Help ander om van God se Seun, Jesus Christus, te leer
1 Desember is die maand waarin die meeste verklaarde Christene meer aan Jesus dink as tydens enige ander tyd van die jaar. Dit is dus ’n goeie maand om die boek Die grootste mens wat nog geleef het aan te bied. Ons sal ongetwyfeld baie huisbewoners vind wat graag meer van God se Seun wil leer. Hoe kan ons te werk gaan om hierdie kosbare publikasie aan te bied?
2 Probeer dadelik ’n Bybelgebaseerde gesprek aanknoop wat die aandag op Jesus vestig.
Nadat jy die huisbewoner gegroet het, kan jy iets sê soos:
◼ “Ons vra ons bure vandag wat hulle dink wanneer hulle in hulle Bybel lees dat hulle vir ewig kan lewe. [Laat huisbewoner antwoord.] Dit is van spesiale belang, want die Bybel praat ongeveer 40 keer van daardie moontlikheid. Wat kan so ’n lewe vir ons beteken? Kyk wat sê Openbaring 21:4. [Lees.] Het jy opgemerk wat in die teks belowe word? [Laat huisbewoner antwoord.] Hoe kan ons die ewige lewe verkry?” Lees Johannes 17:3 en beklemtoon hoe belangrik dit is om kennis van God en van sy Seun, Jesus Christus, op te doen. Wys vir die huisbewoner die Grootste mens-boek en gebruik die tussenhofies in die inleiding om sy belangstelling nog verder aan te wakker.
3 As die huisbewoner nie daarin belangstel om hierdie puik publikasie te bekom nie, kan jy die jongste nommers van Die Wagtoring en die Ontwaak! of die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? aanbied. Vestig die aandag op een of twee spesifieke punte in die publikasie wat jy aanbied. Bied aan om op ’n geskikte tyd terug te gaan en die onderwerp verder met hom te bespreek.
4 As dit lyk asof die huisbewoner besig is, is dit dalk verstandig om die voorafgaande aanbieding te verkort. Nuwer verkondigers sal dit dalk ook maklik vind om die volgende aanbieding te gebruik.
Nadat ons ons voorgestel het, kan ons sê:
◼ “Ons vra ons bure vandag wat hulle dink wanneer hulle in hulle Bybel lees dat hulle vir ewig kan lewe. Kyk byvoorbeeld na wat Jesus in Johannes 17:3 gesê het. [Lees.] Hierdie boek is gedruk sodat mense meer van Jesus Christus en sy leringe te wete kan kom.” Maak die Grootste mens-boek by ’n paar van die pragtige prente oop. Blaai na die inleiding en lees die tweede paragraaf onder die tussenhofie “Vind baat daarby om van hom te leer”. Lig die huisbewoner in dat hy hierdie publikasie teen ’n bydra van R9,00 kan bekom.
5 As hy die boek neem, kan jy die grondslag vir ’n Bybelstudie lê deur aan te bied om dadelik of wanneer jy oor ’n paar dae terugkom die eerste hoofstuk “Boodskappe vanuit die hemel” te bespreek. In plaas daarvan dat jy vir die huisbewoner sê dat julle ’n sekere hoeveelheid tyd aan die volgende besoek moet bestee, kan jy net sê dat hy in slegs ’n paar minute nog interessante inligting oor Jesus Christus uit God se Woord, die Bybel, kan leer.
6 Laat ons almal gedurende hierdie wêreldse vakansieseisoen mense se aandag op die waarheid oor God se Seun, Jesus Christus, vestig sodat ons hulle op die weg na die ewige lewe kan help.—Matt. 7:14.