Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr18 Oktober bl. 1-8
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2018)
  • Onderhofies
  • 1-7 OKTOBER
  • 8-14 OKTOBER
  • 15-21 OKTOBER
  • 22-28 OKTOBER
  • 29 OKTOBER – 4 NOVEMBER
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2018)
mwbr18 Oktober bl. 1-8

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

1-7 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 9-10

“Jesus sorg vir sy skape”

(Johannes 10:1-3) “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Hy wat nie by die deur in die skaapkraal ingaan nie maar iewers anders opklim, hy is ’n dief en ’n plunderaar. 2 Maar hy wat by die deur ingaan, is herder van die skape. 3 Die deurwagter maak vir hom oop, en die skape luister na sy stem, en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit.

(Johannes 10:11) Ek is die goeie herder; die goeie herder doen afstand van sy siel ten behoewe van die skape.

(Johannes 10:14) Ek is die goeie herder, en ek ken my skape en my skape ken my,

Media in nwtsty

Skaapkraal

’n Skaapkraal is ’n kamp wat gemaak is om skape teen diewe en roofdiere te beskerm. Die skape is oornag in ’n skaapkraal gehou, waar dit veilig was. In Bybeltye het skaapkrale gewoonlik ’n klipmuur en net een opening gehad. Die vorms en groottes het van mekaar verskil en dit het ook nie ’n dak gehad nie (Nu 32:16; 1Sa 24:3; Sef 2:6). Johannes sê dat die skape “by die deur” ingegaan het en dat ’n “deurwagter” daar waggehou het (Joh 10:1, 3). In ’n skaapkraal wat deur die gemeenskap gedeel is, was daar snags soms meer as een kudde, en die deurwagter het dan waggehou om die skape op te pas. Soggens het die deurwagter die deur vir die herders oopgemaak. Die herders het dan hulle skape geroep. Die skape het hulle herder se stem herken en na hom toe gegaan (Joh 10:3-5). Jesus het dit as ’n voorbeeld gebruik om te wys hoe lief hy vir sy dissipels is. — Joh 10:7-14.

(Johannes 10:16) “En ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie; ook hulle moet ek bring, en hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde onder een herder word.

Studienota oor Joh 10:16 in nwtsty

bring: Of, “lei”. Die Griekse werkwoord aʹgo wat hier gebruik word, kan beteken “om (in) te bring” of “om te lei”, afhangende van die konteks. ’n Griekse manuskrip wat uit omtrent 200 HJ dateer, gebruik ’n verwante Griekse woord (sy·naʹgo) wat dikwels as “om te versamel” vertaal word. Jesus, die Goeie Herder, versamel, lei, beskerm en voed die skape wat aan hierdie kraal behoort (wat in Lu 12:32 ook “klein kuddetjie” genoem word), asook sy ander skape. Hulle word een kudde onder een herder. Hierdie illustrasie beklemtoon die eenheid wat Jesus se volgelinge sou geniet.

Soek na geestelike skatte

(Johannes 9:38) Toe het hy gesê: “Ek stel geloof in hom, Here.” En hy het aan hom hulde bewys.

Studienota oor Joh 9:38 in nwtsty

het aan hom hulde bewys: Of, “voor hom neergebuig; voor hom neergeval; hom eer betoon”. Wanneer die Griekse werkwoord pro·sky·neʹo vertaal word met “om te aanbid”, is dit gewoonlik wanneer dit verwys na die aanbidding van ’n god (Mt 4:10; Lu 4:8). Maar die man wat blind gebore is en gesond gemaak is, het Jesus in hierdie konteks as God se verteenwoordiger erken en hulde aan hom bewys. Hy het Jesus nie as God of ’n god beskou nie, maar as die voorspelde “Seun van die mens”, die Messias met goddelike gesag (Joh 9:35). Toe hy hom voor Jesus neergebuig het, het hy dit waarskynlik net so gedoen soos die mense in die Hebreeuse Geskrifte dit gedoen het. Hulle het hulle neergebuig wanneer hulle by profete, konings of ander verteenwoordigers van God was (1Sa 25:23, 24; 2Sa 14:4-7; 1Kn 1:16; 2Kn 4:36, 37). Baie keer wanneer mense hulde aan Jesus bewys het, het hulle dit gedoen omdat hulle dankbaar was dat God iets aan hulle geopenbaar het of guns aan hulle bewys het. — Sien die studienotas oor Mt 2:2; 8:2; 14:33; 15:25.

(Johannes 10:22) In daardie tyd het die toewydingsfees in Jerusalem plaasgevind. Dit was winter,

Studienota oor Joh 10:22 in nwtsty

die toewydingsfees: Die Hebreeuse naam vir hierdie fees is Hanukka (chanuk·kahʹ) wat “inwyding; toewyding” beteken. Dit het agt dae geduur en het op die 25ste dag van die maand Kislef, kort voor die wintersonstilstand, begin. (Sien die studienota oor die winter in hierdie vers en sgd deel 19, bl. 64.) Die fees is gehou om die hertoewyding van Jerusalem se tempel in 165 VHJ te vier. Die Siriese koning Antiogos IV Epifanes het gewys dat hy niks van Jehovah, die God van die Jode, gedink het nie deur Sy tempel te ontheilig. Hy het byvoorbeeld ’n altaar bo-op die groot altaar gebou waar die daaglikse brandoffer voorheen gebring is. Op 25 Kislef 168 VHJ het Antiogos varke op die altaar geoffer en die sap van die vleis oor die hele tempel laat sprinkel om Jehovah se tempel heeltemal te besmet. Hy het die tempelpoorte afgebrand, die priesters se vertrekke afgebreek en die goue altaar, die toonbroodtafel en die goue lampstaander weggedra. Toe het hy Jehovah se tempel aan die heidense god Zeus van Olimpus toegewy. Twee jaar daarna het Judas Makkabeus die stad en die tempel herower. Nadat die tempel gereinig is, is dit weer op 25 Kislef 165 VHJ toegewy. Dit is presies drie jaar nadat Antiogos daardie walglike offer aan Zeus op die altaar gebring het. Hulle het toe weer begin om die daaglikse brandoffers aan Jehovah te bring. Die geïnspireerde Skrif sê nêrens in soveel woorde dat Jehovah vir Judas Makkabeus die oorwinning gegee het en hom beveel het om die tempel te herstel nie. Maar Jehovah het al manne uit ander nasies, soos Kores van Persië, gebruik om sekere voornemens ten opsigte van Sy aanbidding uit te voer (Jes 45:1). Dit sal dus nie verkeerd wees om te dink dat Jehovah ’n man uit sy toegewyde volk sou gebruik om Sy wil uit te voer nie. Die Bybel wys dat die profesieë oor die Messias, sy bediening en sy offerande nie vervul sou kon word sonder dat die tempel bestaan het en in werking was nie. Die Levitiese offers sou ook aanhou tot en met die Messias se groter offerande, sy lewe, om die mens te red (Da 9:27; Joh 2:17; Heb 9:11-14). Christus se volgelinge is nie beveel om die toewydingsfees te vier nie (Kol 2:16, 17). Maar ons lees ook nêrens dat Jesus of sy dissipels die viering van hierdie fees afgekeur het nie.

8-14 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 11-12

“Ons moet meegevoel hê, net soos Jesus”

(Johannes 11:23-26) Jesus het vir haar gesê: “Jou broer sal opstaan.” 24 Marta het vir hom gesê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.” 25 Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy; 26 en elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nóóit sterf nie. Glo jy dit?”

Studienotas oor Joh 11:24, 25 in nwtsty

Ek weet dat hy . . . sal opstaan: Marta het gedink dat Jesus van die toekomstige opstanding, op die laaste dag, gepraat het. (Sien die studienota oor Joh 6:39.) Haar geloof in daardie lering is merkwaardig. Party godsdiensleiers van daardie tyd, die Sadduseërs, het geweier om in ’n opstanding te glo al het die geïnspireerde Skrif dit duidelik geleer (Da 12:13; Mr 12:18), en die Fariseërs het nou weer aan die onsterflikheid van die siel geglo. Marta het geweet dat Jesus geleer het dat daar ’n opstanding sou wees, en dat hy mense selfs opgewek het. Maar nie een van hulle was al so lank dood soos Lasarus nie.

Ek is die opstanding en die lewe: Jesus se eie dood en opstanding het dit moontlik gemaak dat die dooies weer kon lewe. Nadat Jesus opgewek is, het Jehovah hom nie net die mag gegee om die dooies op te wek nie, maar ook om ewige lewe aan ander te gee. (Sien die studienota oor Joh 5:26.) In Op 1:18 noem Jesus homself “die lewende” wat “die sleutels van die dood en van Haʹdes” het. Daarom is Jesus die hoop van die lewendes en die dooies. Hy het belowe om die grafte oop te maak en die dooies te laat lewe, of dit nou as sy medeheersers in die hemel is of op sy nuwe aarde onder sy hemelse regering. — Joh 5:28, 29; 2Pe 3:13.

(Johannes 11:33-35) Toe Jesus haar dan sien huil en die Jode wat saam met haar gekom het, sien huil, het hy in die gees gekreun en verontrus geword; 34 en hy het gesê: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle het vir hom gesê: “Here, kom kyk.” 35 Jesus het trane gestort.

