Die “God se weg”-internasionale en streekbyeenkomste vir 1998
1 Spreuke 10:29 herinner ons daaraan dat ‘die weg van die HERE ’n vesting is’. Wat ’n gepaste tema het vanjaar se byeenkoms tog—“God se weg”! Presies hoe gaan hierdie tema gedurende die driedaagse program ontwikkel word? Ons almal sien gretig uit na wat op ons wag. En belangrike punte gaan bespreek word.
2 Sendelinge, internasionale knegte of ander wat in buitelandse toewysings dien, sal dalk julle byeenkoms bywoon. Na verwagting sal daar duisende afgevaardigdes uit ander lande teenwoordig wees in die stede waar die internasionale samekomste gehou gaan word. Miskien sal jy van hierdie besoekers ontmoet. Die byeenkomsprogram sal verslae bevat van hoe Jehovah die werk in verskeie gebiede seën.
3 Dit is die moeite werd om dit by te woon: Baie van ons broers in Afrika het ontberinge gely weens oorloë en onrus in sommige dele van die kontinent. Hulle beskou die byeenkomste van Jehovah se volk as onontbeerlik. Party moet lang afstande loop om ’n byeenkoms by te woon, tog sal hulle dit nie eens oorweeg om weg te bly nie. In die Demokratiese Republiek van die Kongo (die voormalige Zaïre) het ’n 73-jarige broer ongeveer 450 kilometer ver geloop om ’n byeenkoms by te woon. Hy het 16 dae nadat hy sy reis begin het daar aangekom—sy voete was geswel, maar hy was bly om daar te wees. Ná die byeenkoms het hy, verheug en geestelik versterk, weer huis toe geloop. Dit is al jare lank sy roetine!
4 In Mosambiek het ’n streekopsiener en sy vrou ’n hoë berg geklim en ’n groot woestynagtige gebied te voet oorgesteek om ’n kringbyeenkoms by te woon. Hulle het die 90 kilometer lange reis in 45 uur afgelê. Almal wat teenwoordig was, was grootliks aangemoedig deur die goeie voorbeeld van hierdie egpaar. Baie gesinne wat teenwoordig was, het soortgelyke pogings aangewend om daar te wees. Die streekopsiener het gerapporteer dat sommige broers, onder andere een wat 60 jaar oud is, 200 kilometer te voet afgelê het!
5 Het jy definitiewe reëlings getref om vanjaar se byeenkoms by te woon? Jy sal waarskynlik nie lang afstande hoef te loop nie, maar inspanning en opoffering sal nodig wees sodat jy en jou gesin teenwoordig kan wees. Tref reëlings sodat jy die hele program van begin tot end kan bywoon. Baie Bybelstudente is besig om tot toewyding te vorder. Hulle teenwoordigheid by die byeenkoms sal hulle help om die regte besluit te neem. Het jy jou Bybelstudente en ander belangstellendes genooi om dit saam met jou by te woon?
6 ’n Driedaagse byeenkoms: Vanjaar sal die program aangebied word by 22 byeenkomste in ons takkantoor se gebied. Teen dié tyd het jy reeds gehoor na watter byeenkoms julle gemeente toegewys is en moes jy al definitiewe reëlings getref het om al drie dae by te woon. Het jy al jou werkgewer om die nodige verlof gevra? Ons Koninkryksbediening vir Maart 1998, bladsy 6, bevat ’n lys van die voorlopige datums en plekke vir hierdie byeenkomste. (Vir veranderinge aan hierdie lys, sien Aankondigings in Ons Koninkryksbediening vir Mei, Junie en Julie 1998.) Buiten Engels sal die program ook aangebied word in Afrikaans, Kwanyama, Portugees, Sepedi, Suid-Sotho, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa en Zulu, sowel as Gebaretaal by drie byeenkomste.
7 Let wel: Dit is baie belangrik dat jy die byeenkoms bywoon waarheen julle gemeente toegewys is. Moet asseblief nie reëlings tref om een van die internasionale byeenkomste by te woon tensy julle gemeente daarheen toegewys is nie. Byeenkomsfasiliteite waar internasionale byeenkomste gehou gaan word, sal nie eens naastenby sitplek kan verskaf aan diegene wat dit graag wil bywoon nie. Die respek wat elkeen vir hierdie reëlings toon en die samewerking wat hulle gee, sal verseker dat alles welvoeglik en volgens reëling geskied.—1 Kor. 14:33, 40.
8 Die program sal Vrydag-, Saterdag- en Sondagoggend om 9:30 vm. begin. Vrydag en Saterdag sal die program om 5:00 nm. eindig en Sondag om 4:00 nm.
