Benut jou tyd in die bediening ten beste
1 Daar is beslis baie om in ons bediening te doen, en die oorblywende tyd is kort (Joh. 4:35; 1 Kor. 7:29). As ons goed georganiseerd is en vooruitbeplan, kan ons die tyd wat ons vir die bediening opsygesit het, ten beste benut.
2 Wees voorbereid: Voordat jy na die velddiensvergadering gaan, moet jy seker maak dat jy die nodige lektuur het en jou aanbieding goed voorberei het. Nadat die vergadering met gebed afgesluit is, moet jy dadelik na die gebied gaan. Dit sal jou en dié wat saam met jou werk, in staat stel om soveel moontlik te doen in die tyd wat vir velddiens beskikbaar is.
3 As jy aangewys is om die velddiensvergadering te hou, moet jy op tyd begin. Hou die vergadering kort—nie langer as 10 tot 15 minute nie. Voordat jy die groep verdaag, moet jy seker maak dat elkeen weet waar en saam met wie hy gaan werk.
4 In die bediening: Moenie onnodig talm ná die velddiensvergadering nie, maar maak gereed om dadelik na die gebied te gaan. As jy weet dat jy die gebied vroeg moet verlaat, kan jy dalk jou eie vervoer reël, sodat die res van die groep nie ook vroeg moet ophou nie. Wanneer jy saam met ’n groep werk, moet jy die ander in ag neem wat dalk wag dat jy met ’n bespreking klaarmaak. Dit kan behels dat jy jou taktvol verskoon wanneer iemand stryerig is of reël om later terug te gaan na ’n belangstellende.—Matt. 10:11.
5 Wanneer jy herbesoeke doen, kan jy onnodige ryery voorkom deur al die besoeke in een gebied te doen voordat jy na ’n ander gebied gaan. Dit is dalk moontlik om sekere mense te bel om seker te maak dat hulle by die huis sal wees (Spr. 21:5). As jy verwag dat ’n sekere besoek lank sal neem, kan jy reël dat die ander in jou groep daar naby getuig of ’n ander herbesoek doen.
6 Ons leef in die tyd van ’n groot geestelike oeswerk (Matt. 9:37, 38). Die werk sal binnekort ophou. Ons begeerte moet dus wees om ons tyd in die bediening goed te benut.