Bevredig jou geestelike behoefte
1 Ons komende “Ywerige Koninkryksverkondigers”-streekbyeenkoms bied ons ’n wonderlike geleentheid om ons geestelike behoefte te bevredig. Soos met ’n voedsame fisiese maaltyd kan ons seker wees dat die program ons geestelik sal voed “met die woorde van die geloof” (1 Tim. 4:6). Dit sal ons in staat stel om nader aan Jehovah te kom. En ons kan verwag om raad en aanmoediging te ontvang wat ons sal help om beproewinge in ons lewe te verduur. Jehovah gee ons die versekering: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou” (Ps. 32:8). Hoe geseënd is ons tog dat ons sy liefdevolle leiding in ons lewe het! Kyk na ’n paar praktiese stappe wat ons kan doen sodat ons die grootste voordeel uit die byeenkomsprogram kan trek.
2 Ons moet ons hart voorberei: Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om sy eie figuurlike hart te bewaak (Spr. 4:23). Dit vereis dat ons selfdissipline beoefen en eerlik met onsself is. Die byeenkoms is ’n tyd om oor ons verhouding met Jehovah te peins, ’n tyd om ‘diep te kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort’. As ons ons hart wil voorberei om ‘die inplanting van die woord te aanvaar’, moet ons Jehovah smeek om ons te deurvors om vas te stel of daar in ons enigsins ’n “pynlike weg” is wat reggestel moet word, en om ons op “die weg van onbepaalde tyd” te lei.—Jak. 1:21, 25; Ps. 139:23, 24.
3 Luister en peins: Jesus het Maria geprys omdat sy aandagtig na sy woorde geluister het en het gesê: “Maria . . . het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” (Luk. 10:39, 42). As ons dieselfde geestesgesindheid het, sal ons nie toelaat dat kleinighede ons aandag aflei nie. Ons sal seker maak dat ons gedurende die hele program in ons sitplek is en aandagtig luister. Ons sal nie onnodig gesels of rondloop nie en sal sorg dat ons nie ander se aandag met selfone, roepradio’s, kameras en videokameras aflei nie.
4 Wanneer ons na die toesprake luister, is dit goed om kort aantekeninge te maak om ons te help ontleed hoe die onderwerp ontwikkel word. Ons moet dít wat ons hoor, verbind met wat ons reeds weet. Dit sal ons help om die inligting te verstaan en te onthou. Wanneer ons ons aantekeninge hersien, moet ons dit doen met die doel om die inligting toe te pas. Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Hoe raak dit my verhouding met Jehovah? Watter veranderinge moet ek in my lewe aanbring? Hoe kan ek hierdie inligting toepas wanneer ek met ander te doen het? Hoe kan ek dit in my bediening gebruik?’ Ons moet die gedagtes wat ons veral waardeer, met ander bespreek. As ons dit doen, sal dit ons help om Jehovah se woorde ‘in ons hart’ te bewaar.—Spr. 4:20, 21.
5 Laat ons toepas wat ons leer: ’n Byeenkomsganger het ná ’n streekbyeenkoms gesê: “Die program was baie persoonlik en het ’n mens aangespoor om jou en jou gesin se hartstoestand te ondersoek en om liefdevolle skriftuurlike hulp te verleen wanneer nodig. Dit het my meer bewus gemaak van my verpligting om meer hulp in die gemeente te verleen.” Baie van ons het waarskynlik al dieselfde gevoel. Maar dit is nie genoeg om bloot aangemoedig en verkwik te voel wanneer ons daar weggaan nie. Jesus het gesê: “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen” (Joh. 13:17). Ons moet die punte wat vir ons persoonlik geld, ywerig toepas (Fil. 4:9). Dit is hoe ons ons geestelike behoefte ten volle kan bevredig.
[Venster op bladsy 9]
Peins oor wat jy hoor:
■ Hoe raak dit my verhouding met Jehovah?
■ Hoe beïnvloed dit die manier waarop ek ander behandel?
■ Hoe kan ek dit in my lewe en in my bediening toepas?