‘Wat kan ek doen?’
1 ‘Wat kan ek doen?’ Hierdie vraag moes ongetwyfeld opgekom het by die lede van die Bybelstudiegroepie wat deur Charles Taze Russell in die 1870’s op die been gebring is. Namate hulle ’n beter begrip van God se wil gekry het, moes daardie vroeë Bybelstudente ongetwyfeld gewonder het wat hulle kon doen om ander te help om van God se voorneme te leer. Dit was beslis ’n ontsaglike taak om die ganse wêreld met die Bybelkennis te bereik wat hulle besig was om in te neem.
2 Gelukkig vir ons het hulle daardie uitdaging die hoof gebied. Hoe? Elke individu het sy oënskynlik onbeduidende deeltjie gedoen, sodat Jehovah se Getuies vandag wêreldwyd bekend is—’n organisasie van bykans sesmiljoen Koninkryksverkondigers wat in ongeveer 90 000 gemeentes in 234 lande en eilande van die see dien!—Jes. 60:22.
3 Gee jou volle ondersteuning: Dit is noodsaaklik dat elkeen van ons ’n deelname het aan die groot werk wat Jesus voorspel het in hierdie laaste dae gedoen sou word (Mark. 13:10). Hierdie werk kan sekerlik nie aan die beperkte getal ouer manne oorgelaat word nie, en die predikingswerk rus ook nie uitsluitlik op die skouers van die pioniers nie. In werklikheid het elke toegewyde Christen ’n belangrike rol om te speel. Ons almal kan aan die een of ander vorm van die predikingswerk deelneem (1 Tim. 1:12). In watter mate ons dit ook al doen, ons en ander word daardeur bevoordeel.—1 Tim. 4:16.
4 Elkeen kan ook op ander betekenisvolle maniere sy volle ondersteuning aan ons Christenbroederskap gee. Ons kan die gemeentelike vergaderinge ondersteun deur dit gereeld by te woon en geesdriftig daaraan deel te neem (Ps. 122:1, 8, 9). Ons kan ons deel doen om die gemeente sedelik rein te hou. Ons kan die wêreldwye werk na gelang van ons vermoë finansieel ondersteun. Ons kan help om die Koninkryksaal skoon te maak. Almal kan ’n hartlike gees van liefde en eenheid in die gemeente bevorder deur nuwelinge, jongmense en ouer persone by te staan.—Kol. 3:12, 14.
5 Dus vra jy dalk: ‘Wat kan ek doen?’ Hoewel jou individuele pogings dalk klein lyk, dra jy by tot ’n sterk, bedrywige en gesonde gemeente as jy jou deel doen. Sodoende speel ons almal ’n belangrike rol in die verheerliking van Jehovah se naam!