Getuig jy met vrymoedigheid?
1 Ondanks die feit dat Petrus en Johannes deur teenstanders gevange geneem en gedreig is, het hulle voortgegaan om die Koninkryksboodskap met vrymoedigheid te verkondig (Hand. 4:17, 21, 31). Wat beteken dit vandag vir ons om met vrymoedigheid te getuig?
2 Getuig met vrymoedigheid: ’n Sinoniem vir “vrymoedig” is “onverskrokke”, wat op “onwrikbare vreesloosheid en volharding” dui. Om met vrymoedigheid te getuig, beteken vir ware Christene dat hulle onbevrees die goeie nuus aan ander sal verkondig wanneer ’n gepaste geleentheid hom voordoen (Hand. 4:20; 1 Pet. 3:15). Dit beteken dat ons ons nie oor die goeie nuus skaam nie (Ps. 119:46; Rom. 1:16; 2 Tim. 1:8). Vrymoedigheid is dus ’n noodsaaklike eienskap as ons ons opdrag wil uitvoer om in hierdie tyd van die einde die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Dit beweeg ons om die goeie nuus vir mense te vertel waar ons hulle ook al vind.—Hand. 4:29; 1 Kor. 9:23.
3 Vrymoedigheid by die skool: Vind jy dit moeilik om vir jou skoolmaats te getuig omdat jy geneig is om bang of skaam te wees? Soms is dit nie maklik nie; trouens, dit kan ’n ware uitdaging wees. Maar Jehovah sal jou die krag gee as jy bid vir vrymoedigheid om vir ander te getuig (Ps. 138:3). Vrymoedigheid sal jou help om jou as een van Jehovah se Getuies te identifiseer en om bespotting die hoof te bied. Jou getuieniswerk by die skool kan gevolglik diegene red wat na jou luister.—1 Tim. 4:16.
4 Vrymoedigheid by die werk: Staan jy by die werk as een van Jehovah se Getuies bekend? Jou werksmaats kan moontlik slegs met die goeie nuus bereik word as jy vir hulle getuig. Jou vrymoedigheid sal jou ook help om toestemming te kry om Christelike vergaderinge en byeenkomste by te woon.
5 Vrymoedig onder beproewing: Dit is noodsaaklik dat ons vrymoedigheid bymekaar moet skraap wanneer ons met teenkanting te kampe het (1 Tess. 2:1, 2). Dit help ons om vas te hou aan ons geloof wanneer ons voor dreigemente, bespotting of direkte vervolging te staan kom (Fil. 1:27, 28). Dit versterk ons om standvastig te bly wanneer ons onder druk verkeer om die standaarde van ons God, Jehovah, te verontagsaam. Dit gee ons die krag om vreedsaam te bly wanneer ander rusie probeer maak.—Rom. 12:18.
6 Mag ons volhard om die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig, ongeag die moeilikhede waarvoor ons persoonlik te staan kom.—Ef. 6:18-20.