Vraebus
■ Waarvoor moet ons versigtig wees wanneer ons tydens ons bediening met iemand van die ander geslag te doen kry?
Ons het rede om te verwag dat ons broers en susters die hoogste sedelike standaard sal handhaaf wat hulle persoonlike gedrag betref. Ons lewe nietemin in ’n onrein en permissiewe wêreld wat min sedelike perke het. Hoewel ons dalk die beste bedoelings het, moet ons voortdurend daarteen waak om skande te veroorsaak of by iets onbehoorliks betrokke te raak. Dit beteken ook dat ons versigtig sal wees terwyl ons aan die bediening deelneem.
In die velddiens kom ons dikwels mense van die ander geslag teë wat blykbaar ’n opregte belangstelling in die waarheid toon. Wanneer ons alleen werk en daar niemand anders tuis is nie, is dit gewoonlik beter om eerder ’n getuienis by die deur te gee as om in te gaan. As daar belangstelling is, kan reëlings getref word om terug te gaan wanneer ’n ander verkondiger ons kan vergesel of wanneer ander in die huisgesin ook tuis sal wees. As dit nie moontlik is nie, sal dit verstandig wees om ’n verkondiger van dieselfde geslag as die huisbewoner te vra om die persoon te besoek. Dit geld ook wanneer ’n Bybelstudie met iemand van die ander geslag gehou word.—Matt. 10:16.
Ons moet versigtig wees wanneer ons iemand vra om saam met ons in die bediening te werk. Hoewel ’n verkondiger van tyd tot tyd met iemand van die ander geslag kan saamwerk, is dit beter as hulle saam met ’n groep werk. Dit is selfs in die bediening gewoonlik onverstandig om alleen tyd deur te bring met iemand van die ander geslag wat nie ons huweliksmaat is nie. Die broer wat die leiding in die velddiensgroep neem, moet gevolglik goeie oordeel aan die dag lê wanneer hy verkondigers, onder andere tieners, vra om saam te werk.
Deur altyd goeie oordeel aan die dag te lê, sal ons nie onsself of ander “enige aanleiding tot struikeling” gee nie.—2 Kor. 6:3.