Kan jy ingaan by “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”?
1. Watter “groot deur wat tot bedrywigheid lei”, is vir ons oop?
1 Toe “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”, vir die apostel Paulus oopgemaak is, het hy ywerig gebruik gemaak van die geleentheid om Koninkryksbelange te bevorder, al was daar baie teenstanders (1 Kor. 16:9). Vandag het omtrent 642 000 Koninkryksverkondigers regoor die wêreld by ’n groot deur wat tot bedrywigheid lei, ingegaan deur gewone pioniers te word.
2. Waarom is dit goed om ons situasie van tyd tot tyd te ondersoek?
2 Omstandighede verander: Hoewel ons huidige persoonlike omstandighede dalk ons bedrywigheid beperk, kan omstandighede verander. Daarom sal dit goed wees om van tyd tot tyd ons eie situasie te ondersoek en nie vir die ideale omstandighede te wag nie (Pred. 11:4). Is jy ’n jongmens in jou laaste jaar op skool? Is jy ’n ouer wie se kinders kort voor lank sal begin skoolgaan? Gaan jy binnekort aftree? Sulke veranderinge kan jou meer vrye tyd gee en jou dus in staat stel om die gewone pionierdiens te betree. ’n Suster wat voorheen gesondheidsprobleme gehad het, het besluit om op 89-jarige ouderdom as ’n pionier te begin dien. Waarom? Aangesien sy meer as ’n jaar lank nie in die hospitaal was nie, het sy gemeen dat haar gesondheid haar sal toelaat om te pionier.
3. Watter veranderinge het party aangebring om gewone pionierdiens te doen?
3 In Paulus se geval wou hy oorspronklik sy broers in Korinte gaan besoek het. Maar hy het sy planne verander ter wille van die goeie nuus. Baie wat vandag as gewone pioniers dien, moes ’n aantal veranderinge aanbring sodat hulle kon pionier. Party het hulle lewe in so ’n mate vereenvoudig dat hulle net deeltydse werk hoef te doen om hulle verminderde uitgawes te dek. Hulle geniet hulle diensvoorreg (1 Tim. 6:6-8). Party egpare het veranderinge gemaak wat hulle in staat stel om net met een inkomste klaar te kom, en wat dit dan vir die vrou moontlik maak om te pionier.
4. Wat kan ons doen as ons onseker is of ons aan die uurvereiste kan voldoen?
4 Moenie sommer die gedagte van pionierdiens verwerp omdat jy bang is dat jy nie aan die uurvereiste kan voldoen nie. Net ’n bietjie meer as twee uur per dag is nodig. As jy onseker is of jy dit kan doen, kan jy gerus een of twee maande lank hulppionierdiens probeer doen, maar met ’n persoonlike doelwit van 70 uur. Dit sal jou in staat stel om die vreugdes van pionierdiens te smaak (Ps. 34:8). Praat met dié wat op die oomblik pionier. Hulle het dalk uitdagings oorkom wat soortgelyk is aan dié waarmee jy te kampe het (Spr. 15:22). Vra Jehovah se seën op jou pogings om jou bediening uit te brei.—1 Joh. 5:14.
5. Waarom is gewone pionierdiens ’n lonende werk?
5 ’n Lonende werk: Om as ’n gewone pionier te dien, bring baie seëninge mee. Dit stel jou in staat om die groter geluk te ervaar wat dit verskaf om meer te gee (Hand. 20:35). Pionierdiens sal jou vermoë verbeter om God se Woord van waarheid reg te hanteer (2 Tim. 2:15). Dit sal jou meer geleenthede bied om te sien dat Jehovah se hand met jou is (Hand. 11:21; Fil. 4:11-13). Pionierdiens sal jou ook help om geestelike eienskappe soos volharding aan te kweek en sal jou in staat stel om nader aan Jehovah te kom (Jak. 4:8). Kan jy ingaan by hierdie groot deur wat tot bedrywigheid lei en ’n gewone pionier word?