Nuwe program vir die spesiale byeenkomsdag
“Doen alles ter wille van die goeie nuus” is die tema van die program vir die spesiale byeenkomsdag wat in September begin (1 Kor. 9:23). Die Koninkryksnuus is die belangrikste nuus wat vandag gehoor word. Die program sal ons help om die unieke voorreg te waardeer wat ons het om draers van hierdie wonderlike nuus te wees. Dit sal ons ook versterk om voort te gaan om die goeie nuus sonder ophou bekend te maak.—Hand. 5:42.
Die program sal ons wys hoe om ons teokratiese opleiding ten volle te benut sodat ons die meeste in die bediening kan uitrig. Ons sal luister na sommige wat aanpassings gemaak het om hulle diens uit te brei, onder andere jongmense wat al hulle kragte inspan ter bevordering van die goeie nuus.—Vergelyk Filippense 2:22.
Die hooftoespraak, wat deur ’n gasspreker gehou sal word, sal beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons ‘geskik bly om die goeie nuus toevertrou te word’ (1 Tess. 2:4). Ons sal gehelp word om te sien dat ons voortdurend in ons denke en gedrag aan God se vereistes en standaarde moet voldoen as ons die voorreg wil behou om die goeie nuus aan ander te verkondig. Die seëninge wat ons ontvang as ons dit doen, sal ook beklemtoon word.
Moenie van hierdie uiters belangrike program af wegbly nie. Pastoegewydes wat graag by die spesiale byeenkomsdag gedoop wil word, moet die presiderende opsiener dadelik daarvan in kennis stel. Nooi almal met wie jy studeer uit om dit by te woon. Kom ons laat Jehovah toe om ons te versterk sodat ons alles ter wille van die goeie nuus kan doen en sodoende die grootste werk voltooi wat voor Armageddon gedoen moet word.