Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/97 bl. 3-4
  • Die bou van Koninkryksale in Suid-Afrika en sy buurstate

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die bou van Koninkryksale in Suid-Afrika en sy buurstate
  • Ons Koninkryksbediening—1997
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorsien met vreugde in die behoeftes wat die oeswerk meebring
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Vertrou op Jehovah in alles wat ons onderneem
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Jou rol in die bouwerk vir die toekoms
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Koninkryksaalbouwerk—’n belangrike aspek van heilige diens
    Ons Koninkryksbediening—2006
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1997
km 8/97 bl. 3-4

Die bou van Koninkryksale in Suid-Afrika en sy buurstate

1 Wanneer ons na die wêreldwye veld kyk, is dit hartverblydend om die groot vermeerdering te sien wat Jehovah se aardse organisasie ondervind. Verlede jaar is daar in Suid-Afrika alleen 37 nuwe gemeentes gestig, terwyl daar wêreldwyd altesaam 3288 gemeentes bygevoeg is. Met al hierdie groei is dit nie verbasend dat daar ’n behoefte aan meer Koninkryksale is nie.

2 Baie broers en susters toon uitsonderlike ywer en steun vir Jehovah se organisasie deur hulle tyd en bates aan te bied vir die bou van Koninkryksale. Die 23 Streekboukomitees wat in Suid-Afrika en sy buurstate werksaam is, sien om na die behoeftes van die gemeentes in hulle toegewese streek. Elke jaar word daar ongeveer 24 nuwe Koninkryksale gebou, en ’n paar word opgeknap. Sedert 1985 is daar 306 Koninkryksale toegewy. Die toesig oor hierdie projekte is aan die streekkomitees toevertrou, en hulle harde werk word waardeer. Die ganse reëling vir die bou van Koninkryksale word moontlik gemaak deur die Christelike gees van mededeelsaamheid en selfopoffering—die teenoorgestelde van die gees wat so algemeen in die wêreld geopenbaar word.—2 Tim. 3:2, 4.

3 Om Koninkryksale te help standaardiseer, het die Genootskap begin om streekkomitees van ’n pakket te voorsien met standaardkoninkryksaalontwerpe wat planne op CAD (Rekenaargesteunde ontwerp) bevat. Dit sal help om die tyd sowel as die middele van vrywillige werkers te bespaar. Dit sal ook tot die verstandige bestuur van die Genootskap-Koninkryksaalfonds bydra. Ouer manne kan nou uit hierdie basiese ontwerpe kies. Nadat ’n Streekboukomitee in die Verenigde State hierdie nuwe hulpmiddel ontvang het, het hulle gesê: “Ons was baie bly en in werklikheid heel opgewonde om die ontwerppakket te ontvang. . . . Broers met ondervinding in argitektuur en die ingenieurswese skat dat dit 50 tot 60 persent van die tyd bespaar as ’n mens hierdie nuwe ontwerpe gebruik. Hierdie pakket sal ons ook help om meer eenvormige, konsekwente standaarde vir Koninkryksale te hê.” Namate gemeentes saamwerk om die standaardisering van Koninkryksale te ondersteun, verwag ons dat dit die taak van al die toegewyde argitekte, ingenieurs en kontrakteurs wat hulle hulp vrywillig aanbied aansienlik ligter sal maak.

4 Vrywilligers ondersteun ’n voortreflike werk: Die Genootskap is dankbaar teenoor al die vrywilligers wat met die bou van Koninkryksale help. Dit is waarlik bemoedigend om te sien hoe duisende vrywilligers hulle aanbied vir alle aspekte van die bou van Koninkryksale. Die sukses van hierdie program word moontlik gemaak deur ’n gees van gewilligheid, vrygewigheid en samewerking onder die vrywillige werkers, wat tyd opoffer wat hulle andersins saam met hulle gemeente en gesin kon deurgebring het (Ps. 110:3; Kol. 3:23). Hierdie liefdevolle reaksie maak dat hulle ons lof, waardering en volle ondersteuning waardig is.—Rom. 12:10; Heb. 13:1.

5 Almal wat aan die vereistes voldoen om die Streekboukomitees op ’n gereelde grondslag te help, is gevra om die Kingdom Hall Construction Worker Questionnaire-vorm (S-82) in te vul. Die gemeente stuur dit na die streekkomitee om ’n werker se kwalifikasies en beskikbaarheid aan te dui. Wanneer ’n vrywilliger se status verander, soos wanneer hy verhuis of as ’n bedieningskneg of ’n ouer man aangestel word, moet nuwe vorms dadelik ingevul en deur die gemeente se sekretaris ingedien word. As ’n vrywilliger nie meer kwalifiseer nie, moet die ouer manne die streekkomitee onmiddellik per brief daarvan in kennis stel. Wanneer nog vorms nodig is, kan dit op die maandelikse lektuurbestelvorm aangevra word. Die kringopsiener stel ook belang in diegene wat hulle vir hierdie aspek van heilige diens aanbied. Hy gaan dus elke keer as hy die gemeente besoek die lêer met die afskrifte van die Kingdom Hall Construction Worker Questionnaire-vorms na.