Studienotas oor Joh 11:33-35 in nwtsty

huil: Die Griekse woord vir “huil” word dikwels gebruik vir wanneer mense hard huil. Dieselfde werkwoord word gebruik waar Jesus die toekomstige vernietiging van Jerusalem voorspel. — Lu 19:41.

gekreun en verontrus geword: Die feit dat hierdie twee woorde in die oorspronklike taal saam gebruik word, wys dat Jesus se emosies hier baie sterk was. Die Griekse werkwoord wat as “gekreun” (em·bri·maʹo·mai) vertaal word, wys gewoonlik dat daar sterk gevoelens betrokke is, maar in hierdie konteks wys dit dat Jesus so diep geraak is dat hy gekreun het. Die Griekse woord vir “verontrus geword” (ta·rasʹso), beteken letterlik om in beroering te wees. Volgens een geleerde beteken dit in hierdie konteks “om innerlike verwarring by iemand te veroorsaak; om met groot pyn of hartseer te tref”. Dieselfde werkwoord word in Joh 13:21 gebruik om te beskryf hoe Jesus gevoel het oor die gedagte dat Judas hom sou verraai. — Sien die studienota oor Joh 11:35.

in die gees: Of, in homself. Die Griekse woord pneuʹma word hier blykbaar gebruik in die sin van die dryfkrag wat uit ’n persoon se figuurlike hart kom en hom dinge op ’n sekere manier laat sê of doen. — Sien “Spirit” in die woordelys in die New World Translation of the Holy Scriptures.

het trane gestort: Die woord wat hier gebruik word (da·kryʹo), is die werkwoordvorm van die Griekse selfstandige naamwoord vir “trane” wat gebruik word in tekste soos Lu 7:38; Han 20:19, 31; Heb 5:7; Op 7:17; 21:4. Hier gaan dit meer oor die trane wat gestort word as oor die feit dat daar hard gehuil word. In die Christelike Griekse Geskrifte word hierdie Griekse werkwoord net hier gebruik, en dit verskil van die werkwoord wat in Joh 11:33 (sien die studienota) gebruik word waar dit beskryf hoe Maria en die Jode huil. Jesus het geweet dat hy Lasarus gaan opwek, maar hy was nogtans baie hartseer toe hy gesien het hoe bedroef sy geliefde vriende is. Omdat hy so lief was vir sy vriende en soveel meegevoel vir hulle gehad het, het hy openlik trane gestort. Hierdie verslag wys dus vir ons dat Jesus baie jammer voel vir mense wie se geliefdes as gevolg van Adamitiese sonde sterf.

(Johannes 11:43, 44) En toe hy hierdie dinge gesê het, het hy met ’n harde stem uitgeroep: “Laʹsarus, kom uit!” 44 Die man wat dood was, het uitgekom, met sy voete en hande met grafdoeke gebind, en sy gesig was met ’n doek toegedraai. Jesus het vir hulle gesê: “Maak hom los en laat hom gaan.”

Soek na geestelike skatte

(Johannes 11:49) Maar een van hulle, Kaʹjafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: “Julle weet hoegenaamd niks,

Studienota oor Joh 11:49 in nwtsty

hoëpriester: Toe Israel nog ’n onafhanklike nasie was, het die hoëpriester sy werk lewenslank gedoen (Nu 35:25). Maar toe die Romeine Israel beleër het, het die heersers wat deur Rome aangewys is die gesag gehad om die hoëpriester aan te stel en te verwyder. (Sien “High priest” in die woordelys in die New World Translation of the Holy Scriptures.) Kajafas, wat deur die Romeine aangestel is, was ’n ervare diplomaat wat langer gedien het as enige van die hoëpriesters wat kort voor hom gedien het. Hy is in omtrent 18 HJ aangestel en was hoëpriester tot omtrent 36 HJ. Toe Johannes gesê het dat Kajafas daardie jaar hoëpriester was, dit wil sê in 33 HJ, het hy waarskynlik bedoel dat Kajafas nog hoëpriester was in daardie belangrike jaar toe Jesus tereggestel is. — Sien sgd deel 16, bl. 54, vir die moontlike ligging van Kajafas se huis.

(Johannes 12:42) Nogtans het selfs baie van die heersers geloof in hom gestel, maar weens die Fariseërs het hulle hom nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie;

Studienotas oor Joh 12:42 in nwtsty

die heersers: Die Griekse woord vir “heersers” verwys hier waarskynlik na die lede van die Joodse Hoë Raad, die Sanhedrin. In Joh 3:1 word Nikodemus ’n heerser genoem omdat hy ’n lid van daardie raad was. — Sien die studienota oor Joh 3:1.

uit die sinagoge geban: Of, “geëkskommunikeer; uit die sinagoge verdryf”. Die Griekse byvoeglike naamwoord a·po·sy·naʹgo·gos word net hier en in Joh 12:42 en 16:2 gebruik. Iemand wat geban is, is vermy en deur die gemeenskap verwerp. Mense wat so van ander Jode afgesny is se gesinne het ekonomies baie swaargekry. Die sinagoges, wat hoofsaaklik vir onderrigting gebruik is, is soms ook as ’n plaaslike hof gebruik wat die mag gehad het om mense tot lyfstraf en ekskommunikasie te vonnis. — Sien die studienota oor Mt 10:17.

