Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 2/01 bl. 5-6
  • Suksesvolle telefoongetuieniswerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Suksesvolle telefoongetuieniswerk
  • Ons Koninkryksbediening—2001
  • Soortgelyke materiaal
  • Telefoongetuieniswerk kan doeltreffend wees
    Ons Koninkryksbediening—2009
  • Telefoon-getuieniswerk—’n Manier om baie mense te bereik
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Begin Bybelstudies by die deur en oor die telefoon
    Ons Koninkryksbediening—2005
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—1996
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—2001
km 2/01 bl. 5-6

Suksesvolle telefoongetuieniswerk

1 Ons doelwit as Getuies van Jehovah is nie net om aan die verkondiging van die goeie nuus deel te neem nie, maar ook om elke persoon wat ons kan, met die Koninkryksboodskap te bereik (Hand. 10:42; 20:24). Hoewel die huis-tot-huis-bediening steeds die vernaamste manier is waarop ons mense bereik, besef ons dat ons selfs met hierdie stelselmatige metode nie met almal in aanraking kom nie. Om dus ‘ons bediening ten volle uit te voer’, gebruik ons ander metodes—insluitende telefoongetuieniswerk—om skaapgeaarde mense te vind.—2 Tim. 4:5.

2 In baie gebiede woon mense in woonstelblokke waar daar streng veiligheidsmaatreëls is, in komplekse met beperkte toegang of in afgeperkte woonbuurte waar dit moeilik is om mense met ons tradisionele deur-tot-deur-metode te bereik. Selfs in gebiede waar ons van huis tot huis kan werk, is baie mense nie tuis nie. Maar baie verkondigers behaal groot welslae deur telefonies met hierdie inwoners in aanraking te kom.

3 Is jy huiwerig om telefoongetuieniswerk ’n deel van jou bediening te maak? Een broer erken: “Ek hou nie daarvan dat enigiemand my tuis skakel om iets aan my te verkoop nie; daarom was ek uit die staanspoor negatief oor hierdie vorm van velddiens.” Maar nadat hy net twee telefoonoproepe gemaak het, het hy gesê: “Ek is dol daaroor! Ek het nooit gedink dit sou gebeur nie, maar ek is dol daaroor! Mense is ontspanne oor die telefoon, en jy het alles byderhand wat jy nodig het. Dis wonderlik!” ’n Suster het ’n soortgelyke reaksie gehad: “Ek was regtig nie opgewonde oor telefoongetuieniswerk nie. Om die waarheid te sê, ek wou dit nie doen nie. Maar ek het dit probeer en gevind dat dit baie produktief is. Ek het 37 herbesoeke danksy telefoongetuieniswerk en meer studies as wat ek kan behartig!” As jy bereid is om telefoongetuieniswerk te probeer, kan jy ook suksesvol wees.

4 Georganiseerd vir telefoongetuieniswerk: Die diensopsiener hou gewoonlik toesig oor die gemeente se getuieniswerk. Maar na gelang van die behoefte kan die liggaam van ouer manne besluit om ’n ander ouer man of ’n bekwame bedieningskneg aan te stel om in noue samewerking met hom telefoongetuieniswerk te organiseer. Die broer wat na die gebied omsien, moet ook betrokke wees aangesien hy die gebied moet toewys en die verslag daaroor op datum moet hou. Die kringopsiener sal ook belangstel in hoe die program vorder.

5 As daar dele in julle gebied is waar deur-tot-deur-getuieniswerk nie moontlik is nie, moet telefoongebied gereël word. Die broer wat hierdie toewysing het, moet sorgvuldig ’n lys saamstel van al die adresse wat ’n deel van die telefoongebied moet word. Dit moet relatief klein gehou word sodat dit gereeld gedek kan word. Op alle gebiedskaarte waarop hierdie gebiede voorkom, moet ’n aantekening gemaak word dat die spesifieke gedeelte vir telefoongetuieniswerk opsy gesit is.

6 Waar kan julle die telefoonnommers kry? Dit kan nogal ’n uitdaging wees. Sommige gemeentes stel lyste met telefoonnommers saam deur die gewone telefoongids te gebruik. As ’n kompleks met streng veiligheidsmaatreëls sy eie telefoongids het, kan julle die nommers dalk daar kry. Anders kan julle moontlik die name van die inwoners op die lys in die voorportaal afskryf en dit in ’n gewone telefoongids naslaan. Watter metode julle ook al gebruik om telefoonnommers te kry, maak seker dat dit wettig is. As jy die nommer by bure of iemand anders gekry het, moet jy dalk mooi dink voordat jy die bron bekend maak.

7 Die ouer manne kan opregte belangstelling in hierdie werk toon deur te reël dat diegene met ondervinding in telefoongetuieniswerk ander oplei, moontlik deur die “Pioniers help ander”-program. Van tyd tot tyd kan ’n Diensvergaderingdeel vir plaaslike behoeftes gebruik word om tot die sukses van hierdie aspek van die getuieniswerk by te dra.

8 Wanneer ouer manne herdersbesoeke doen by diegene wat aan hulle huis gekluister is of wat siek is, moet hulle wakker wees om hulle aan te moedig om aan telefoongetuieniswerk deel te neem. Dalk kan ’n ouer man ’n paar oproepe maak terwyl die verkondiger toekyk. Dan sal die verkondiger dalk daarvan hou om self ’n oproep te maak. Baie wat op hierdie manier begin het, bestee ’n paar minute elke dag aan hierdie werk, en hulle geniet dit werklik.

