Gesinsrooster—Die gesinstudie
1 Die grootste gawe wat jy as ’n Christenouer jou kinders kan gee, is jou liefde vir Jehovah. ’n Goeie tyd om dit te doen, is “wanneer jy in jou huis sit” vir die weeklikse gesinsbybelstudie (Deut. 6:5-7). Hetsy jy ’n gelowige huweliksmaat het, in ’n godsdienstig verdeelde huis woon of ’n enkelouer is, jy kan jou kinders help om nader aan jou en aan Jehovah te kom deur ’n gereelde gesinstudie te hou.
2 Hoe om te begin: Die eerste stap is om in die gewoonte te kom om as ’n gesin te studeer. As julle nie seker is wanneer om die studie te hou nie, kan julle dit gerus as ’n gesin bespreek (Spr. 15:22). As julle jong kinders het, verkies julle dalk om gedurende die week ’n paar kort studies te hou. Besluit wat vir julle gesin die beste werk. Skryf ’n spesifieke tyd vir die studie op julle gesinsrooster neer, en wees vasbeslote om daarby te bly.
3 Wat kan julle studeer? Party berei die les voor wat by die volgende Gemeentelike Boekstudie of Wagtoring-studie bespreek sal word. Ander studeer materiaal wat spesiaal vir jongmense bedoel is. Die vader van ’n jong seun en dogter het gesê: “Iets wat ons studie ’n hoogtepunt in die week maak vir die kinders, is dat ons tonele uit My boek met Bybelverhale opvoer. Die indruk wat dit laat en die begrip wat hulle as gevolg daarvan verkry, is baie belangriker as die aantal paragrawe wat ons dek.”
4 Studeer elke week: Die gesinstudie moet gereeld gehou word, en almal in die gesin behoort gretig daarna uit te sien. ’n Mate van aanpasbaarheid wat die dag en tyd betref, sal dalk nodig wees as onverwagte situasies opduik. Soms is dit dalk ook nodig om iets anders te bespreek as wat julle beplan het. Maar as so ’n verandering nodig is, moet dit nie ’n langdurige afwyking van die vaste gesinstudierooster veroorsaak nie. In een gesin sê die dogter: “As die tyd van ons studie verander moet word, sit my pa altyd die nuwe tyd op die yskasdeur sodat ons almal weet wanneer dit sal wees.” Sulke pogings om ’n gereelde gesinstudie te hou, is beslis prysenswaardig! Terwyl julle voortgaan om julle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed, toon julle julle liefde vir hulle sowel as vir ons hemelse Vader.—Ef. 6:4.