‘Luister en neem meer onderrigting in’
1 In die boek Spreuke roep wysheid as ’t ware uit: “Luister, want oor die vernaamste dinge praat ek, en my lippe gaan oop oor regskapenheid. Ek het raad en praktiese wysheid. . . . Luister na my; ja, gelukkig is dié wat my weë hou. Want wie my vind, sal beslis die lewe vind en verkry welwillendheid van Jehovah” (Spr. 8:6, 14, 32, 35, NW). Hierdie woorde is ’n goeie beskrywing van die onderrigting wat op ons wag by die “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkoms.
2 Die behoeftes van die wêreldwye broederskap is ontleed, en die byeenkomsprogram is voorberei om in hierdie behoeftes te voorsien. Die geestelike onderrigting en praktiese wenke wat aangebied sal word, kan, as dit toegepas word, ons help om gelukkig te wees, ’n goeie verhouding met Jehovah te behou en op die pad na die ewige lewe te bly. Ons het beslis goeie rede om te ‘luister en meer onderrigting in te neem’.—Spr. 1:5, NW.
3 Voor die program: Om ten volle baat te vind by wat aangebied word, moet ons in ons sitplek en in die regte gemoedstemming wees wanneer die program begin. Dit verg goeie persoonlike organisasie. ’n Sleutelfaktor is om vroeg te begin. Gaan slaap vroeg die vorige aand. Staan vroeg genoeg op sodat almal in julle groep tyd het om gereed te maak en iets te eet. Kom vroeg by die byeenkomsterrein aan sodat julle sitplek kan kry en na nodige sake kan omsien voordat die program begin. Die deure sal elke dag om 7:00 vm. oopgemaak word, en die program sal om 9:00 vm. begin.
4 Aangesien ons hoofsaaklik bymekaarkom om Jehovah “onder die versamelde menigtes” te loof, moet elke sessie op ’n manier begin wat ons God verheerlik (Ps. 26:12, NW). Daarom word almal aangespoor om in hulle sitplek te wees voordat die openingslied aangekondig word. Dit is in ooreenstemming met die skriftuurlike vermaning: “Laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Kor. 14:40). Wat beteken dit vir elkeen van ons? Wanneer jy sien dat die voorsitter gedurende die musikale inleiding op die verhoog sit, moet jy onmiddellik gaan sit. Dit sal jou in staat stel om die lied aan die begin van elke sessie heelhartig te sing en lof aan Jehovah te bring.—Ps. 149:1.
5 Gedurende die program: Esra “het sy hart voorberei om die wet van Jehovah te raadpleeg en om dit na te kom” (Esra 7:10, NW). Hoe kan ons ons harte voorberei om die onderrigting in te neem wat Jehovah voorsien? Terwyl jy na die titels van die verskillende dele op die gedrukte program kyk, kan jy jou afvra: ‘Wat sê Jehovah vir my deur middel van hierdie program? Hoe kan ek die inligting gebruik om my en my gesin te bevoordeel?’ (Jes. 30:21; Ef. 5:17). Hou aan om jou gedurigdeur tydens die byeenkoms daardie vrae te vra. Maak ’n aantekening van die punte wat jy wil gebruik. Maak tyd om dit aan die einde van elke dag se sessies te bespreek. Dit sal jou help om die inligting te onthou en toe te pas.
6 Dit kan ’n uitdaging wees om ure lank op ’n slag te konsentreer. Wat kan ons help om nie ons gedagtes te laat dwaal nie? Maak goed gebruik van jou gesigsvermoë om jou hiermee te help. Dit waarna ons kyk, boei gewoonlik ons aandag (Matt. 6:22). Weerstaan derhalwe die drang om met elke geluid of beweging jou kop te draai. Hou jou oë op die spreker. Volg in jou Bybel wanneer ’n teks gelees word, en hou jou Bybel oop terwyl die teks bespreek word.
7 Christelike liefde sal ons beweeg om ander nie gedurende die program te steur nie (1 Kor. 13:5). Dit is “’n tyd om stil te bly” en te luister (Pred. 3:7, NW). Moet dus nie onnodig praat en rondloop nie. Gaan so min as moontlik toilet toe deur vooruit te beplan. Moenie voor etenstyd eet of drink nie, tensy daar ernstige gesondheidsredes is. Diegene wat selfone, roepradio’s, videokameras en kameras saambring, moet dit nie so gebruik dat dit ander se aandag aftrek nie. Ouers moet reël dat hulle hele gesin—insluitende tieners—bymekaar sit sodat hulle behoorlik oor hulle kinders kan toesig hou.—Spr. 29:15.
8 Verlede jaar het ’n ouer man wat streekbyeenkomste al baie dekades lank bywoon, gesê: “Ek het gevoel dat hierdie streekbyeenkoms om ’n ander rede uitstekend was. Byna almal in die gehoor het aantekeninge gemaak, onder andere jong kinders. Dit was wonderlik om dit te sien. Bybels is goed gebruik wanneer sprekers die gehoor gevra het om sekere verse na te slaan.” Dit is waarlik prysenswaardig dat almal so aandagtig geluister het. Dit is nie net vir ons en ons medebyeenkomsgangers voordelig nie, maar verheerlik bowenal ons Grootse Onderrigter, Jehovah God.—Jes. 30:20, NW.