9 Wenke vir sukses: Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om te preek, het hy ‘hulle twee-twee uitgestuur’ (Luk. 10:1). Waarom? Hy het geweet dat hulle by mekaar sou leer en mekaar sou aanmoedig as hulle saam werk. Dieselfde geld vir telefoongetuieniswerk. Deur saam met ’n maat te werk, kan julle by mekaar leer, julle resultate bespreek en mekaar wenke gee vir die volgende gesprek. Selfs tydens ’n telefoonoproep kan julle mekaar help om gepaste inligting na te slaan. Ons stel voor dat verkondigers twee-twee saam werk wanneer hulle telefoongetuieniswerk doen, soos in die geval van tradisionele huis-tot-huis-getuieniswerk.

10 Sodat jy helderder kan dink en beter kan konsentreer, moet jy op ’n plek sit waar jy jou velddiensbenodigdhede—Bybel, Redenering-boek, Vereis-brosjure, tydskrifte, ensovoorts—voor jou kan neersit. Skryf ’n paar aanbiedings neer en hou dit waar jy dit kan sien. Wees voorbereid om akkurate en volledige verslae te hou, onder andere die datum en tyd van die dag, sodat jy sal weet wanneer om die belangstelling wat jy vind, verder te kweek.

11 Mense is dikwels versigtig wanneer hulle ’n onbekende stem oor die telefoon hoor. Wees dus hartlik, vriendelik en taktvol. Die huisbewoner kan slegs jou karakter en opregtheid bepaal deur na jou stem te luister. Ontspan en praat uit die hart. Praat stadig en duidelik en hard genoeg sodat jy gehoor kan word. Gee die huisbewoner ’n kans om te praat. Verstrek jou volle naam en sê dat jy in die omgewing woon. Ons wil nie hê dat mense moet dink ons is telebemarkers nie. Maak jou oproep eerder persoonlik, as om te sê dat jy al die inwoners in ’n sekere gebou of kompleks skakel.

12 Telefoonaanbiedings: Baie van die inleidings op bladsye 9-15 van die Redenering-boek kan vir telefoongetuieniswerk aangepas word. Jy kan dalk sê: “Ek skakel omdat ek jou nie persoonlik kan kom sien nie. Die doel van my oproep is om jou opinie oor ’n baie interessante vraag te vra.” Vra dan die vraag.

13 Die eerste aanbieding onder die onderhofie “Misdadigheid/Veiligheid” kan soos volg gebruik word: “Hallo. My naam is _____. Ek woon in die omgewing. Ek wil jou verseker dat ek nie enigiets verkoop of ’n opname doen nie. Ek skakel omdat ek besorg is oor persoonlike veiligheid. Daar is baie misdadigheid en dit raak ons lewens. Dink jy dat die dag ooit sal aanbreek wanneer alle mense snags op straat kan wees en veilig kan voel? [Wag vir ’n antwoord.] Ek wil graag vir jou lees wat God belowe het om te doen.”

14 Om Bybelstudies direk oor die telefoon aan te bied, het goeie resultate opgelewer. Die studie kan binne ’n paar minute gedemonstreer word. Bied aan om die persoon tuis te besoek of, as hy huiwerig is, bied aan om op ’n ander dag die studie per telefoon voort te sit.

15 Wanneer jy ’n gesprek afsluit, moet jy iets in gedagte hê wat daartoe sal lei dat jy die persoon tuis kan besoek of vir hom lektuur kan pos. As die persoon huiwer om sy adres vir jou te gee, kan jy aanbied om weer te skakel. Dit sal dalk verskeie oproepe verg voordat hy gerus genoeg voel om jou na sy huis te nooi.

16 Neem die inisiatief: ’n Vyftienjarige suster het een oggend haar bediening met ’n telefoonoproep begin. Sy het met ’n vrou gesels wat ingestem het om ’n Kennis-boek te neem. Toe die suster die boek by haar huis aflewer, wou die vrou weet hoe die jong meisie haar telefoonnommer geken het, aangesien dit nie in die telefoongids is nie. Die suster het die verkeerde nommer geskakel! Die vrou wou graag ’n studie hê en is nou ’n ongedoopte verkondiger.

17 ’n Suster het telefoongebied geneem, maar drie weke lank uitgestel om dit te gebruik omdat sy bang was. Wat het haar die moed gegee om te begin? Sy het die artikel “Wanneer ek swak is, dan is ek kragtig” in die Ontwaak! van 22 Januarie 1997 onthou. Dit het gehandel oor ’n Getuie wat per telefoon getuig het, ondanks fisiese beperkinge. Die suster het gesê: “Ek het tot Jehovah gebid en gevra vir krag. Ek het hom gevra om my die regte woorde te gee wanneer ek my aanbieding doen.” Wat was die resultaat van haar eerste dag van telefoongetuieniswerk? Sy sê: “Jehovah het my gebede verhoor. Die mense het na my geluister, en ek het gereël om ’n herbesoek te doen.” Later het haar telefoongetuieniswerk tot ’n Bybelstudie gelei. Ten slotte sê sy: “Jehovah het my weer eens geleer om op hom te vertrou en nie op myself nie.”—Spr. 3:5.

18 Om die waarheid per telefoon aan te bied, het ’n suksesvolle manier geword om die goeie nuus te verkondig. Berei goed voor en neem met jou hele hart daaraan deel. Moenie mismoedig word as jy nie binne die eerste paar probeerslae ’n gunstige reaksie kry nie. Bid vir Jehovah se leiding, en ruil wenke en ondervindinge uit met ander wat op hierdie opwindende manier getuig. Mag ons, met ’n begeerte om niemand in ons gebied oor te slaan nie, ons bediening deeglik en met dringendheid uitvoer.—Rom. 10:13, 14.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel