Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr16 Desember bl. 1
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2016)
  • Onderhofies
  • 5-11 DESEMBER
  • 12-18 DESEMBER
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2016)
mwbr16 Desember bl. 1

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

5-11 DESEMBER

Soek na geestelike skatte

(Jesaja 1:18) “Kom nou, en laat ons sake regstel tussen ons”, sê Jehovah. “Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word; al sou dit rooi soos karmosyn stof wees, dit sal soos wol word.”

it-2-E 761 ¶3

Versoening

Noodsaaklike stappe vir versoening. Aangesien die mens die skuldige een is, omdat hy God se wet oortree het en nog steeds oortree, moet hy met God versoen raak en nie God met die mens nie (Ps 51:1-4). Die mens staan nie op gelyke voet met God nie, en ook is God se standpunt met betrekking tot wat reg is nie onderhewig aan verandering, verbetering of wysiging nie (Jes 55:6-11; Mal 3:6; vergelyk Jak 1:17). Sy voorwaardes vir versoening is dus nie onderhandelbaar nie, dit kan nie bevraagteken word nie en geen toegewings kan gemaak word nie. (Vergelyk Job 40:1, 2, 6-8; Jes 40:13, 14.) Hoewel Jesaja 1:18 in party vertalings as volg weergegee word: “‘Kom nou en laat ons die saak uitmaak’, sê die HERE” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling), is ’n meer gepaste en konsekwente vertaling eerder: “‘Kom nou, en laat ons sake regstel tussen ons’, sê Jehovah.” Die oorsaak van die onenigheid lê geheel en al by die mens, nie by God nie.—Vergelyk Ese 18:25, 29-32.

12-18 DESEMBER

Soek na geestelike skatte

(Jesaja 8:1-4) En Jehovah het verder vir my gesê: “Neem vir jou ’n groot tafel en skryf daarop met die stif van ’n sterflike mens: ‘Maherʹ-Salalʹ-Has-Bas.’ 2 En laat ek vir my getuienis verkry deur getroue getuies: die priester Uriʹa en Sagariʹa, die seun van Jeberegʹja.” 3 Toe het ek by die profetes gekom, en sy het swanger geword en na verloop van tyd geboorte gegee aan ’n seun. Jehovah het toe vir my gesê: “Noem hom Maherʹ-Salalʹ-Has-Bas, 4 want voordat die seun sal weet om te roep: ‘My vader!’ en ‘My moeder!’ sal die rykdom van Damaskus en die buit van Samariʹa voor die koning van Assiʹrië weggedra word.”

it-1-E 1219

Jesaja

Terwyl Jesaja in Juda as profeet gedien het, veral in die dae van koning Agas, was die koninkryk in ’n betreurenswaardige sedelike toestand. Die vorste sowel as die volk het in algehele opstand gekom, en in Jehovah se oë was die nasie siek in die hart en in die kop. Die heersers is “diktators van Sodom” genoem, en die volk is met die “volk van Gomorra” vergelyk (Jes 1:2-10). Daar is vooraf vir Jesaja gesê dat hulle ore ongevoelig sou wees. Jehovah het gesê dat hierdie situasie sou voortduur totdat die nasie ten gronde sou gaan en dat slegs “’n tiende”, “’n heilige saad”, sou oorbly, soos die stomp van ’n groot boom. Jesaja se profetiese werk het sekerlik daardie klein groepie vertroos en hulle geloof versterk, selfs al het die res van die nasie geweier om te luister.—Jes 6:1-13.

Hoewel Jesaja op Juda gekonsentreer het, het hy ook profesieë uitgespreek in verband met Israel en die omliggende nasies omdat hulle ’n invloed op Juda se situasie en geskiedenis gehad het. Hy het baie jare as ’n profeet gedien, van omstreeks 778 VHJ, toe koning Ussia dood is, of dalk selfs vroeër, tot een of ander tyd ná die 14de regeringsjaar van Hiskia (732 VHJ).—Jes 36:1, 2; 37:37, 38.

Jesaja se familie. Jesaja was getroud. Sy vrou word “die profetes” genoem (Jes 8:3), wat blykbaar beteken dat sy meer as net die vrou van ’n profeet was. Sy het heel moontlik, soos Deborah in die tyd van die Rigters en Hulda gedurende die heerskappy van Josia, ’n profetiese toewysing van Jehovah ontvang.—Rig 4:4; 2Kn 22:14.

Die Bybel verwys na twee seuns van Jesaja, wat aan hom gegee is as “tekens en wonderwerke in Israel” (Jes 8:18). Toe Jesaja ’n boodskap aan koning Agas gaan oordra het, was Sear-Jasub al oud genoeg om saam met sy pa te gaan. Die naam Sear-Jasub beteken “’n Skrale oorblyfsel (Dié wat oorgebly het) sal terugkeer.” Dit was ’n profetiese naam in die sin dat, net so seker as wat ’n seun wat vir Jesaja gebore is, hierdie naam ontvang het, sou die koninkryk van Juda mettertyd vergaan en sou slegs ’n skrale oorblyfsel ná ’n tydperk van ballingskap terugkeer (Jes 7:3; 10:20-23). Hierdie klein oorblyfsel het teruggekeer in 537 VHJ, toe koning Kores van Persië ’n bevel uitgevaardig het wat Israel, ná ’n ballingskap van 70 jaar in Babilon, vrygelaat het.—2Kr 36:22, 23; Esr 1:1; 2:1, 2.

’n Ander seun van Jesaja het sy naam gekry selfs nog voordat hy verwek is, die naam is op ’n skryftafel geskryf en deur betroubare getuies bevestig. Blykbaar was die saak geheim gehou tot na die geboorte van die seun. Daarna kon die getuies na vore kom en bevestig dat die profeet die geboorte voorspel het, wat bewys het dat die aangeleentheid profetiese belang gehad het. Die naam wat op bevel van God aan die seun gegee is, was Maher-Salal-Has-Bas, wat beteken “Maak gou, o buit! Hy het gou kom plunder; of, Haastig na die buit, het hy gou kom plunder”. Daar is voorspel dat die gevaar wat die sameswering tussen Sirië en die tienstammeryk van Israel vir Juda ingehou het, verwyder sou word voordat hierdie seun sou weet hoe om “My vader!” en “My moeder!” te sê.—Jes 8:1-4.

Die profesie het getoon dat daar binnekort verligting vir Juda sou kom; en verligting het gekom toe Assirië inmeng met koning Resin van Sirië en koning Peka van Israel se veldtog teen Juda. Die Assiriërs het Damaskus verower en later, in 740 VHJ, het hulle die koninkryk van Israel geplunder en verwoes. Sodoende is die profetiese betekenis van die seun se naam ten volle vervul (2Kn 16:5-9; 17:1-6). Maar in plaas daarvan om op Jehovah te vertrou, het koning Agas die dreigende gevaar wat Sirië en Israel ingehou het, probeer afweer deur die koning van Assirië om te koop sodat hy hulle sou beskerm. As gevolg hiervan het Jehovah toegelaat dat Assirië ’n groot gevaar vir Juda word en dat hulle die land binnestroom tot reg by Jerusalem, net soos Jesaja voorspel het.—Jes 7:17-20.

Jesaja het baie keer gepraat van “tekens” wat Jehovah sou gee; sy twee seuns was tekens, en in een geval het Jesaja selfs as ’n teken gedien. Jehovah het hom beveel om drie jaar lank naak en kaalvoet rond te loop as ’n teken en as ’n voorteken teen Egipte en Etiopië, wat daarop gewys het dat hulle deur die koning van Assirië as gevangenes weggevoer sou word.—Jes 20:1-6; vergelyk Jes 7:11, 14; 19:20; 37:30; 38:7, 22; 55:13; 66:19.

Profesieë oor ballingskap en herstel. Jesaja het ook die voorreg gehad om te voorspel dat dit Babilon sou wees wat die konings van Juda sou onttroon en Jerusalem sou vernietig, nie Assirië nie (Jes 39:6, 7). Op daardie stadium toe Assirië Juda “tot aan die nek” oorstroom het, het Jesaja die bemoedigende boodskap aan koning Hiskia oorgedra dat die Assiriese strydmagte nie die stad sou kon binnekom nie (Jes 8:7, 8). Jehovah het Sy belofte nagekom en Jerusalem gered deur ’n engel te stuur om 185 000 sterk manne en leiers van die Assiriese leer in een nag dood te maak.—2Kr 32:21.

Die voorreg wat Jehovah hom gegee het om profesieë oor die herstel van sy geliefde Jerusalem te uiter en neer te skryf, het Jesaja sekerlik baie groot vreugde verskaf. Hoewel Jehovah sou toelaat dat die volk weens hulle weerspannigheid en opstandigheid teen hom in ballingskap na Babilon weggevoer word, sou God Babilon later oordeel omdat sy kwaadwillig opgetree het en God se volk vir ewig in gevangenskap wou hou. ’n Hele paar van Jesaja se profesieë het te doen met God se oordeel teen Babilon en die feit dat sy ’n verlate woesteny sou word wat nooit weer herbou sou word nie.—Jes 45:1, 2. hfst. 13, 14, 46-48.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel