Woorde van lof verkwik
1 “Was ek dan nie vandag ’n soet dogtertjie nie?” het die meisietjie gesnik toe haar ma haar in die bed sit. Haar ma was uit die veld geslaan. Hoewel sy opgelet het dat haar dogtertjie hard probeer het om dié dag soet te wees, het sy nie eers een woordjie van waardering uitgespreek nie. Hierdie dogtertjie se trane behoort as ’n herinnering te dien dat ons almal—jonk en oud—woorde van lof nodig het. Verkwik ons diegene om ons deur waardering uit te spreek vir die goeie wat hulle doen?—Spr. 25:11.
2 Daar is baie dinge waarvoor ons mede-Christene kan prys. Ouer manne, bedieningsknegte en pioniers werk hard om hulle verantwoordelikhede na te kom (1 Tim. 4:10; 5:17). Godvresende ouers doen hulle uiterste bes om hulle kinders in Jehovah se weë groot te maak (Ef. 6:4). Christenjongmense stry hard om “die gees van die wêreld” te weerstaan (1 Kor. 2:12; Ef. 2:1-3). Ander dien Jehovah getrou ondanks gevorderde ouderdom, gesondheidsprobleme of ander beproewinge (2 Kor. 12:7). Hulle almal verdien ons lof. Prys ons hulle vir hulle uitstekende pogings?
3 Persoonlik en spesifiek: Ons almal waardeer dit werklik om woorde van lof van die verhoog af te hoor. Maar lof is selfs verkwikkender wanneer dit aan ons persoonlik gegee word. Paulus het byvoorbeeld in hoofstuk 16 van sy brief aan die Romeine spesifieke woorde van lof uitgespreek teenoor Febe, Prisca en Aquila, Trifena en Trifosa, asook Persis, om net ’n paar te noem (Rom. 16:1-4, 12). Hoe verkwikkend moes sy woorde tog vir daardie getroue knegte gewees het! Sulke lof verseker ons broers en susters dat ons hulle nodig het en help om ons nader aan mekaar te bring. Het jy iemand onlangs vir iets spesifieks geprys?—Ef. 4:29.
4 Uit die hart: Woorde van lof moet opreg wees om werklik verkwikkend te wees. Mense weet of ons uit die hart praat en of ons bloot ‘met die tong vlei’ (Spr. 28:23). Terwyl ons daaraan werk om die goeie in ander raak te sien, sal ons hart ons beweeg om ander te prys. Mag ons oorvloedig wees in opregte woorde van lof, in die wete dat ‘’n woord op die regte tyd tog so goed is!’—Spr. 15:23.