Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
7-13 NOVEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | SPREUKE 27-31
“Die Bybel beskryf ’n bekwame vrou”
(Spreuke 31:10-12) Wie kan ’n bekwame vrou vind? Haar waarde is baie meer as dié van korale. 11 In haar het die hart van haar eienaar vertroue gestel, en aan wins ontbreek dit nie. 12 Sy het hom met die goeie beloon, en nie met kwaad nie, al die dae van haar lewe.
it-2-E 1183
Vrou
Vrou beskerm onder die Wet. Hoewel die man die hoër posisie in die huweliksreëling ingeneem het, het God vereis dat hy materieel en geestelik vir sy gesin moet sorg. En enige oortredings deur die gesin sou hom in ’n slegte lig stel; gevolglik het die man ’n groot verantwoordelikheid gehad. En al het die man groter voorregte as die vrou geniet, het God se wet die vrou beskerm en sekere unieke voorregte aan haar gegee, sodat sy ’n gelukkige en produktiewe lewe kon hê.
’n Paar voorbeelde van voorsienings onder die Wet met betrekking tot die vrou was: Die man sowel as die vrou kon weens egbreuk doodgemaak word. As ’n man sy vrou van ontrouheid verdink het, kon hy haar na die priester neem sodat Jehovah God die saak kon beoordeel. En as die vrou skuldig was, sou haar geslagsorgane wegkwyn. Maar as sy onskuldig was, moes haar man haar swanger maak en sodoende haar onskuld openlik erken (Nu 5:12-31). ’n Man kon van sy vrou skei indien hy iets onwelvoegliks aan haar gevind het. Dit sou waarskynlik dinge ingesluit het soos wanneer sy growwe minagting teenoor hom betoon het of skande oor die huisgesin of die huisgesin van sy vader gebring het. Maar die vrou was egter beskerm deur die vereiste dat hy vir haar ’n skeibrief moes uitskryf. Dan was sy vry om met ’n ander man te trou (De 24:1, 2). As die vrou ’n eed gesweer het en die man gedink het dat dit onverstandig was of nadelig was vir die gesin se welsyn, kon hy dit nietig verklaar (Nu 30:10-15). Dit was egter ’n beskerming vir die vrou en dit het gekeer dat sy oorhaastig iets doen wat haar dalk in die moeilikheid kon laat beland.
Veelwywery is onder die Mosaïese Wet toegelaat, maar dit was onderhewig aan sekere bepalings om die vrou te beskerm. Die man kon nie die eersgeboortereg van die seun van ’n vrou wat hy minder liefgehad het, oordra aan die seun van sy gunstelingvrou nie (De 21:15-17). As ’n Israelitiese dogter deur haar vader as ’n slavin verkoop is en haar eienaar haar as ’n byvrou geneem het, kon haar eienaar haar laat loskoop as sy nie vir hom welgevallig was nie, maar hy kon haar nie aan ’n vreemde volk verkoop het nie (Eks 21:7, 8). Indien hy of sy seun haar as ’n byvrou geneem het en toe met ’n ander vrou getrou het, moes sy nog steeds van voedsel, klere en verblyf voorsien word en moes hy die huweliksplig teenoor haar nog steeds nakom.—Eks 21:9-11.
Indien ’n man sy vrou kwaadwillig daarvan beskuldig het dat sy valslik beweer het dat sy ’n maagd was toe sy getrou het en daar bewyse was dat sy beskuldiging onwaar was, is hy gestraf en moes hy haar vader dubbel die prys vir ’n maagd betaal en kon hy vir die res van sy lewe nie van haar skei nie (De 22:13-19). As ’n man ’n maagd verlei het wat nog nie verloof was nie moes hy die volle bruidsprys aan haar vader betaal en met haar trou as die vader dit toegelaat het, en dan kon hy vir die res van sy lewe nie van haar skei nie.—De 22:28, 29; Eks 22:16, 17.
Hoewel die posisie van die vrou in die Hebreeuse samelewing ietwat verskil van die posisie van ’n vrou in die hedendaagse Westerse samelewing, het ’n getroue Hebreeuse vrou haar posisie en haar werk geniet. Sy het haar man gehelp, die kinders grootgemaak, na die huishouding omgesien en daar was talle bevredigende en vreugdevolle dinge wat sy kon doen en wat haar die geleentheid gegee het om haar vroulike natuur en talente ten volle uit te leef.
Beskrywing van ’n goeie vrou. Die gelukkige toestand en bedrywighede van die getroue vrou word in Spreuke 31 beskryf. Daar word gesê dat sy vir haar man waardevoller is as korale. Hy kan op haar vertrou. Sy is vlytig—sy weef, maak klere vir haar gesin, doen aankope vir die huishouding, werk in die wingerd, bestuur die huishouding en hou toesig oor die knegte, staan dié by wat hulp nodig het, sorg dat haar gesin mooi klere het, verdien selfs geld met haar handewerk en sorg dat haar gesin toegerus is vir toekomstige noodsituasies. Sy is wys en liefdevol in haar spraak en haar man en haar seuns prys haar vir haar vrees vir Jehovah en vir haar goeie werke. As gevolg daarvan verkry haar man en haar gesin aansien in die hele land. Ja, hy wat ’n goeie vrou gevind het, het werklik iets goeds gevind en verkry welwillendheid van Jehovah.—Spr 18:22.
In die Christengemeente. Die standaard in die Christengemeente is dat ’n man net een vrou op ’n slag mag hê (1Kor 7:2; 1Ti 3:2). Vrouens word beveel om aan hulle mans onderdanig te wees, hetsy hulle mans Christelike gelowiges is of nie (Ef 5:22-24). ’n Vrou mag nie weier om die huweliksplig teenoor haar man na te kom nie, want net soos in die geval van die man ‘oefen [die vrou] nie gesag oor haar eie liggaam uit nie’ (1Kor 7:3, 4). Vrouens word aangesê dat hulle versiering hoofsaaklik die van die geheime persoon van die hart moet wees, wat die vrug van die gees voortbring sodat ’n ongelowige man dalk sonder woorde gewen kan word (1Pe 3:1-6).
Figuurlike gebruik. Jehovah het in ’n figuurlike sin na Israel as sy vrou verwys op grond van sy verbond met die nasie (Jes 54:6). Die apostel Paulus praat van Jehovah as die vader van geesverwekte Christene en hy praat van “die Jerusalem daar bo” as hulle moeder, asof Jehovah met haar getroud was met die doel om geesverwekte Christene voort te bring (Ga 4:6, 7, 26). Daar word na die Christengemeente verwys as die bruid, of vrou, van Jesus Christus.—Ef 5:23, 25; Op 19:7; 21:2, 9.