Ons verkondig goeie nuus
1 Wat ’n wonderlike voorreg het ons tog om die draers van “goeie nuus van goeie dinge” te wees! (Rom. 10:15). Ons het ’n verkwikkende boodskap om oor te dra aan mense wat deur onrus en wanhoop omring word. Hoe kan ons hulle help besef dat ons hulle “goeie nuus van iets beters” bied?—Jes. 52:7, NW.
2 Berei ’n positiewe boodskap voor: Ons gesprekke in die bediening sal ’n heilsame uitwerking hê as ons goeie dinge beklemtoon. Wanneer ons dus ons aanbieding voorberei en die publikasie hersien wat ons gaan aanbied, moet ons positiewe aspekte van die boodskap na vore bring. As ons ons Bybelse hoop met vertroue en geesdrif oordra, kan ons verwag om bemoedigende resultate te hê.—Spr. 25:11.
3 Hoewel ons simpatiek is wanneer mense vertel hoe hulle deur verslegtende wêreldtoestande geraak word, moet ons hulle aandag vestig op die ware oplossing vir die mensdom se probleme, God se Koninkryk. Selfs wanneer ons Jehovah se naderende ‘dag van wraak’ bespreek, wil ons toon dat dit in werklikheid “goeie nuus aan die sagmoediges” beteken (Jes. 61:1, 2, NW). Ons kan diegene wat na ons luister, gerusstel dat alles wat Jehovah doen uiteindelik die grootste geluk sal bring en die heel beste uitkoms sal hê.
4 Verkondig die waarheid met ware vreugde: Wanneer mense die vreugde op ons gesig en die vertroue in ons stemtoon waarneem, is hulle meer geneig om te luister. As ons ’n optimistiese uitkyk weerspieël, sal diegene wat na ons luister, sien dat ons ons ‘verheug in die hoop’ (Rom. 12:12). Gevolglik sal hulle dalk meer geneig wees om gunstig op die goeie nuus te reageer. Ons het beslis goeie rede om altyd ’n positiewe, vreugdevolle gesindheid in elke aspek van ons bediening te openbaar.
5 As bedienaars van die goeie nuus doen ons baie meer as om net kennis aan mense oor te dra. Ons predikingswerk bied ’n vaste hoop van ’n beter lewe nou, asook in die toekoms (1 Tim. 4:8). Wanneer ons iemand nader, sal ons positiewe gemoedstemming weerspieël word in wat ons sê en sal dit mense help om die goeie nuus aan te neem. Laat ons opregtes van hart aanspoor om die opwindende goeie nuus wat ons verkondig aan te neem, deur aandag te skenk aan wat ons sê en hoe ons dit sê!