Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 11/02 bl. 5-6
  • Gesinshoofde—Handhaaf ’n goeie geestelike roetine

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gesinshoofde—Handhaaf ’n goeie geestelike roetine
  • Ons Koninkryksbediening—2002
  • Soortgelyke materiaal
  • Gaan voort om in ’n ordelike roetine te wandel
    Ons Koninkryksbediening—1994
  • Gesinne, loof God as deel van sy gemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Hulp vir gesinne
    Ons Koninkryksbediening—2011
  • Hoe gesinslede saamwerk om ’n volle deelname te hê—aan Bybelstudie
    Ons Koninkryksbediening—1999
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—2002
km 11/02 bl. 5-6

Gesinshoofde—Handhaaf ’n goeie geestelike roetine

1 Al het Daniël dekades lank te midde van die afgodediens en verdorwenheid van Babilon gelewe, was hy daarvoor bekend dat hy Jehovah “met standvastigheid” gedien het (Dan. 6:16, 20). Hoe het hy geestelik sterk gebly? Die Bybelverslag toon dat hy ’n ordelike roetine gehad het om na bedrywighede om te sien wat met ware aanbidding verband hou. Dit was byvoorbeeld sy gewoonte om drie keer per dag in sy dakvertrek te bid (Dan. 6:10). Hy het ongetwyfeld ook vaste tye vir ander geestelike bedrywighede gehad, soos om die Wet te lees. Toe Daniël voor ’n lewensgevaarlike beproewing te staan gekom het, was hy dus standvastig in sy toegewydheid aan Jehovah, en hy is wonderbaarlik verlos.—Dan. 6:4-22.

2 Ons moet ons vandag eweneens inspan om “wakker [te bly] met alle standvastigheid” (Ef. 6:18). Die wêreld waarin ons lewe, “lê in die mag van die bose” (1 Joh. 5:19). Teenstand of beproewinge kan skielik ontstaan en ons geloof beproef. Gedurende die groot verdrukking sal God se knegte die teiken wees van ’n volskaalse aanval deur Gog van Magog, waaraan niemand oënskynlik sal kan ontkom nie. Dit sal vereis dat ons ten volle op Jehovah vertrou.—Eseg. 38:14-16.

3 “Iets wat noodsaaklik is, is dat gesinne dit ’n deel van hulle lewenswyse maak om die Bybel op sinvolle wyse te lees, te bestudeer en te bespreek.” Hierdie woorde kom uit die inleiding tot die drama met die tema “Gesinne—Maak daaglikse Bybellees deel van julle lewenswyse!” wat by die streekbyeenkoms vir 1998 aangebied is. Dit het verder gesê: “Wanneer gesinne so ’n program gereeld volg en dit op ’n manier doen wat die Bybel laat lewe, kan hierdie Bybelgeöriënteerde roetine ’n baie groot uitwerking op ’n gesin hê. Dit bou ons kennis op. Dit versterk ons geloof. En dit voorsien rolmodelle—besonder getroue manne en vroue van die ou tyd—wat ons kan besiel en ons beweeg om die waarheid te verdedig.” Terwyl ons verskillende aspekte van ’n goeie geestelike roetine bespreek, moet gesinshoofde oplet na een of twee maniere om hulle gesin se geestelike program te verbeter.

4 Bespreek God se Woord elke dag: “Wanneer God se Koninkryk die enigste regering is en sy wil op die aarde geskied soos in die hemel, sal geen wrede mens—óf dier—enige ‘kwaad doen of verderf aanrig’ nie (Jes. 11:9; Matt. 6:9, 10).” Hierdie woorde het in Ondersoek die Skrif elke dag—2001 in die kommentaar oor die teks vir 11 September verskyn. Hoe vertroostend was dié herinnering tog! Het jy as ’n gesinshoof die gewoonte om elke dag die Bybelteks en kommentaar met jou gesin te bespreek? Dit is baie voordelig. As dit nie vir julle prakties is om in die oggend bymekaar te kom nie, kan julle dit miskien later in die dag doen. ’n Vader het gesê: “Aandete is vir ons ’n goeie tyd om die dagteks te bespreek.”

5 Dit is prysenswaardig as julle reeds ’n goeie roetine het om die dagteks as ’n gesin te bespreek. Julle kan dalk hierop voortbou deur terselfdertyd ’n deel uit die Bybel te lees. Party het die gewoonte om die hele hoofstuk te lees waaruit die dagteks geneem is. Ander lees progressief deur ’n gekose Bybelboek. Daaglikse Bybellees sal jou gesin help om ’n heilsame vrees om Jehovah te mishaag, aan te kweek en sal hulle ’n groter begeerte gee om sy wil te doen.—Deut. 17:18-20.

6 Jou gesin se Bybelleesprogram en dagteksbespreking sal nog voordeliger wees as julle ’n paar minute neem om die praktiese waarde van die inligting te bespreek. Die Bedieningskool-handboek, bladsy 60, gee hierdie wenk: “Julle kan . . . ’n paar verse uit die Bybelleesgedeelte vir die week kies, die betekenis daarvan bespreek en dan vrae stel soos: ‘Watter leiding gee dit ons? Hoe kan ons hierdie verse in die bediening gebruik? Wat openbaar dit omtrent Jehovah en die manier waarop hy dinge doen, en hoe bou dit ons waardering vir hom op?’” Sulke geestelike gesprekke sal almal in jou huisgesin help om ‘voort te gaan om te begryp wat die wil van Jehovah is’.—Ef. 5:17.

