’n Hulp wat maklik gevind kan word
1. Hoe kan ’n mens se geestelikheid verswak?
1 Anna, ’n suster met ’n ongelowige man en ’n veeleisende werkrooster, het dit moeilik gevind om Christelike vergaderinge gereeld by te woon, aan die bediening deel te neem en God se Woord te bestudeer. Hoewel sy nog lief was vir Jehovah, het sy onbedrywig geword. Gelukkig het sy geestelike hulp van besorgde ouer manne ontvang.
2. Hoe kan alle Christene ’n hulp wees wat maklik gevind kan word?
2 As ons die geestelike hulp aanvaar wat deur middel van die Christengemeente gebied word, toon ons in werklikheid dat ons op Jehovah vertrou. In navolging van Jesus Christus se liefdevolle sorg is die ouer manne in die gemeente op die uitkyk na geleenthede om diegene wat geestelike hulp nodig het, aan te moedig en op ’n praktiese manier by te staan (1 Tess. 5:14). Dikwels is vriendelike woorde van bemoediging wat op opbouende tekste gebaseer is, net wat nodig is. Alle Christene, nie net die ouer manne nie, moet die inisiatief neem om diegene wat tydelik swak geword het, te ondersteun. Elkeen van ons het ongetwyfeld al gesien watter kragtige uitwerking ’n weldeurdagte “woord wat op sy regte tyd gespreek word”, kan hê.—Spr. 25:11; Jes. 35:3, 4.
3, 4. Wat verg dit om ander te help, en hoe kan ons dit doen?
3 Neem die inisiatief: Om liefdevolle belangstelling te toon in diegene wat hulp nodig het, vereis dat ons die inisiatief neem, meegevoel toon en ’n ywerige poging aanwend. Toe Jonatan van Dawid se benarde situasie bewus geword het, het hy “opgestaan en na Dawid in Hores gegaan, sodat hy sy hand kon versterk” (1 Sam. 23:15, 16). Wees liefdevol wanneer jy ander help. Woorde wat uit opregte besorgdheid voortspruit, lewer die beste resultate. Daarbenewens het Jesus duidelik getoon dat dit ywerige, doelgerigte inspanning verg om ’n geestelike broer of suster terug te win (Luk. 15:4). As ons ’n opregte begeerte het om iemand te help, sal dit ons beweeg om daarin te volhard om hulp aan te bied, al is sy vooruitgang nie dadelik waarneembaar nie.
4 Hoe bemoedigend is dit tog wanneer ons die inisiatief neem en ander, soos dié in ons boekstudie, nooi om saam met ons in die bediening uit te gaan! Terwyl ons ’n medekneg van Jehovah help om aan die bediening deel te neem, kan ons van die geleentheid gebruik maak om sy hand te versterk. Sulke vreugdevolle tye wat saam in Jehovah se diens deurgebring word, is veral bemoedigend vir diegene wat besig is om hulle geestelike balans te herwin.
5. Watter hulp kan die ouer manne in sommige omstandighede gee?
5 ’n Liefdevolle voorsiening: Diegene wat ’n ruk lank nie aan die predikingswerk deelgeneem het of met die gemeente omgegaan het nie, het dalk bykomende hulp nodig om hulle geloof op te bou. ’n Bybelstudie met so iemand in ’n publikasie soos Aanbid die enigste ware God of Kom nader aan Jehovah is dalk net wat nodig is. Aangesien die persoon reeds gedoop is, hoef die studie gewoonlik nie oor ’n lang tydperk gehou te word nie. Die Gemeentelike Dienskomitee moet let op wie dalk by hierdie voorsiening sal baat vind.—Sien die Vraebus in Ons Koninkryksbediening vir November 1998 en November 2000.
6. Hoe het een suster haar geestelike krag herwin?
6 Anna, wat vroeër gemeld is, het met dankbaarheid ingestem toe die ouer manne voorgestel het dat ’n geestelik volwasse suster ’n Bybelstudie met haar hou. Slegs vier studies was nodig om haar te help om weer na aan Jehovah te kom. Sy het weer gemeentelike vergaderinge begin bywoon, en haar begeerte om Jehovah God in die openbaar te loof, is weer aangewakker. Die geestelik volwasse suster het haar ook in die bediening gehelp deur haar saam na Bybelstudies te neem totdat sy sterk genoeg was om van deur tot deur te getuig. ’n Helpende hand is al wat sy nodig gehad het om weer op dreef te kom!
7. Watter voordele hou dit in wanneer ons ander geestelik versterk?
7 Dit bring vir almal seëninge mee wanneer diegene wat dit nodig het, versterk word. Die een wat gehelp word, geniet die vreugde wat daaruit voortspruit wanneer ’n mens nader aan Jehovah kom en by die bedrywighede van Sy organisasie betrokke raak. Die ouer manne is bly om sulke geestelike vooruitgang te sien (Luk. 15:5, 6). Die eenheid van die gemeente word versterk wanneer almal liefdevolle besorgdheid teenoor mekaar toon (Kol. 3:12-14). Watter goeie redes het ons tog om Jehovah, ’n hulp wat maklik gevind kan word, na te volg!—Ef. 5:1.