Opsieners wat die leiding neem—die diensopsiener
1 Die diensopsiener is besonder geïnteresseerd in alles wat verband hou met die vooruitgang van die evangelisasiewerk in die gemeente se toegewese gebied. Hy speel dus ’n baie belangrike rol om ons ons verantwoordelikheid te help nakom wat die verkondiging van die goeie nuus betref. As ’n ywerige evangeliedienaar neem hy die leiding in die organisering van alle velddiensverwante sake. As ’n bekwame onderrigter help hy individuele verkondigers om meer bekwaam in die bediening te wees.—Ef. 4:11, 12.
2 Hierdie ouer man hou direk toesig oor die werk van die bedieningsknegte wat toegewys is om die lektuur, tydskrifte en gebied te behartig. Dit is sy verantwoordelikheid om seker te maak dat daar elke maand ’n voldoende voorraad lektuur, tydskrifte en velddiensvorms beskikbaar is vir ons gebruik. Een keer per jaar gaan hy die gebiedslêer na vir alle adresse van huise waar ons gevra is om nie besoek af te lê nie, en hy vra gekwalifiseerde broers om hierdie huise te besoek.
3 Dit is die diensopsiener se verantwoordelikheid om toesig te hou oor verskeie aspekte van die predikingswerk, onder meer getuieniswerk in sakegebied, op straat en per telefoon. Hy is daarop ingestel om praktiese reëlings te tref om deur die week, vakansiedae inkluis, vir velddiens bymekaar te kom. Hy toon opregte belangstelling in die Bybelstudiewerk. Hy soek na maniere om geestelike bystand te verleen aan diegene wat ongereeld of onaktief in die bediening word. Hy is daadwerklik besorg oor die werk van die pioniers en hy hou ’n oog oor die “Pioniers help ander”-program.
4 As ’n lid van die Gemeentelike Dienskomitee stel die diensopsiener enige nodige veranderinge in die Gemeentelike Boekstudiegroepe voor. Wanneer hy julle groep besoek, moet jy seker maak dat jy teenwoordig is en saam met hom aan die velddiens deelneem.
5 Almal in die gemeente moet gewillig met die leiding van die diensopsiener saamwerk. Dit sal ons help om groter welslae in ons dissipelmaakwerk te behaal en meer vreugde uit ons bediening te put.