7 Gesinstudie: As gesinshoofde die gesinstudie gereeld elke week hou, is dit ’n goeie manier om vir hulle kinders te wys dat geestelike dinge eerste gestel word. ’n Jong man vertel: “Soms was my pa so moeg as gevolg van sy werk dat hy skaars wakker kon bly, maar hy het nogtans die studie gehou, en dit het ons help besef hoe ernstig dit is.” Kinders kan ook tot die sukses van die reëling bydra. ’n Gesin met nege kinders het gereeld vyfuur opgestaan om hulle gesinstudie te hê, omdat hulle dit op geen ander tyd kon hou nie.

8 As die gesinstudie doeltreffend gaan wees, moet die gesinshoof ‘voortdurend op sy onderrigting let’ (1 Tim. 4:16). Die Bedieningskool-handboek, bladsy 32, sê: “Daar kan tereg gesê word dat ’n doeltreffende gesinstudie met ’n studie van jou gesin self begin. Hoe vorder jou gesinslede wat hulle geestelikheid betref? . . . Voel jou kinders ongemaklik om hulle voor hulle portuurs as Jehovah se Getuies te identifiseer wanneer jy saam met hulle in die veldbediening is? Geniet hulle julle program van Bybellees en -studie as ’n gesin? Maak hulle werklik Jehovah se weg hulle lewensweg? As jy oplettend is, sal jy as gesinshoof agterkom wat jy moet doen om geestelike eienskappe in elke gesinslid aan te kweek en op te bou.”

9 Gemeentelike vergaderinge: Voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge en die bywoning daarvan behoort ’n belangrike deel van julle weeklikse roetine te wees (Heb. 10:24, 25). Soms sal julle as ’n gesin vir party van die vergaderinge kan voorberei. Kan julle reël om lank voor die tyd voor te berei pleks van tot op die nippertjie te wag? ’n Ordelike roetine in hierdie opsig sal die gehalte van julle voorbereiding verbeter en julle help om meer by die vergaderinge baat te vind.—Spr. 21:5.

10 Gehalte en gereeldheid is kenmerke van ’n doeltreffende geestelike roetine. Sê nou julle kan weens julle omstandighede nie vir al die vergaderinge voorberei nie? Die Bedieningskool-handboek, bladsy 31, gee hierdie wenk: “Moenie die fout maak om deur die materiaal te jaag net sodat dit gedoen is nie, of nog erger, om glad nie te studeer omdat jy nie alles kan doen nie. Besluit eerder hoeveel jy kan studeer, en doen dit deeglik. Doen dit elke week. Probeer met verloop van tyd meer doen sodat jy ook vir die ander vergaderinge kan voorberei.”

11 Wanneer gesinne vroeg by die vergaderinge is, help dit om hulle in die regte gemoedstemming te bring om Jehovah te loof en baat te vind by die onderrigting wat hy voorsien. Het julle gesin hierdie gewoonte? Dit verg goeie beplanning en die samewerking van almal in die huisgesin. Kan julle julle roetine aanpas as julle dikwels vind dat julle gesin op vergaderingaande gejaagd en gespanne is? Is daar dinge wat voor die tyd gedoen kan word? Kan ander help as een gesinslid te veel het om te doen? Sal dit spanning verminder as almal ’n paar minute vroeër gereed is om vergadering toe te gaan? Goeie beplanning bevorder ’n gees van vrede in die gesin sowel as in die gemeente.—1 Kor. 14:33, 40.

12 Velddiens: Nog ’n aspek van ’n goeie geestelike roetine is om spesifieke tye vas te stel om aan die bediening deel te neem. ’n Jong man met die naam Jayson vertel: “In ons gesin is Saterdagoggende altyd vir velddiens opsy gesit. Dit het my goed gedoen, want hoe meer ek velddiens gedoen het, hoe meer kon ek die goeie resultate daarvan sien en hoe meer het ek dit geniet.” Baie wat in Getuiegesinne grootgeword het, het ook gesê dat ’n vasgestelde tyd om elke week aan die bediening deel te neem, hulle gehelp het om as Christenbedienaars vooruitgang te maak.

13 ’n Ordelike roetine kan ook help om die tyd wat julle gesin in velddiens deurbring, aangenamer en produktiewer te maak. Hoe kan dit gedoen word? Die Wagtoring van 1 Julie 1999, bladsy 21, het die volgende wenk gegee: “Neem julle soms tyd gedurende julle gesinstudie om die lede van julle huisgesin te help om vir die week se velddiens voor te berei? Dit kan baie voordelig wees (2 Timoteus 2:15). Dit kan help om hulle diens betekenisvol en produktief te maak. Julle kan van tyd tot tyd ’n hele studiesessie vir sulke voorbereiding opsy sit. Julle kan meer dikwels in korter besprekings aan die einde van die gesinstudie of op ’n ander tyd gedurende die week aan aspekte van die veldbediening aandag gee.” Het julle gesin dit al probeer?

14 Hou aan om vooruitgang te maak: Het jy uit hierdie bespreking gelet op gebiede waar jou gesin goed doen? Prys hulle, en probeer daarop voortbou. As jy verskillende gebiede sien waar verbetering nodig is, kan jy een of twee kies waaraan julle eers kan aandag gee. Wanneer dit ’n deel van julle geestelike roetine geword het, kan julle aan een of twee ander aandag gee. Wees positief en redelik (Fil. 4:4, 5). Dit verg ywerige inspanning om ’n goeie geestelike roetine vir jou huisgesin vas te stel, maar dit is beslis die moeite werd, want Jehovah verseker ons: “Wat die een betref wat op ’n vaste weg bly, ek sal hom redding deur God laat sien.”—Ps. 50:23.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel