Kuis, prysenswaardige voorkoms
1. Waarom moet ons aan ons voorkoms dink terwyl ons vir die streekbyeenkoms voorberei?
1 “Jehovah se Getuies is die beste! Julle mense is vriendelik en goed geklee, en hulle toon diep respek.” Dit is wat ’n hotelverteenwoordiger verlede jaar oor die broers en susters by ’n streekbyeenkoms gesê het. By ’n ander byeenkoms het ’n hotelwerker gesê: “Dit is duidelik dat julle God wil behaag wanneer dit by julle kleredrag kom.” Ja, byeenkomsgangers word deur ander raakgesien. Ons wil dus aantrek “op ’n wyse wat die goeie nuus . . . waardig is”, en dit beweeg buitestanders dikwels om ons ’n pluimpie te gee en toon duidelik dat ons bedienaars van God is (Fil. 1:27). Terwyl ons vir die streekbyeenkoms voorberei, is dit gepas dat ons voor die tyd aan ons voorkoms dink.
2. Waarom is dit ’n uitdaging om kuis te wees wat ons kleredrag en persoonsversorging betref?
2 “Die wysheid van bo is allereers kuis”, het die dissipel Jakobus geskryf (Jak. 3:17). Dit kan ’n uitdaging wees om kuisheid in ons voorkoms te weerspieël. Satan se onsedelike wêreld beïnvloed mense om onbeskeie, verleidelike en buitensporige style te dra wat nie gepas is nie (1 Joh. 2:15-17). Wanneer ons besluite oor kleredrag en persoonsversorging neem, moet ons dus ag gee op die Bybel se vermaning om “goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand . . . te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe” (Tit. 2:12). Ons wil ander nooit deur ons voorkoms ontstel nie, of dit nou ons broers, hotel- en restaurantpersoneel of ander mense is.—1 Kor. 10:32, 33.
3. Watter vrae sal ons help om ’n selfondersoek te doen wat ons voorkoms betref?
3 Beskeie, goed versorgde kleredrag: Wanneer jy vir die byeenkoms voorberei, moet jy jou afvra: ‘Is my klere beskeie, of vestig dit onnodige aandag op my? Toon dit respek vir ander se gevoelens? Is my bloese se hals te laag, of is hulle te kort? Is my rokke gewaagd of nousluitend? Is my klere skoon en sonder aanstootlike reuke? Sal ek die netjiese, skoon voorkoms van ’n bedienaar hê wanneer ek ná die program ontspan, of sal my klere slordig, hipermodern of ongepas en te informeel wees vir ’n byeenkomsganger wat ’n lapelkaart dra? Sal die klere wat ek gedurende my vrye tyd dra, my ongemaklik laat voel om informeel te getuig?’—Rom. 15:2, 3; 1 Tim. 2:9.
4. Hoe kan ander ons help om ’n kuis voorkoms te hê?
4 Ons kan by die wenke van ryp Christene baat vind. Vrouens moet hulle mans vra hoe hulle klere dalk vir ander sal lyk. Godvrugtige ouers kan hulle tienderjarige kinders in hierdie verband help. En godvresende ouer susters kan ‘die jong vroue tot besinning bring, om gesond van verstand te wees, kuis’ wat hulle voorkoms betref, “sodat die woord van God nie gesmaad sal word nie” (Tit. 2:3-5). Ons publikasies het nuttige prente waarin beskeie, goed versorgde kleredrag uitgebeeld word.
5. Hoe kan ons almal gedurende die byeenkoms lof aan Jehovah bring?
5 Bring lof aan Jehovah: Streekbyeenkomste bied ons almal, nie net dié wat aan die program deelneem nie, ’n uitstekende geleentheid om Jehovah te loof. Ons Christelike gedrag en spraak sal hom natuurlik eer. Maar baie mense merk heel eerste ons klere en persoonsversorging op. Mag ons almal deur ons kuis, prysenswaardige voorkoms lof aan Jehovah bring.—Ps. 148:12, 13.
[Venster op bladsy 10]
Hulpmiddels vir ’n prysenswaardige voorkoms
◼ God se Woord
◼ Selfondersoek
◼ Wenke van ander
◼ Christelike publikasies