Hoe om Bybelstudies te begin met mense by wie ons tydskrifte gelaat het
1. Wat is ons doelwit wanneer ons tydskrifte by mense laat?
1 Saterdae bied ons gewoonlik Die Wagtoring en Ontwaak! in die bediening aan. Dit is egter net die eerste stap om ons doelwit te bereik om opregtes van hart die waarheid te leer. Hieronder is ’n paar wenke oor hoe om die Leer Bybel-boek vir ’n herbesoek aan te bied en ’n Bybelstudie te begin. Jy kan dit by julle gebied aanpas en in jou eie woorde stel. Gebruik gerus ’n ander benadering as dit vir jou doeltreffend is.
2. Hoe kan ons die inleidende bladsye in die Leer Bybel-boek gebruik om ’n Bybelstudie te begin?
2 Gebruik die inleidende bladsye: Wanneer jy teruggaan, kan jy sê: “Die tydskrifte wat ek by jou gelaat het, vestig die aandag op die Bybel. Let op waarom dit so belangrik is om die Bybel te lees.” Lees Jesaja 48:17, 18; Johannes 17:3 of ’n ander gepaste teks. Nadat jy die Leer Bybel-boek ingelei en vir die huisbewoner ’n eksemplaar gegee het, kan jy sê:
◼ “Die Bybel gee ons ’n ware hoop vir die toekoms.” Wys vir die huisbewoner bladsye 4-5 en vra: “Watter van hierdie beloftes sou jy graag vervul wou sien?” Vestig sy aandag op die hoofstuk wat handel oor die Bybelbelofte wat hy gekies het, en bespreek kortliks ’n paragraaf of twee as hy dit toelaat.
◼ Of jy kan sê: “Die Bybel beantwoord die belangrikste vrae omtrent die lewe.” Vestig die huisbewoner se aandag op bladsy 6 en vra of hy al ooit oor enige van die vrae onderaan die bladsy gewonder het. Blaai na die hoofstuk wat die antwoord gee, en bespreek kortliks ’n paragraaf of twee.
◼ Of jy kan party van die titels in die inhoudsopgawe meld en vra in watter onderwerp hy belangstel. Blaai na daardie hoofstuk, en demonstreer kortliks ’n Bybelstudie.
3. Hoe kan ons ’n Bybelstudie begin nadat ons tydskrifte by iemand gelaat het wat handel oor (a) verergerende wêreldtoestande? (b) die gesin? (c) die betroubaarheid van die Bybel?
3 Vra ’n vraag aan die einde van die eerste besoek: Jy kan ook tydens die eerste besoek die grondslag vir die herbesoek lê. Nadat die huisbewoner die tydskrifte geneem het, kan jy ’n vraag vra en belowe om dit tydens jou volgende besoek te beantwoord. Probeer vaste reëlings tref om terug te gaan, en maak seker dat jy die afspraak nakom (Matt. 5:37). Wanneer jy teruggaan, kan jy die herbesoek herinner aan die vraag en kortliks die antwoord uit die Leer Bybel-boek lees en bespreek. Gee vir hom ’n eksemplaar sodat hy daarin kan volg. Hier is ’n paar voorbeelde:
◼ As die tydskrif wat jy by iemand gelaat het, oor verergerende wêreldtoestande handel, kan jy sê: “Volgende keer kan ons die Bybel se antwoord op hierdie vraag bespreek: Watter veranderinge sal God op die aarde teweegbring?” Gebruik bladsye 4-5 wanneer jy teruggaan. Of jy kan vra: “Is dit God se wil dat tragedies plaasvind?” Tydens die herbesoek kan jy vir die huisbewoner paragrawe 7-8 in hoofstuk 1 wys.
◼ As die tydskrif wat jy by iemand gelaat het, oor die gesin handel, kan jy aan die einde van die besoek vra: “Wat kan elke gesinslid doen om die gesinslewe gelukkiger te maak?” Wanneer jy teruggaan, kan jy paragraaf 4 in hoofstuk 14 bespreek.
◼ As die tydskrif wat jy by iemand gelaat het, oor die betroubaarheid van die Bybel handel, kan jy met die oog op julle volgende bespreking hierdie vraag vra: “Is die Bybel wetenskaplik akkuraat?” Tydens die herbesoek kan jy paragraaf 8 in hoofstuk 2 bespreek.
4. Wat moet ons doen as die huisbewoner nie die Leer Bybel-boek neem nie?
4 Vra aan die einde van elke bespreking nog ’n vraag wat tydens die volgende besoek beantwoord sal word. Wanneer ’n gereelde studie begin word, kan die boek stelselmatig van begin tot einde bespreek word. Sê nou die huisbewoner neem nie die Leer Bybel-boek nie? Jy kan nog steeds vir hom die tydskrifte neem en Bybelbesprekings met hom hou. Namate sy belangstelling verder ontwikkel word, sal hy dalk mettertyd tot ’n Bybelstudie instem.
5. Waarom moet ons meer probeer doen as om net tydskrifte by mense te laat?
5 Die Wagtoring en Ontwaak! kan by iemand die begeerte wek om uit te vind wat die Bybel werklik leer. Wend dus ’n spesiale poging aan om Bybelstudies te begin met mense by wie jy tydskrifte gelaat het. Op hierdie manier sal ons Jesus se opdrag gehoorsaam om ‘dissipels te maak en hulle te leer’.—Matt. 28:19, 20.