Goed versorgde kleredrag vereer God
1. Hoe kan ons waardering vir ons komende byeenkoms toon?
1 Ons gaan binnekort die voorreg hê om Jehovah se gaste te wees by die “Gee God heerlikheid”- internasionale of streekbyeenkoms vir 2003. Hoe dankbaar is ons tog teenoor Jehovah vir die uitnodiging na hierdie ryk geestelike feesmaal! Ons kan toon dat ons hom vereer en sy geestelike voorsienings waardeer deur die manier waarop ons aantrek en onsself versorg.—Ps. 116:12, 17.
2. Waarom is dit belangrik om skoon en netjies te wees?
2 Rein en ordelik: Ons voorkoms moet die standaarde weerspieël van ons God, wat rein en ordelik is (1 Kor. 14:33; 2 Kor. 7:1). Ons liggaam, hare en naels moet skoon wees en ons voorkoms moet netjies wees. ’n Slordige voorkoms is vandag algemeen. Maar net omdat ’n filmster of sportheld onversorg lyk, is geen rede vir ’n Christen om ook so te lyk nie. As ons modegiere volg, sal mense dit moeilik vind om te onderskei tussen dié wat die ware God dien en dié wat hom nie dien nie.—Mal. 3:18.
3. Hoe kan ons verseker dat ons voorkoms in ooreenstemming met die raad in 1 Timoteus 2:9, 10 is?
3 Kleredrag wat Christenbedienaars betaam: Toe die apostel Paulus aan die Christenopsiener Timoteus geskryf het, het hy vroue aangemoedig om “hulle met goed versorgde kleredrag [te] versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, . . . soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer, naamlik deur goeie werke” (1 Tim. 2:9, 10). Ons moet noukeurig aandag skenk aan ons kleredrag as ons wil verseker dat dit goed versorg is. Klere moet netjies, skoon en beskeie wees—nie uitspattig, sensueel of prikkelend nie.—1 Pet. 3:3.
4, 5. Op watter vermanings moet Christenmans en -vroue let?
4 Paulus het vroue ook gemaan om nie tot uiterstes te gaan “met haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie” (1 Tim. 2:9). Dit sal wys wees as Christenvroue ’n balans handhaaf in die gebruik van juwele, grimering en ander versierings.—Spr. 11:2.
5 Die raad wat Paulus aan Christenvroue gegee het, is in beginsel ook op Christenmans van toepassing. Broers moet style vermy wat die denke van die wêreld weerspieël (1 Joh. 2:16). In party lande is sakkerige klere, wat ekstra groot is, gewild, maar hierdie styl is nie gepas vir ’n bedienaar van God nie.
6. Waarom moet ons ’n hoë standaard van kleredrag en persoonsversorging handhaaf wanneer ons na en van die byeenkoms reis, terwyl ons by die byeenkoms is, asook na afloop van die sessies elke dag?
6 Tydens ontspanning: Die meeste broers en susters stel by die byeenkoms ’n uitstekende voorbeeld wat hulle kleredrag en persoonsversorging betref. Verslae toon egter dat party minder gesteld hierop is wanneer hulle na en van die byeenkoms reis of wanneer hulle ná die sessies aan ontspanning deelneem. Ons persoonlike voorkoms—hetsy gedurende die program of op ander tye—kan in werklikheid ’n uitwerking hê op ander se beskouing van God se volk. Aangesien ons ons byeenkomslapelkaarte dra, moet ons altyd aantrek op ’n wyse wat Christenbedienaars betaam. Dit beweeg ander dikwels om ons te prys en stel ons in staat om ’n getuienis te gee.—1 Kor. 10:31-33.
7. Watter uitwerking kan ons goed versorgde kleredrag en persoonsversorging op ander hê?
7 Net soos ’n vriendelike glimlag ons gesig ophelder, verleen goed versorgde kleredrag en persoonsversorging waardigheid aan die boodskap wat ons verkondig en die organisasie wat ons verteenwoordig. Diegene wat ons vanjaar gedurende die “Gee God heerlikheid”-byeenkomste waarneem, word dalk beweeg om uit te vind waarom ons anders is en sê dalk uiteindelik: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor [en gesien] dat God met julle is” (Sag. 8:23). Laat elkeen van ons toon dat ons Jehovah vereer deur ons kleredrag en persoonsversorging.
[Venster op bladsy 5]
Behou ’n waardige voorkoms
▪ Wanneer jy reis
▪ By die byeenkoms
▪ Tydens ontspanning