6 Beperk boukoste tot die minimum: Streekboukomitees is aangesê om ’n aankopeafdeling onder die toesig van ’n bekwame ouer man te organiseer. Broers wat in hierdie afdeling werk, ondersoek ywerig alle moontlike verskaffers om deur vergelyking goeie pryse te kry. Op dié manier kan daar bepaal word watter verskaffers gebruik moet word en watter materiaal om te koop. Gedurende die werk aan ’n Koninkryksaalprojek word bekwame broers in die plaaslike gemeente soms genooi om in hierdie afdeling te help.

7 Om seker te maak dat fondse so ekonomies moontlik gebruik word, moet die Streekboukomitee alle uitgawes uit die boufonds goedkeur deur óf tjeks te bekragtig óf bewyse te onderteken. Wanneer ’n Koninkryksaalprojek, hetsy ’n nuwe projek of ’n opknapping, gebruik maak van vrywillige hulp uit gemeentes wat nie die saal gaan gebruik nie, sal die streekkomitee toesig oor die projek hê.

8 Daar word van enige kontrakteurs wat aan die Koninkryksaal werk, verwag om bewys te lewer van ongevalleversekering en aanspreeklikheidsversekering met vereiste minimum dekking, wat die gemeente as addisionele versekerde benoem, en daar moet van retensiereg afstand gedoen word. Dit geld nie vir vrywillige werkers wat gedurende bouprojekte hulp verleen nie.

9 Bystand aan ander lande wat hulp nodig het: Daar is geleenthede wanneer buurstate hulp van streekkomitees nodig het. Sulke hulp is dikwels nodig om ’n plaaslike Streekboukomitee op te lei. Dit is ’n ware blyk van liefde wanneer verantwoordelike broers in hierdie land bereid is om op eie onkoste te reis om in ’n ander land te gaan help. Wanneer ’n versoek van ’n ander land toegestaan word, kies die Genootskap ’n streekkomitee wat dalk nie so ’n vol Koninkryksaalbouprogram het nie om op hierdie manier te dien. Dit dra by tot ’n ordelike reëling.

10 Weens die immer toenemende behoefte aan Koninkryksale in ander lande, is dit noodsaaklik dat bestaande fondse so verstandig moontlik gebruik word. Gemeentes en streekkomitees word dus aangemoedig om soveel moontlik te bespaar wanneer nuwe Koninkryksale gebou en bestaande sale opgeknap word. Ons het baie goeie samewerking gekry in reaksie op hierdie versoek. Bydraes uit welvarender lande word gebruik om lenings te voorsien aan gemeentes in lande waar daar ’n baie dringende behoefte aan nog Koninkryksale bestaan, maar waar daar beperkte middele en ernstige ekonomiese probleme is.

11 Die behoefte aan meer Koninkryksale in sekere lande word in die 1997 Yearbook beklemtoon. Daar word byvoorbeeld melding gemaak van die Oekraïne, waar 47 Koninkryksale tot dusver gebou is en waar nog 56 beplan word. Die behoefte in sulke lande is baie duidelik. Die verslag sê: “Daar is nog baie Koninkryksale in Rusland nodig. Daar is ’n geweldige toename in die aantal Getuies, maar ongeveer 85 persent van die gemeentes onder die Russiese takkantoor het nie permanente vergaderplekke nie. In Zimbabwe, waar daar ongeveer 800 gemeentes is, moet baie van hulle in die ope lug bymekaarkom. Dit het daartoe gelei dat sommige belangstellendes nie so gereeld bywoon nie.” Soortgelyke situasies word in ander lande in Oos-Europa, Afrika en Latyns-Amerika ondervind. Van die 1450 gemeentes in ons veld het ongeveer 400 hulle eie toegewyde Koninkryksaal waarvan ’n verdere 140 gemeentes ook gebruik maak. Dit beteken dat daar nog ongeveer 300 groot gemeentes is wat dringend ’n Koninkryksaal nodig het.

12 Hoewel die liefde van die meeste in hierdie laaste dae verkoel het, hou God se volk aan om hulle liefde vir mekaar te betoon, ’n liefde wat rasse- en gebiedsgrense oorkom (Matt. 24:12). Mag ons in navolging van ons hemelse Vader sulke liefde openbaar deur ons gewillige ondersteuning van die bou van Koninkryksale in Suid-Afrika sowel as sy buurstate. As ons dit doen, sal ons Jehovah se ryk seën en goedkeuring geniet.—Mal. 3:10; Heb. 6:10.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel