Maak Jehovah se naam en handelinge bekend
1 “Dank Jehovah, roep sy naam aan, maak onder die volke sy handelinge bekend. . . . Laat die hart van dié wat Jehovah soek, bly wees” (Ps. 105:1, 3, NW). Die psalmis wat hierdie woorde neergeskryf het, het dit werklik geniet om ander van Jehovah en sy “handelinge” te vertel. Watter handelinge? Ongetwyfeld dié wat verband hou met God se glorieryke koningskap en met “die goeie nuus van redding deur hom”.—Ps. 96:2, 3, NW; 145:11, 12, NW.
2 Terwyl ons die 2001-Gedenkmaalseisoen nader, het ons baie redes om ons te verheug oor Jehovah se handelinge met ons. Hoe so? Die Here se Aandmaal is vir alle ware Christene ongetwyfeld die vernaamste viering van die jaar. Daar is geen ander geleentheid soos dié wat betref die belangrikheid, doel of manier waarop dit onderhou word nie. Dit is ’n tyd vir almal van ons om te onthou wat Jehovah en Jesus gedoen het om die middel tot ons redding te voorsien. Dit is dus geen wonder nie dat ons gedurende die Gedenkmaalseisoen verwag om ’n toename in velddiensbedrywighede te sien, terwyl ons “die goeie nuus van redding” bekend maak!
3 Gaan jy hulppionierdiens doen? Verlede April het ’n rekordgetal van 10 126 verkondigers hulppionierdiens in Suid-Afrika gedoen (Botswana het 173 hulppioniers gehad, Lesotho 237, Namibië 92, St. Helena 11 en Swaziland 286.) Kan ons Maart en April vanjaar spesiale maande van groter bedrywigheid in die bediening maak? Maart het vyf Saterdae, April het vyf Sondae en die 7de April sal ons spesiale tydskrifdag wees. Baie verkondigers wat voltyds werk, het gevind dat hulle hulppionierdiens kan doen as hulle beplan om oor die naweke volle dae in die velddiens deur te bring. ’n Hulppionier moet gemiddeld ongeveer 12 uur per week werk om die vereiste 50 uur vir die maand te bereik. Kyk mooi na die voorgestelde roosters in die venster op bladsy 4. Sal een van hulle by jou omstandighede pas? Indien nie, dan kan jy dalk vir hierdie Maart en April jou eie hulppionierdiensrooster opstel.
4 Die ouer manne moet nou al begin om entoesiasme en ondersteuning vir groter velddiensbedrywighede op te bou. In ’n gemeente waar al die ouer manne en bedieningsknegte verlede jaar as hulppioniers gedien het, het 64 van die 121 verkondigers in April pionierdiens gedoen! Die gemeente was ook verheug om te sien dat ses ongedoopte verkondigers in Maart en April begin rapporteer het. Daar is inderdaad geen beter tyd vir kinders en nuwelinge om die ouer manne te vra of hulle kwalifiseer om aan die openbare getuieniswerk te begin deelneem nie.
5 Ekstra inspanning bring seëninge: Gemeentes wat spesiale doelwitte stel en ekstra pogings aanwend, geniet baie seëninge. Party gemeentes kan ’n spesiale poging aanwend om gebied te dek waarin daar selde gewerk word, om op alternatiewe vorme van getuieniswerk te konsentreer of telefoongetuieniswerk te beklemtoon—’n doeltreffende manier om met mense in aanraking te kom wat nie tuis was nie en wat moeilik bereikbaar is.
6 Behoort swak gesondheid of ouderdom enigiemand noodwendig te keer om soveel moontlik in die velddiens te doen? Nie in alle gevalle nie. ’n Suster wat 86 jaar oud is en kanker het, het byvoorbeeld in April hulppionierdiens gedoen ondanks die feit dat haar bene geswel het. Telefoongetuieniswerk het dit vir haar moontlik gemaak om ’n volle deelname aan die velddiens te hê en só groter lof aan Jehovah te bring. Dit het ’n positiewe uitwerking op haar en die gemeente gehad.
7 Berei goed voor vir die Gedenkmaal: Die Gedenkmaal val vanjaar op 8 April. Aangesien dit op ’n Sondag is, behoort meer mense dit te kan bywoon. Ons sal dalk die grootse bywoning tot nog toe hê as ons ons deel doen deur (1) self teenwoordig te wees en (2) ander te nooi om die Gedenkmaal saam met ons by te woon. Wie moet ons nooi?
8 Kyk deur jou persoonlike velddiensverslae vir die name van diegene wat ’n mate van belangstelling in die waarheid getoon het, al besoek jy hulle nie gereeld nie. Twee of drie weke voor die Gedenkmaal moet jy ’n punt daarvan maak om hulle almal te besoek en hulle ’n Gedenkmaaluitnodiging te gee. As jou omstandighede dit toelaat, kan jy aanbied om vervoer te voorsien vir diegene wat dit graag wil bywoon.
9 In sommige gemeentes word nie al die gedrukte Gedenkmaaluitnodigings gebruik nie. Gemeentelike sekretarisse moet sorg dat hulle die uitnodigings vroegtydig beskikbaar stel sodat alles versprei word. Dalk kan jy die tyd en plek van die Gedenkmaal onderaan die uitnodiging tik of netjies skryf. Of jy kan ’n strooibiljet insluit wat die Koninkryksaaladres verstrek, as julle Gedenkmaal daar gehou gaan word. Ons wil julle net daaraan herinner dat Gedenkmaaluitnodigings in die meeste gevalle persoonlik aan die huisbewoner gegee moet word.
10 Onthou die onbedrywiges: Dit is ’n bron van vreugde wanneer ’n Bybelstudent hom aan Jehovah toewy en dit deur waterdoop simboliseer. Maar elke jaar is daar sommige in ons midde wat ophou om met ons te assosieer, en hulle hou op om ander van Jehovah se naam en handelinge te vertel. Ons het goeie rede om besorg te wees. Hoewel die meeste onbedrywiges nie hulle rug op die waarheid gekeer het nie, het hulle dalk weens ontmoediging, persoonlike probleme of ander sorge van die lewe opgehou om te preek (Matt. 13:20-22). Diegene wat geestelik swak is, het hulp nodig om na die gemeente terug te keer voordat Satan se stelsel hulle verswelg (1 Pet. 5:8). Hierdie Gedenkmaalseisoen moet ons ’n spesiale poging aanwend om alle onbedrywiges wat aan die vereistes voldoen, te help om weer aan die verkondiging van die goeie nuus deel te neem.
11 Die gemeentelike sekretaris moet die boekstudiehouers in kennis stel van enigeen in hulle groep wat onbedrywig is. Die Gemeentelike Dienskomitee moet die leiding neem en reël dat herdersbesoeke by alle onbedrywiges gedoen word. As daar vasgestel word dat die persoon by ’n persoonlike Bybelstudie baat sal vind, moet die diensopsiener reël dat hulp verleen word, nadat hy saam met die ander lede van die dienskomitee besluit het wie die beste persoon sal wees om die studie te hou. Hoewel dit dalk nie nodig sal wees om die studie oor ’n lang tydperk te hou nie, kan die een wat gevra word om die studie te hou die tyd, herbesoeke en Bybelstudie rapporteer.
12 Verlede April het ’n suster wat van huis tot huis gewerk het tydskrifte vir ’n jong man in die straat aangebied. Hy het gesê dat sy vrou ’n onbedrywige Getuie is. Hy het gevra waar die Koninkryksaal is en die suster genooi om hom en sy vrou te besoek. As gevolg hiervan het die egpaar die daaropvolgende vergadering bygewoon en tot ’n Bybelstudie ingestem.
13 Maak jou gereed om meer te doen! Die psalmis wat verklaar het dat ons Jehovah se naam en handelinge bekend moet maak, het bygevoeg: “Sing tot hom, besing hom met melodieë, oordink al sy wonderlike werke. Roem in sy heilige naam” (Ps. 105:2, 3, NW). Laat ons ons belangstelling in Jehovah se groot naam en sy “wonderlike werke” toon deur harder in die bediening te werk en hierdie Gedenkmaalseisoen die beste tot nog toe te maak!
[Venster op bladsy 4]
Verskeie maniere om ’n hulppionierdiensrooster van 12 uur per week op te stel
Dag Ure
Maandag 1 2 − −
Dinsdag 1 − 3 −
Woensdag 1 2 − 5
Donderdag 1 − 3 −
Vrydag 1 2 − −
Saterdag 5 4 3 5
Sondag 2 2 3 2
Totaal: 12 12 12 12
Sal een van hierdie roosters vir jou werk? Stel jou eie rooster op indien een van hierdie nie vir jou werk nie.