Nuwe voorsiening om ons te help om ons van bloed te onthou
Die Bestuursliggaam het dit goedgekeur dat die Advance Medical Directive/Release-kaart vervang word deur ’n nuwe regsdokument wat as “durable power of attorney” (DPA) bekend staan. Ons sal dit ’n DPA-kaart noem. ’n DPA-kaart is vir Suider-Afrika voorberei.
Die DPA-kaart is vir onbepaalde tyd oral in Suider-Afrika geldig en sal as ’n verklaring van jou wense dien wanneer jy in ander lande reis. In die toekoms moet jy ’n nuwe DPA-kaart invul as (1) jy enige veranderinge aan jou DPA-kaart moet aanbring, soos om jou wense, gesondheidsorgverteenwoordigers, adresse en telefoonnommers te verander of (2) jou DPA-kaart weggeraak het of vernietig is.
Dink biddend na voordat jy die DPA-kaart noukeurig by die huis invul. Voordat jy die kaart teken, is dit egter belangrik dat die regsformaliteite sorgvuldig nagekom word. Byvoorbeeld, as jou kaart sê dat twee getuies jou moet sien teken, moet hulle teenwoordig wees wanneer jy dit teken. Boekstudieopsieners kan van tyd tot tyd by diegene wat nog nie nuwe kaarte ingevul het nie, hoor of hulle hulp nodig het.
Voordat jy die DPA-kaart vou, moet jy afdrukke van goeie gehalte maak vir jou gesondheidsorgverteenwoordiger, jou alternatiewe verteenwoordiger, jou dokter en jou persoonlike lêer. Jy kan ook ’n afdruk vir ander gesinslede en die gemeentelike sekretaris gee. Afdrukke moet op net een kant van ’n A4-bladsy (210mm x 297mm) gemaak word, met die DPA-kaart in die middel van die bladsy. Jy moet altyd die oorspronklike DPA-kaart by jou hê, nie ’n afdruk nie.
Die Identity Card met die drukdatum 3/99 vir ongedoopte kinders van Getuie-ouers het nie verander nie. Ouers moet seker maak dat daar vir elke minderjarige kind ’n behoorlik ingevulde en getekende kaart is en dat die kind dit op gepaste tye by hom het.
Ongedoopte verkondigers kan die uitdrukkings op die DPA-kaart en die Identity Card aanpas om gesondheidsorginstruksies vir hulle en hulle kinders neer te skryf. Die sekretaris moet vir al die verkondigers wat gedurende die jaar gedoop word, ’n DPA-kaart gee.