9 Terwyl ons na en van die byeenkoms reis, moet ons na geleenthede soek om informeel te getuig. Petroljoggies, winkelklerke, hotelpersoneel en kelners sal dalk in die Koninkryksboodskap belangstel. Wees voorbereid hierop deur traktate, die jongste tydskrifte, brosjures of ander lektuur saam met jou te neem sodat jy geleenthede kan benut om vir mense te getuig wat dalk andersins nie met die goeie nuus bereik kan word nie.—2 Tim. 3:17.
10 ‘Skenk aandag aan hoe jy luister’: Dit sal goed wees as byeenkomsgangers ag slaan op die raad in Lukas 8:18. Almal word aangemoedig om ’n Bybel asook ’n liedere- en aantekeningboek saam te neem. Luister aandagtig na sleutelpunte uit elke aanbieding en maak kort aantekeninge. Vra jou af hoe jy die materiaal persoonlik kan toepas. Gaan gerus elke aand van die byeenkoms, voor jy gaan slaap, deur jou aantekeninge om te sien hoe nougeset jy Jehovah se weg volg.—Spr. 4:10-13.
11 Daar is al opgelet dat party gedurende die sessies die ouditorium verlaat en in hulle motor gaan sit, en sodoende nie by die program baat vind nie. Ander loop doelloos in die gange rond terwyl hulle in die ouditorium behoort te sit en luister. Daar is al gesien dat groepe jongmense die byeenkomsterrein halfpad deur die middag verlaat. Party van Jehovah se knegte in die verlede het ernstige foute in hulle lewe begaan omdat hulle nie goed geluister het na Jehovah se vermanings nie. Ons wil tog sekerlik nie dieselfde fout maak nie (2 Kon. 17:13-15). “Die getroue en verstandige slaaf” het onderrigting voorberei wat ons almal nodig het. Dit is veral belangrik dat ons gedurende elke sessie van die driedaagse byeenkomsprogram “meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het”. Daar sal elke dag iets aangebied word wat vir ons van besondere belang is, waaronder inligting wat beslis ’n heilsame uitwerking op ons lewenswyse in die toekoms sal hê. Laat ons dus voor die sessie begin in ons sitplekke wees om na die musiekopname te luister en gedurende die hele program in ons sitplekke bly. Gee asseblief die saalwagters jou samewerking wanneer hulle jou versoek om te gaan sit. As ons aandagtig luister en by die komende byeenkomste ten volle van Jehovah se geestelike voorsienings gebruik maak, sal ons hoop stewig geanker wees, sodat “ons nooit sal wegdryf” van God se weg nie.—Matt. 24:45; Heb. 2:1.
12 Kleredrag wat Jehovah verheerlik: In hierdie kritieke tye moet ons meer as die gewone aandag skenk sodat ons nie deur die gees van die wêreld beïnvloed word nie (1 Kor. 2:12). Ons kleredrag en persoonsversorging moet beskeie wees en die waardigheid weerspieël van die God wat ons aanbid (1 Tim. 2:9, 10). Ons het nie duur klere nodig om onder diegene te wees wat “die leer van ons Redder, God, . . . versier” nie (Tit. 2:10). Let op die uitstekende praktiese en skriftuurlike raad in Die Wagtoring van 15 Junie 1997, bladsye 17 en 18, paragrawe 14-18. Moet nooit die kragtige getuienis onderskat wat ons kan gee deur op ’n manier aan te trek wat Jehovah eer nie.
13 ’n Sestienjarige Getuie het vertel dat sy en haar broer een aand ná die sessies na ’n restaurant toe gegaan het en opgemerk het dat party broers en susters wat daar was ander klere gaan aantrek het wat nie gepas was nie. Talle mense in die restaurant was beïndruk deur die Getuies wat netjies en gepas aangetrek was en hulle lapelkaartjies gedra het. Dit het die geleentheid geskep om vir party van hulle te getuig.
14 Gedrag wat Jehovah loof: Ons weet dat ons Christelike gedrag ander se beskouing van ware aanbidding kan beïnvloed. Ons wil ons dus te alle tye gedra op ’n manier wat die goeie nuus waardig is en wat Jehovah loof.—Fil. 1:27.
15 Verlede jaar is daar vir die eerste keer ’n streekbyeenkoms in die noorde van Angola gehou. Op die tweede dag van die byeenkoms is twee plaaslike polisiebeamptes na die terrein gestuur om openbare orde te handhaaf. Hulle was die hele dag daar. Teen die einde van die dag het hulle hulle bewondering uitgespreek vir wat hulle gehoor het en vir die ordelike gedrag wat hulle gesien het. Een van hulle het gesê: “Waarom is ons hierheen gestuur? Ons weet tog dat die samekomste van Jehovah se Getuies ordelik is.”
16 ’n Lid van ’n politieke party in ’n Afrikaland het na Europa gevlug toe al die ander lede van sy party vermoor is. Hy het talle persoonlike probleme ondervind en baie ontmoedig geword. Uiteindelik het hy tot ’n Bybelstudie ingestem. Terwyl hy sy eerste streekbyeenkoms bygewoon het, was hy beïndruk deur die feit dat mense van verskillende agtergronde in vrede en harmonie saam vergader. Hy was oortuig dat hy die waarheid gevind het, en gedurende daardie byeenkoms het hy besluit om al sy politieke bande te verbreek. Hy is later gedoop, en nou dien hy en sy kinders Jehovah.
17 Hoe sal ons gedrag by die byeenkomste vanjaar diegene raak wat dit dalk vir die eerste keer bywoon? Sal hulle die gees van samewerking duidelik raaksien wanneer ons as vrywilligers saamwerk? Sal hulle beïndruk wees deur hoe skoon die terrein is en die feit dat ons en ons kinders enige rommel optel wat dalk naby ons sitplekke lê voordat ons die terrein verlaat? Sal hulle ons goeie gedrag raaksien wanneer ons na en van ons verblyfplek en die byeenkomsterrein reis? Sal hulle opmerk dat ons as ouers te alle tye goed oor ons kinders toesig hou? Laat ons seker maak dat ons die beste indruk moontlik laat op almal wat ons sien.
18 Byeenkomsonkostes: ’n Toegangskaartjie by ’n sportbyeenkoms of ’n ander geleentheid in ’n stadion of byeenkomssaal kan duur wees in vandag se sekulêre wêreld. Dit is deels weens die hoë huurgeld in stedelike gebiede. Die Genootskap het nog altyd ’n beleid van “gratis sitplekke, geen kollektes” by byeenkomste gehad. Hoe sal huurgeld en ander byeenkomsonkostes dan gedek word? Deur die ruimhartige bydraes van diegene wat dit bywoon. Ons is seker dat jy soos God se knegte in die verlede en in navolging van Jehovah God en Jesus Christus ’n gees van vrygewigheid sal openbaar (2 Kor. 8:7). Groot sorg word aan die dag gelê om seker te maak dat alle bydraes veilig bewaar word, aangeteken word en vir hulle voorgenome doel gebruik word. Enige bydraes wat per tjek gemaak word, moet aan die “Watch Tower Convention” uitgemaak word.
19 Sitplekke: Die riglyne wat al ’n hele paar jaar gegee word, sal steeds van toepassing wees, naamlik: SITPLEKKE MAG SLEGS GEHOU WORD VIR JOU EIE GESIN EN ENIGIEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Dit is goed om te sien hoe die broers verbeter het wat hierdie saak betref, en dit het bygedra tot die liefdevolle atmosfeer wat by die byeenkomste heers. By die meeste byeenkomste is daar sekere sitplekke wat makliker bereikbaar is as ander. Toon asseblief bedagsaamheid en laat die geriefliker sitplekke vir die bejaardes en ander wie se omstandighede dit vereis. Onthou, die liefde “soek nie sy eie belang nie”.—1 Kor. 13:4, 5; Fil. 2:4.
20 Kameras, videokameras en bandopnemers: Kameras en opneemapparate mag by byeenkomste gebruik word. Wanneer jy dit gebruik, moet dit egter nie steurend wees nie. As ons tydens die sessies rondloop en foto’s neem, sal dit ander steur wat op die program probeer konsentreer. Hoegenaamd geen opneemapparaat mag aan die elektriese of klankstelsels gekoppel word nie, en hierdie toerusting moet ook nie gange en deurloopareas versper of ander se uitsig belemmer nie.
21 Noodhulp: Die noodhulpafdeling is slegs vir noodgevalle. Neem asseblief jou eie aspirien, spysverteringsmedisyne, verbande, haakspelde en soortgelyke items saam, aangesien sulke dinge nie by die byeenkoms beskikbaar sal wees nie. Diegene wat weet dat hulle aanvalle of insulienskok kry of aan hartprobleme, ensovoorts ly, moet die nodige medikasie saam met hulle neem. Hulle moet deur ’n familielid of ’n gemeentelid vergesel word wat hulle situasie verstaan en ’n noodgeval kan hanteer indien een sou ontstaan. Probleme het al by byeenkomste ontstaan wanneer persone met chroniese gesondheidsprobleme alleen gelaat is en siek geword het. As party met spesiale gesondheidsbehoeftes nie gesinslede het wat hulle kan help nie, moet die ouer manne kennis neem van die situasie en die nodige reëlings tref om hulle te help. Dit is nie moontlik om voorsiening te maak vir spesiale vertrekke by die byeenkomste vir diegene met omgewingsiektes of allergieë nie.
