Dank Jehovah vir sy liefderyke goedhartigheid
Christus se dood sal herdenk word op 24 Maart
1. Hoe het Jehovah liefderyke goedhartigheid aan ons betoon?
1 Die psalmis het uitgeroep: “Laat mense Jehovah dank vir sy liefderyke goedhartigheid en vir sy wonderlike werke teenoor die mensekinders” (Ps. 107:8). God se liefderyke goedhartigheid sluit meer in as net die tere geneentheid wat hy vir mense het. Hierdie gedagte kom duidelik na vore in die geïnspireerde lofbetuiging: “U liefderyke goedhartigheid, o Jehovah, [het] my bly onderskraag” (Ps. 94:18). Watter uitsonderlike liefderyke goedhartigheid het Jehovah tog geopenbaar deurdat hy sy enigverwekte Seun ten behoewe van ons gegee het!—1 Joh. 4:9, 10.
2. Hoe kan ons ons dankbaarheid teenoor Jehovah betoon?
2 Hoe kan ons “die God van liefderyke goedhartigheid” dank terwyl die Herdenking van Christus se dood nader kom? (Ps. 59:17). Elkeen van ons sal tyd opsy wil sit om oor Jesus se laaste dae op aarde te peins (Ps. 143:5). Dit sal ook goed wees om die spesiale Bybellees vir die Gedenkmaal te doen, soos uiteengesit in Ondersoek die Skrif elke dag—2005, en om, indien moontlik, bykomende leeswerk en navorsing te doen in hoofstukke 112-16 van die Grootste mens-boek sowel as in ander Bybelpublikasies. Dink na oor die gedeeltes wat jy lees en raak verdiep daarin (1 Tim. 4:15). Biddende bepeinsing oor God se Woord voed nie net ons hart nie, maar is ook ’n blyk van ons liefde vir Jehovah.—Matt. 22:37.
3, 4. (a) Hoe kan ons dieselfde gees as ons broers in Liberië aan die dag lê? (b) Wie gaan jy na die Gedenkmaal nooi?
3 Spoor ander aan om God te dank: Verlede jaar het 16 760 607 regoor die wêreld die Gedenkmaal bygewoon. In ’n dorpie in Liberië het die broers ’n brief aan die dorp se hoofman geskryf om vir hom te sê dat hulle die Here se Aandmaal in sy dorp wil herdenk. Die hoofman het die broers toestemming gegee om die plaaslike voetbalveld vir die geleentheid te gebruik en het deur die hele gebied ’n aankondiging laat maak en mense genooi om te kom. Hoewel daar net vyf verkondigers in daardie dorpie was, het 636 die Gedenkmaal bygewoon!
4 Ons wil eweneens soveel mense as moontlik help om die Gedenkmaalviering saam met ons by te woon. Maak gerus ’n lys van diegene wat jy wil nooi. Daar is ’n uitnodiging na die geleentheid op die agterblad van die Ontwaak! van 8 Maart en Die Wagtoring van 15 Maart. Die gedrukte Gedenkmaaluitnodigings kan ook gebruik word. Jy kan die tyd en plek van die viering op die uitnodiging tik of netjies daarop skryf en een vir elke persoon gee wat jy uitnooi. Nader aan 24 Maart kan jy elkeen weer besoek om hulle daaraan te herinner en enige reëlings te finaliseer.
5. Hoe kan ons ons Bybelstudente aanmoedig om die Gedenkmaal by te woon?
5 Hoe kan ons ons Bybelstudente wat nog nie na die vergaderinge toe kom nie, help om dit by te woon en ten volle by die geleentheid baat te vind? Gebruik ’n paar minute gedurende elke studie om hulle waardering vir die belangrikheid van die viering op te bou. Uitstekende materiaal kan in Die Wagtoring van 15 Maart 2004, bladsye 3-7, en in die Redenering-boek, bladsye 140-3, gevind word.
6. Waarom is dit belangrik om besoekers by die Gedenkmaal te verwelkom?
6 Verwelkom besoekers: Gesels by die Gedenkmaal met besoekers en verwelkom hulle (Rom. 12:13). Reël om te sit by diegene wat jy genooi het en maak seker dat hulle ’n Bybel en ’n liedereboek het. Ons wil die inisiatief neem om veral die onbedrywige broers en susters wat die poging aangewend het om te kom, hartlik te groet. Ons liefdevolle belangstelling kan hulle dalk aanspoor om weer gereeld saam met die gemeente te assosieer (Luk. 15:3-7). Mag ons, by hierdie uiters belangrike geleentheid, alles in ons vermoë doen om ander aan te moedig om Jehovah saam met ons te dank vir sy “wonderbare liefderyke goedhartigheid”.—Ps. 31:21.