Vestig die aandag op “die lig van die wêreld”
1. Watter groot lig is in God se Woord voorspel, en watter geleentheid vestig besondere aandag op hierdie lig?
1 Jehovah het deur die profeet Jesaja voorspel: “Die volk wat in die duisternis gewandel het, het ’n groot lig gesien. Dié wat in die land van diep skaduwee gewoon het, oor hulle het lig geskyn” (Jes. 9:2). Hierdie “groot lig” is gesien in die werke van God se eie Seun, Jesus Christus. Sy werk terwyl hy op die aarde was en die seëninge wat uit sy offerande voortspruit, het diegene wat in geestelike duisternis was, tot voordeel gestrek. Mense het hierdie lig nodig in die donker tye waarin ons lewe. Die Here se Aandmaal gee ons ’n besondere geleentheid om die aandag op “die lig van die wêreld” te vestig (Joh. 8:12). Verlede jaar het miljoene ’n mate van geloof geopenbaar deur saam met ons Jesus se bevel te gehoorsaam: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Luk. 22:19). Hoe kan ons, terwyl vanjaar se Gedenkmaalviering nader kom, die aandag help vestig op die groot lig wat Jehovah laat skyn?—Fil. 2:15.
2. Hoe kan ons ons hartgrondige waardering vir die losprysoffer vergroot, en wat sal die gevolg wees?
2 Bou hartgrondige waardering op: Die Gedenkmaalseisoen is ’n goeie tyd om te peins oor die groot liefde wat Jehovah en Jesus geopenbaar het deur die losprysoffer vir die mensdom te voorsien (Joh. 3:16; 2 Kor. 5:14, 15). As ons hieroor peins, sal dit ongetwyfeld ons hartgrondige waardering vir hierdie heilige geleentheid vergroot. Al God se knegte moet tyd opsysit om die spesiale Bybelleesgedeeltes vir die Gedenkmaal, wat in Ondersoek die Skrif elke dag uiteengesit word, te lees en daaroor te peins. Wanneer ons aan Jehovah se voortreflike eienskappe dink, wat op so ’n wonderlike wyse in sy voorsiening van die losprys geopenbaar word, is ons trots om hom as ons God te hê. Wanneer ons nadink oor wat die losprys vir ons persoonlik beteken, versterk dit ons innige liefde vir God en sy Seun en beweeg dit ons om ons in te span om God se wil te doen.—Gal. 2:20.
3. Hoe kan ons ons waardering vir die Gedenkmaal toon?
3 As ons ons waardering vir Jehovah se voorsiening vir redding vergroot, sal ons geesdrif vir die Gedenkmaal ’n goeie uitwerking hê op ons Bybelstudente, herbesoeke, familielede, bure, skoolmaats, werksmaats en ander wat ons na hierdie spesiale geleentheid nooi (Luk. 6:45). Wend dus ’n spesiale poging aan om al hierdie mense te nooi, en gee vir hulle ’n gedrukte Gedenkmaaluitnodiging om hulle te herinner. Baie het gevind dat dit prakties is om ’n lys te hê van diegene wat hulle gewoonlik na die Gedenkmaal nooi en om elke jaar nuwes by te voeg, sodat hulle niemand vergeet nie. As ons georganiseerd is en doen wat ons kan om belangstellendes te nooi, sal dit ’n goeie manier wees om ons dankbaarheid teenoor Jehovah God te toon “vir sy onbeskryflike vrye gawe”.—2 Kor. 9:15.
4. Wat kan ons help om gedurende Maart en April ’n groter aandeel aan die bediening te hê?
4 ’n Groter aandeel aan die bediening: Kan jy gedurende Maart en April ’n groter aandeel aan die bediening hê? Ons sal dit geniet om op 1 April, ons spesiale Tydskrifdag, tydskrifwerk te doen. Ons pogings om “die glorieryke goeie nuus oor die Christus” aan ander te verkondig, sal beslis God se seën geniet. As die Bron van alle geestelike verligting het Jehovah beveel: “Laat die lig uit die duisternis skyn” (2 Kor. 4:4-6). Waar nodig sal die ouer manne velddiensvergaderinge op bykomende tye en plekke reël, en hulle sal die leiding daarin neem om diegene te ondersteun wat meer tyd aan die getuieniswerk wil bestee. Dit kan straatwerk vroeg in die oggend insluit, of reëlings om in die middag of vroeg in die aand in sakegebied te werk en telefoongetuieniswerk te doen. Om jou te help om ’n groter aandeel aan die bediening te hê, kan jy ’n redelike doelwit stel wat ure betref en hard werk om dit te bereik. Een van die maniere waarop baie hulle beste aan Jehovah gee, is deur die voorreg van hulppionierdiens te geniet.—Kol. 3:23, 24.