22 Voedsel by die byeenkoms: Elkeen wat teenwoordig is, moet eerder sy eie voedsel saambring as om gedurende die kort middagpouse die terrein te verlaat om iets buitekant te gaan koop. ’n Ligte, voedsame maaltyd wat maklik is om saam te neem, sal waarskynlik voldoende wees. Die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Oktober 1995, paragraaf 26, gee ’n paar idees van wat jy kan saamneem. Glashouers en alkohol word nie in die byeenkomsfasiliteite toegelaat nie. Koelhouers of sakke vir voedsel moet klein genoeg wees om onder jou sitplek te pas. Daar is al gesien dat party in die gehoor gedurende die program eet en drink. Dit toon ’n gebrek aan respek vir die geleentheid.
23 Hoe bly is ons tog dat die “God se weg”-byeenkoms vir 1998 binnekort gaan begin! Het jy reeds reëlings getref om dit by te woon? Mag jy ’n veilige reis hê en verkwik terugkeer huis toe, vasbeslote om in Jehovah se kosbare diens te volhard en, tot jou ewige seën, in God se weg te bly wandel.
[Venster op bladsy 10]
Herinneringe in verband met die byeenkoms
▪ Doop: Doopkandidate moet hulle sitplekke in die aangewese gedeelte inneem vóór die program Saterdagoggend begin. Elkeen wat van plan is om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring. In die verlede het sommige klere gedra wat nie gepas was nie en aan die geleentheid afbreuk gedoen het. Ouer manne wat die vrae in die Ons bediening-boek met doopkandidate bespreek, moet seker maak dat elkeen hierdie punte verstaan. Doop as simbool van ’n mens se toewyding is ’n intieme en persoonlike saak tussen die individu en Jehovah. Dit is dus onvanpas dat kandidate mekaar omhels of hande vashou terwyl hulle gedoop word.
▪ Lapelkaarte: Dra asseblief die 1998-lapelkaart te alle tye terwyl jy in die byeenkomsstad is en na en van die terrein reis. Dit skep dikwels vir ons geleenthede om ’n goeie getuienis te gee. Lapelkaarte en -houers moet deur julle gemeente verkry word, aangesien dit nie by die byeenkoms beskikbaar sal wees nie. Moenie wag tot ’n paar dae voor die byeenkoms voor jy vra vir lapelkaarte vir jou en jou gesin nie. Onthou om jou “Advance Medical Directive/Release”-kaart vir hierdie jaar by jou te hê.
▪ Huisvesting: Ons wil almal asseblief vra om met die Huisvestingsafdeling saam te werk. Gemeentelike sekretarisse moet seker maak dat Kameraansoekvorms onmiddellik na die betrokke byeenkomsadres gestuur word. As jy huisvesting moet kanselleer wat deur die Huisvestingsafdeling gereël is, moet jy die huiseienaar of hotel en die byeenkoms se Huisvestingsafdeling onmiddellik daarvan in kennis stel sodat die kamer weer beskikbaar gestel kan word.
▪ Kinderwaentjies: Die Brandweer stel voor dat dit nie in ’n ouditorium ingeneem word en in deurgange en paadjies of tussen rye sitplekke geplaas word nie. Aangesien groot skares samedromming kan veroorsaak, is kinderwaentjies potensieel gevaarlik vir die baba sowel as vir enigiemand wat daaroor kan struikel. Moet dit dus asseblief nie in die ouditorium inbring nie. Babastoeltjies of reisstoeltjies is toelaatbaar, aangesien dit aan stoele langs die ouers vasgemaak kan word. Jou samewerking is belangrik en word waardeer.
▪ Vrywilligerdiens: Kan jy tyd by die byeenkoms inruim om in een van die afdelings te help? Om ons broers selfs net ’n paar uur te dien, sal baie help en jou groot bevrediging verskaf. As jy kan help, moet jy jou asseblief by die byeenkoms se Vrywilligerafdeling aanmeld. Kinders onder 16 kan ook ’n goeie bydrae lewer deur saam met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene te werk.
▪ ’n Woordjie van waarskuwing: Maak seker dat jou motor te alle tye gesluit is, en moet nooit enigiets oop en bloot in jou motor laat sodat iemand in die versoeking kom om in te breek nie. Diewe en sakkerollers spits hulle toe op groot byeenkomste. Dit sal onverstandig wees om enige waardevolle artikels by jou sitplek te laat. Jy kan nie seker wees dat almal om jou Christene is nie. Waarom iemand in die versoeking stel? Ons het al berigte ontvang dat buitestanders kinders probeer weglok het. HOU JULLE KINDERS TE ALLE TYE IN DIE OOG.