer huis toe sal jy bemoedig voel, in die wete dat jy ’n goeie poging in die bediening aangewend het. Ja, deeglike voorbereiding is die sleutel om bekwamer in ons predikings- en onderrigtingswerk te word.
2 Paulus het getoon hoe belangrik dit is om voorbereid te wees deur ons aan te spoor om ons ‘voete geskoei te hê met die toerusting van die goeie nuus van vrede’ (Ef. 6:15). Dit sluit in dat ons ons verstand en hart voorberei asook ’n positiewe uitkyk en ’n gewillige gesindheid verkry. Wanneer ons voorbereid is om die waarheid aan ander mee te deel, sal ons arbeid met Koninkryksvrug geseën word, wat ons gelukkig sal maak.—Hand. 20:35.
3 Hoe om vir die predikingswerk voor te berei: Ons moet ’n aanbieding kies waarmee ons gemaklik voel, dalk een van dié wat in die Redenering-boek voorgestel word of wat op die laaste bladsy van Ons Koninkryksbediening verskyn. Dink goed na oor die teks wat jy beplan om te gebruik en besluit watter woorde of frase jy gaan beklemtoon sodat jou hoofpunt na vore kom. Dit is nie nodig om die aanbieding te memoriseer nie; dit is beter om eerder die idee in gedagte te kry, dit in jou eie woorde te stel en dit dan oor te dra op ’n manier wat jy dink by jou luisteraar ingang sal vind.
4 Kyk deur die publikasie wat jy gaan aanbied en kies ’n paar interessante gesprekspunte. Kies iets wat jy meen vir die mense in julle gebied interessant sal wees. Dink aan hoe jy jou aanbieding by verskillende huisbewoners kan aanpas—’n man, ’n vrou, ’n ouer persoon of ’n jongmens.
5 Het jy al oefensessies probeer? Bespreek saam met gesinslede of ander verkondigers watter aanbiedings dalk doeltreffend sal wees, en oefen hulle dan hardop sodat almal hulle goed in gedagte sal hê. Probeer om werklike situasies en besware wat in die gebied teëgekom kan word na te maak. Sulke oefening sal jou help om vlotter te praat, meer doeltreffend in die predikingswerk te wees en meer selfvertroue te hê.
6 Buiten die voorbereiding en oefening van jou aanbieding moet jy jou ook afvra: ‘Is die klere wat ek beplan om te dra geskik vir die bediening? Het ek dit wat ek nodig het in my tas, waaronder die lektuur wat ek beplan om te gebruik? Is dit in ’n goeie toestand? Het ek my Redenering-boek, traktate, huis-tot-huis-verslae en ’n potlood?’ Deeglike beplanning sal bydra tot ’n produktiewer dag in die velddiens.
7 Nadat ons ons na die beste van ons vermoë voorberei het, moet ons om Jehovah se gees bid om ons te help om sukses te behaal (1 Joh. 5:14, 15). As ons noukeurig aandag skenk aan voorbereiding, sal ons groter vreugde in ons werk vind terwyl ons ‘ons bediening ten volle uitvoer’.—2 Tim. 4:5.