Vraebus
◼ Wat is die gepaste gebruik van die terme “broer” en “suster”?
Wanneer die terme “broer” en “suster” in letterlike sin gebruik word, verwys dit na persone met dieselfde ouers. Hierdie natuurlike verwantskap skep gewoonlik ’n hegte band, en die hegtheid wat hierdie persone ondervind, word verder versterk deur sosiale, omgewings- en emosionele bande.
Jesus het sy dissipels geleer om Jehovah in gebed as “Ons Vader” aan te spreek. Die gebruik van daardie uitdrukking gee te kenne dat ons as Christene deel uitmaak van ’n hegte gesinskring waar ons ’n ryk geestelike verwantskap geniet. Jesus het dit verder beklemtoon toe hy vir sy volgelinge gesê het dat hulle “almal broers is”.—Matt. 6:9; 23:8.
Weens ons hegte geestelike bande in God se huisgesin spreek ons mekaar aan as “Broer” en “Suster”, veral by gemeentelike vergaderinge. By hierdie geestelike geleenthede gebruik die persoon wat die leiding by die vergadering neem die uitdrukking “broer” of “suster” vir gedoopte persone, gevolg deur die persoon wat aangespreek word se van.
Wat gebeur as ’n ongedoopte persoon aan die vergaderinge wil deelneem? As ’n persoon al ’n tyd lank met Jehovah se volk omgaan en na toewyding streef en homself as een van Jehovah se Getuies beskou, sal dit nie verkeerd wees om hom aan te spreek as “Broer” of “Suster” gevolg deur sy van nie. Dit sal veral die geval wees as die persoon ’n ongedoopte verkondiger geword het.
Daarenteen het belangstellendes wat maar onlangs ons vergaderinge begin bywoon het nog nie die stappe gedoen wat hulle as deel van God se huisgesin sal identifiseer nie. Hierdie persone sal nie as “Broer” of “Suster” aangespreek word nie, aangesien die geestelike verwantskap van God se gesin nie in hulle geval bestaan nie. Gedurende die vergaderinge sal ons hulle dus meer formeel aanspreek en ’n gepaste titel soos “Meneer” saam met hulle van gebruik.
Die gebruik van die uitdrukkings “broer” en “suster” by ons gemeentelike vergaderinge dui op ’n band wat veel hegter en kosbaarder is as enige band wat deur die gebruik van ons voorname aangedui word. Dit herinner ons aan die uiters geseënde verwantskap wat ons as ’n geestelike gesin onder die een Vader, Jehovah God, geniet. Ons word ook herinner aan die innige liefde en geneentheid wat ons vir mekaar het.—Ef. 2:19; 1 Pet. 3:8.