Bybelstudies wat tot dissipels lei
1 “Wat verhinder my om gedoop te word?” het die Etiopiese eunug gevra nadat Filippus “die goeie nuus oor Jesus aan hom bekend gemaak” het (Hand. 8:27-39). In die eunug se geval het hy reeds ’n liefde vir God se geïnspireerde geskrifte gehad, en nadat hy geestelike hulp van Filippus ontvang het, was hy gereed om ’n dissipel te word. Maar nie alle mense is daarvan oortuig dat hulle die Skrif persoonlik moet ondersoek nie.
2 Ons is dankbaar dat Jehovah se organisasie die Kennis-boek voorsien het om mense aan te moedig om die Bybel se boodskap vir ons dag te ondersoek. Die inligting in die boek behoort opregte mense te raak wat dalk geleerd is, maar nie veel van die Bybel weet nie. Hierdie puik instrument is ontwerp om mense te beweeg om die Bybel te wil ondersoek.
3 Wanneer jy ’n Bybelstudie begin, sal dit nuttig wees as jy die uitstekende wenke in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Junie 1996 hersien oor hoe om ’n produktiewe studie in die Kennis-boek te hou. Gedurende die verloop van die studie moet jy die student se vordering in ag neem sodat jy kan vasstel watter gebiede verdere aandag nodig het. Moedig die student aan om sy les vooraf voor te berei en die tekste na te slaan. Kommentare wat hy in sy eie woorde maak, kan sy hartgrondige waardering vir die waarheid weerspieël. Diegene wat aanvullende leeswerk in die Genootskap se publikasies doen en gereeld gemeentelike vergaderinge bywoon, maak gewoonlik vinnig vooruitgang. Moedig hom aan om informeel met ander te praat oor wat hy leer. Wys hom op ’n vriendelike manier wat hy moet doen om geestelik vordering te maak. Ons moet nie ’n onbepaalde tyd lank studies met besluitelose mense hou nie. Studente behoort die inisiatief te neem om te leer, ’n ferm standpunt vir die waarheid in te neem en tot toewyding en doop te vorder.
4 In sommige huise word meer as een studie gehou omdat verskillende lede van die gesin aparte studies het. In die meeste gevalle sal ’n verenigde gesinstudie egter verkieslik wees, aangesien dit sal help om die gesin geestelik nader aan mekaar te bring.
5 Jesus se bevel is dat ons dissipels moet maak (Matt. 28:19). Om dit te doen, moet ons Bybelstudies hou wat die studente help om dermate vordering te maak dat hulle kan vra: “Wat verhinder my om gedoop te word?”