5. Hoe vind baie by die verminderde uurvereiste vir hulppionierdiens baat?
5 Kan jy as ’n hulppionier dien? Dit is nou al meer as sewe jaar sedert die uurvereiste vir hulppionierdiens verminder is. Hierdie verandering het dit vir baie meer moontlik gemaak om die seëninge van die hulppionierdiens te geniet. Het jy dit al probeer? Party doen dit gewoonlik elke jaar. In baie gemeentes dien tientalle verkondigers saam as hulppioniers, en dit word ’n lonende hoogtepunt van die gemeente se bedrywighede gedurende die jaar. Kan jy gedurende die Gedenkmaalseisoen tyd inruim vir ’n vreugdevolle maand van hulppionierdiens? April sal moontlik vir party ’n uitstekende maand wees omdat dit vyf volle naweke het.
6. Watter opwindende voorsiening is gemaak?
6 Sal die kringopsiener julle gemeente gedurende Maart of April besoek? Julle kan ’n bykomende seëning geniet. Soos vroeër aangekondig is, sal almal wat tydens die 2006-diensjaar gedurende die maand van die kringbesoek as hulppioniers dien, genooi word om die eerste helfte van die pioniervergadering gedurende daardie week by te woon. Die geestelik versterkende inligting wat by hierdie vergadering voorsien word, sal ongetwyfeld baie hulppioniers help om daarna te streef om gewone pioniers te word.
7, 8. (a) Wat kan ons help om ’n rooster op te stel om hulppionierdiens te doen? (b) Wat is moontlik as die gesin saamwerk, en hoe vind die hele gesin daarby baat?
7 Wanneer jy aan die uurvereiste van 50 uur vir hulppioniers dink, moet jy besluit watter rooster jou in staat sal stel om ongeveer 12 uur per week die lig van waarheid te laat skyn. Bespreek dit met diegene wat dit al met welslae gedoen het, asook met ander. Dit sal hulle dalk aanmoedig om dit saam met jou te doen. Gedoopte verkondigers, jonk sowel as oud, het gevind dat dit met goeie beplanning nie te moeilik is om hierdie prysenswaardige doelwit te bereik nie. Bid daaroor. As dit moontlik is, tref dan jou reëlings en geniet die hulppionierdiens!—Mal. 3:10.
8 Baie gesinne het gevind dat ’n goed gekoördineerde poging dit vir ten minste een gesinslid moontlik kan maak om hierdie doelwit te bereik. Een gesin het besluit dat al vyf gedoopte gesinslede as hulppioniers sou dien. Twee ander kinders wat nog nie gedoop was nie, het ’n spesiale poging aangewend om meer in die bediening te doen. Hoe het die gesin daarby baat gevind om hulle meer in te span? Hulle het geskryf: “Ons het die maand baie geniet, en ons het beslis gevoel dat die gesinsbande versterk is. Ons dank Jehovah vir die wonderlike seëning!”
9. Hoe kan ons gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen ons lig laat skyn?
9 Sal ons spesiale bedrywighede gedurende Maart en April bemoedigend wees en ons nader aan ons hemelse Vader laat kom? Baie sal afhang van hoeveel ons ons inspan om ons liefde vir God en sy Seun te versterk en om ’n groter aandeel aan die bediening te hê. Mag ons net so vasbeslote wees soos die psalmis wat gesing het: “Ek sal Jehovah grootliks prys met my mond, en onder baie mense sal ek hom loof” (Ps. 109:30). Jehovah sal ons ywerige bedrywighede gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen seën. Mag ons dus ’n groot lig laat skyn sodat baie meer mense uit die duisternis kan kom en “die lig van die lewe [kan] besit”.—Joh. 8:12.