“Kom word my volgeling”
1. Watter geleentheid sal die Gemeentelike Bybelstudie ons in die komende maande bied?
1 Die vier Evangelieverslae van Jesus se lewe op die aarde skilder ’n lewensgetroue prentjie van die Seun van God. Omdat Christene “sy voetstappe noukeurig [moet] volg”, moet ons deeglik voorberei en noukeurig aandag skenk wanneer ons vanaf die week van 1 Maart die boek “Kom word my volgeling” tydens die Gemeentelike Bybelstudie bestudeer (1 Pet. 2:21; Mark. 10:21). Ons wil veral let op die aspekte van Jesus se lewe wat ons in die bediening kan aanspoor.
2. Hoe kan Jesus se voorbeeld van volharding ons help?
2 Jesus se voorbeeld: Het jy al ooit ’n negatiewe reaksie gekry terwyl jy van huis tot huis gepreek het? Wanneer ons sulke teenstand teëkom, herinner dit ons aan Jesus se woorde: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Joh. 15:20). Elke negatiewe reaksie is weliswaar nie ’n vorm van vervolging nie. Nietemin was dit die vreugde wat hom voorgehou is wat Jesus in staat gestel het om allerhande toetse en beproewinge te verduur. Ons kan eweneens daarop ingestel wees om Jehovah se goedkeuring en die beloning vir ons getrouheid te verkry. Dít sal ons help om nie ‘moeg te word en in ons siel te beswyk’ nie (Heb. 12:2, 3; Spr. 27:11). Solank ons in die bediening volhard, kan ons seker wees van Christus Jesus se ondersteuning.—Matt. 28:20.
3. Hoe kan ons Jesus se beskouing van die bediening ons eie maak?
3 “Hiervoor is ek uitgestuur”: Die Koninkrykspredikingswerk het die vernaamste plek in Jesus se lewe beklee (Luk. 4:43). Hy het mildelik van homself gegee in die bediening. Vir hom was dit ’n dringende saak, en hy was gedurig op die uitkyk na geleenthede om oor die Koninkryk te praat. Aangesien ons volgelinge van Jesus is, kan ons ons afvra: Waarheen lei sy voetstappe ons? Is daar mense vir wie ons van die goeie nuus kan vertel terwyl ons ons dagtaak verrig? Mag die liefde wat die Christus het, ons dring om die goeie nuus so wyd as moontlik bekend te maak!—2 Kor. 5:14.
4. Op watter maniere kan ons die gehalte van ons bediening verbeter?
4 “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie”: Die manier waarop Jesus mense geleer het, het sy toehoorders verstom (Joh. 7:46; Matt. 7:28, 29). Wat het hom onderskei van ander onderrigters? Hy was lief vir die waarhede wat hy verkondig het, hy was lief vir die mense wat hy geleer het en hy het ’n verskeidenheid onderrigmetodes gebruik. Deur die Groot Leermeester na te volg, kan ons die gehalte van ons bediening verbeter.—Luk. 6:40.
5. Wat moet ons ons ten doel stel terwyl ons “Kom word my volgeling” bestudeer?
5 Hierdie is enkele van die juwele wat ons in die lewe van Jesus vind. Watter ander skatte kan jy ontdek? Stel jou dit ten doel om, terwyl jy die lewe van Jesus tydens die Gemeentelike Bybelstudie ondersoek, “die liefde van die Christus te ken” deur sy woorde en dade na te volg.—Ef. 3:19.