Is jy ’n gereelde Koninkryksverkondiger?
1 Ons almal was verheug om te hoor dat Suid-Afrika ’n hoogtepunt van 67 069 verkondigers in Augustus 1999 bereik het. Dit was waarlik ’n verenigde en vasberade poging! In die daaropvolgende maande het van hierdie verkondigers dit klaarblyklik moeilik gevind om gereelde Koninkryksverkondigers te wees, want sedertdien was die maandelikse gemiddelde ongeveer 63 300. Dit dui daarop dat 1 uit 16 verkondigers nie gerapporteer het dat hulle elke maand aan die bediening deelgeneem het nie. Ons is seker dat die aanmoediging hieronder kan help om die situasie reg te stel.
2 Waardeer die voorreg: Ons moet diepe waardering hê vir ons voorreg om die goeie nuus van die Koninkryk aan ander te vertel. Hierdie werk maak Jehovah se hart bly en help opregtes van hart om die weg na die lewe te leer (Spr. 27:11; 1 Tim. 4:16). As ons gereeld getuig, word ons meer ervare in die bediening, en dit bring vreugde mee en ’n gevoel dat ons iets bereik het.
3 Rapporteer jou velddiens: Party wat velddiens doen, rapporteer dit nie betyds nie. Ons moet nooit voel dat ons pogings nie die moeite werd was om te rapporteer nie. (Vergelyk Markus 12:41-44.) Ons moet beslis rapporteer wat ons gedoen het! As ons tuis ’n stelsel het, soos om ’n kalender te gebruik, waarvolgens ons die tyd kan aanteken wat ons in die bediening deurgebring het, sal dit as ’n voortdurende herinnering dien om stiptelik aan die einde van elke maand ’n akkurate rapport in te gee.
4 Gee die nodige hulp: Plaaslike reëlings moet dalk verbeter word om diegene te help wat hulp nodig het om gereeld aan die bediening deel te neem. Die gemeentelike sekretaris en boekstudiehouers moet reël dat ervare verkondigers aan hulle hulp verleen. As jy kinders of ander Bybelstudente het wat ongedoopte verkondigers is, moet jy hulle leer om elke maand hulle velddiens te rapporteer.
5 Miskien onthou jy die lewensverhaal “Dankbaar vir ’n lang lewe in Jehovah se diens” in Die Wagtoring van 1 Oktober 1997. Suster Ottilie Mydland van Noorweë het ’n gereelde verkondiger van die goeie nuus geword voordat sy in 1921 gedoop is. Ses-en-sewentig jaar later, op 99-jarige ouderdom, het sy gesê: “Ek is bly dat dit nog steeds vir my moontlik is om ’n gereelde verkondiger te wees.” Wat ’n wonderlike gesindheid vir al Jehovah se knegte om na te volg!