Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 7/99 bl. 4
  • Kom ons “kom tot die punt!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kom ons “kom tot die punt!”
  • Ons Koninkryksbediening—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • Neem met welslae aan ons lewensreddende bediening deel
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Help ander om van God se Seun, Jesus Christus, te leer
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Hoe om ’n tydskrifaanbieding voor te berei
    Ons Koninkryksbediening—2006
  • Volg die Gulde Reël in jou bediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1999
km 7/99 bl. 4

Kom ons “kom tot die punt!”

1 Het ’n huisbewoner al ooit jou goed voorbereide aanbieding onderbreek met die woorde: “Wat wil jy hê? Kom tot die punt!” Wat kan ons uit so ’n ondervinding leer?

2 Baie mense is vandag ongeduldig. Hulle wil weet wie ons is en waarom ons daar is. Wanneer hulle hoor dat die doel van ons besoek is om die Bybel te bespreek, wil hulle moontlik nie luister nie. In die lewe van baie mense is dit nie belangrik om die Bybel te lees en oor geestelike dinge te praat nie. Hoe kan ons sulke huisbewoners daarvan oortuig dat hulle ’n paar minute moet afstaan om ’n Bybelonderwerp met ons te bespreek?

3 Wat werk die beste: Die sleutel is om vir die huisbewoner te wys dat die Bybel praktiese oplossings bied vir die probleme wat hom raak en om dit in so min woorde as moontlik te doen. Die doeltreffendste aanbiedings bevat ’n spesifieke vraag wat bedoel is om die huisbewoner te laat dink, gevolg deur ’n teks wat die vraag beantwoord. Jy sal dit moontlik geniet om van die volgende wenke toe te pas. Hulle is bedoel om ons te help om vinnig ‘tot die punt te kom’ terwyl ons die belangstelling van die huisbewoner wek.

4 In gebied waar mense dikwels sê dat hulle nie belangstel nie, kan jy ’n vraag opper wat hulle persoonlik raak:

◼ “Voel jy hoopvol of onseker namate ons die volgende millennium nader? [Wag vir ’n antwoord.] Die Bybel het die ontstellende gebeure voorspel wat ons vandag sien, sowel as wat die uiteinde daarvan sal wees.” Lees 2 Timoteus 3:1, 2, 5 en Spreuke 2:21, 22.

◼ “Daar is groot kommer in hierdie land oor gesondheidsorg. Het jy geweet dat God belowe dat hy alle gesondheidsprobleme permanent sal oplos?” Lees Openbaring 21:3, 4.

◼ “Hoe dink jy sou ons gemeenskap daarby baat vind as almal wat hier woon Bybelbeginsels toepas?” Lees Matteus 22:37-39.

5 Aangesien ons die opdrag het om by elke moontlike geleentheid die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, moet ons die aandag vestig op wat die Koninkryk gaan doen. Jy kan sê:

◼ “Het jy geweet dat die wêreld se oudste boek, die Bybel, voorspel het dat daar een regering vir die hele wêreld sal wees?” Lees Daniël 2:44.

◼ “Hoe dink jy sou toestande gewees het as Jesus Christus oor die aarde geheers het?” Lees Psalm 72:7, 8.

6 In ’n gebied waar mense godsdienstig is, kan jy een van hierdie inleidings probeer:

◼ “Daar word teen baie mense gediskrimineer weens hulle geslag, godsdiens of velkleur. Hoe dink jy voel God oor sulke vooroordeel?” Lees Handelinge 10:34, 35.

◼ “Ons weet dat Jesus Christus baie wonderwerke in sy dag verrig het. As jy hom kon vra om nog een wonderwerk te verrig, wat sou dit wees?” Lees Psalm 72:12-14, 16.

7 As die huisbewoner huiwerig is om die deur oop te maak, kan jy ’n gesprek begin deur te sê:

◼ “Vandag is die meeste mense moeg om na probleme te luister. Hulle wil oplossings hê. Jy voel ongetwyfeld ook so. Maar waar kan ons ware oplossings vir ons probleme vind?” Wag vir ’n antwoord. Lees 2 Timoteus 3:16, 17.

8 Probeer dit gerus. Dikwels is ’n eenvoudige, bondige vraag al wat nodig is om ’n huisbewoner se belangstelling te prikkel. ’n Vrou wat voorheen teen die Getuies gekant was, het twee susters ingenooi nadat een van hulle haar gevra het: “Weet jy wat die Koninkryk is waarvoor jy in die Onse Vader bid?” Die vraag het die vrou nuuskierig gemaak, en sy het tot ’n Bybelstudie ingestem. Sy is nou ’n toegewyde kneg van Jehovah!

9 Wees opreg wanneer jy met ’n huisbewoner praat. Praat uit jou hart. Mense is meer geneig om gunstig te reageer wanneer hulle oortuig is dat ons opreg in hulle belangstel.—Hand. 2:46, 47.

10 Die werk om die goeie nuus te verkondig, is vandag ’n uitdaging. Party huisbewoners is agterdogtig teenoor vreemdelinge. Ander lei ’n baie besige lewe en het min tyd om af te staan. Tog kan ons daarvan seker wees dat daar nog baie verdienstelikes is wat gevind moet word (Matt. 10:11). Ons pogings om hulle te vind, sal waarskynlik doeltreffender wees as ons ons aanbiedings kort hou en ‘tot die punt kom’.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel