Help die huisbewoner om te redeneer
1. Watter benadering in die bediening is die beste?
1 Watter benadering in die bediening is die doeltreffendste—om dogmaties te wees of om die huisbewoner te help om te redeneer en tot die regte gevolgtrekkings te kom? Die apostel Paulus het die laasgenoemde benadering gebruik toe hy met Jode in Tessalonika gepraat het, en “gevolglik het party van hulle gelowiges geword” (Hand. 17:2-4). Wat behels dit om met ander te redeneer?
2. Hoe kan ons Paulus se voorbeeld navolg wanneer ons die goeie nuus verkondig?
2 Neem gevoelens en agtergrond in ag: As jy mense in jou gebied wil help om te redeneer, moet jy hulle gevoelens in ag neem. Paulus het ’n toespraak aan ongelowige Grieke by die Areopagus begin deur te praat van dinge wat hulle waarskynlik geweet en aanvaar het (Hand. 17:22-31). Daarom moet jy, wanneer jy jou aanbieding voorberei, die algemene opvattings en vooroordele van mense in jou gebied in gedagte hou (1 Kor. 9:19-22). As die huisbewoner ’n beswaar opper, moet jy probeer om ’n gemeenskaplike grondslag te vind en jou gesprek daarop bou.
3. Hoe kan die bekwame gebruik van vrae ons help om beter met ander te redeneer?
3 Gebruik vrae op bekwame wyse: Ons kan ’n reisiger slegs aanwysings gee om hom te help om sy bestemming te bereik as ons weet waar hy tans is. Net so kan ons ’n huisbewoner slegs help om tot die regte gevolgtrekking te kom as ons weet wat sy huidige mening is. Voordat Jesus met mense geredeneer het, het hy dikwels vrae gevra om uit te vind wat hulle dink. Toe ’n man Jesus byvoorbeeld gevra het: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”, het Jesus eers probeer uitvind wat hy dink voordat hy hom ’n antwoord gegee het (Luk. 10:25-28). By ’n ander geleentheid, toe Petrus ’n verkeerde antwoord gegee het, het Jesus vrae op bekwame wyse gebruik om sy denke reg te stel (Matt. 17:24-26). As die huisbewoner dus ’n vraag vra of ’n verkeerde opinie uitspreek, kan ons vrae gebruik om hom te help om oor dinge te redeneer.
4. Waarom moet ons die huisbewoner probeer help om te redeneer?
4 Wanneer ons die huisbewoner help om te redeneer, volg ons die Groot Leermeester, Jesus, na, sowel as ander bekwame evangeliedienaars van die eerste eeu. Ons behandel die huisbewoner met waardigheid en respek (1 Pet. 3:15). Gevolglik sal hy miskien meer geneig wees om ons toe te laat om terug te kom.