15-21 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 13-14

“Ek het vir julle die voorbeeld gestel”

(Johannes 13:5) Daarna het hy water in ’n kom gegooi en begin om die voete van die dissipels te was en dit af te droog met die handdoek wat hy omgehad het.

Studienota oor Joh 13:5 in nwtsty

die voete van die dissipels te was: In eertydse Israel het die meeste mense sandale gedra. Dit was ’n eenvoudige sool wat aan die voet en enkel vasgemaak is. Mense wat gereis het se voete het dus vuil geword van die stowwerige en modderige paaie en velde. Wanneer iemand by ’n huis ingegaan het, het hy gewoonlik sy sandale uitgetrek, en ’n gasvrye persoon sou dan seker maak dat sy kuiergas se voete gewas word. Die Bybel praat op ’n hele paar plekke van hierdie gewoonte (Ge 18:4, 5; 24:32; 1Sa 25:41; Lu 7:37, 38, 44). Toe Jesus sy dissipels se voete gewas het, het hy hierdie gewoonte gebruik om vir hulle ’n praktiese les in nederigheid te leer en dat hulle mekaar se dienaars moet wees.

(Johannes 13:12-14) En toe hy hulle voete gewas en sy boklere aangetrek en weer aan tafel gegaan het, het hy vir hulle gesê: “Weet julle wat ek aan julle gedoen het? 13 Julle spreek my aan as ‘Leermeester’ en ‘Here’, en julle sê dit tereg, want ek is dit. 14 As ek dan, hoewel Here en Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.

Studienota oor Joh 13:12-14 in nwtsty

behoort: Of, “moet”. Die Griekse werkwoord wat hier gebruik word, het dikwels met finansies te doen, en dit beteken basies “om iemand geld te skuld; of om iemand iets te skuld” (Mt 18:28, 30, 34; Lu 16:5, 7). In hierdie en ander kontekste word dit in ’n breër sin gebruik en beteken dit dat ’n mens verplig is of onder verpligting staan om iets te doen. — 1Jo 3:16; 4:11; 3Jo 8.

Soek na geestelike skatte

(Johannes 14:6) Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.

Studienota oor Joh 14:6 in nwtsty

Ek is die weg en die waarheid en die lewe: Jesus is die weg, want ons kan slegs deur hom met God in gebed praat. Hy is ook “die weg” waardeur mense met God versoen kan raak (Joh 16:23; Ro 5:8). Jesus is die waarheid omdat hy in ooreenstemming met die waarheid gelewe en gepraat het. Hy het ook baie profesieë vervul wat sy noodsaaklike rol in die uitvoering van God se voorneme beklemtoon (Joh 1:14; Op 19:10). Hierdie profesieë “het deur middel van hom Ja geword”, of is deur hom vervul (2Kor 1:20). Jesus is die lewe omdat hy dit vir die mensdom deur middel van die losprys moontlik gemaak het om “die werklike lewe”, dit wil sê “die ewige lewe”, te kry (1Ti 6:12, 19; Ef 1:7; 1Jo 1:7). Hy sal ook “die lewe” wees vir miljoene wat opgewek gaan word met die vooruitsig om vir ewig in die Paradys te lewe. — Joh 5:28, 29.

(Johannes 14:12) Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Hy wat geloof in my beoefen, hy sal ook self die werke doen wat ek doen; en hy sal groter werke as dié doen, want ek gaan na die Vader toe.

Studienota oor Joh 14:12 in nwtsty

groter werke as dié: Jesus sê nie dat die wonderwerke wat sy dissipels sou doen groter sou wees as sy eie wonderwerke nie. Hy erken eerder nederig dat hulle predikings- en onderrigtingswerk op ’n groter skaal as syne gedoen sou word. Sy volgelinge sou meer gebied dek, meer mense bereik en vir ’n langer tydperk preek as hy. Jesus se woorde wys duidelik dat hy van sy volgelinge verwag het om met sy werk aan te gaan.

22-28 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 15-17

“Julle is geen deel van die wêreld nie”

(Johannes 15:19) As julle ’n deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. En omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.

Studienota oor Joh 15:19 in nwtsty

wêreld: In hierdie konteks verwys die Griekse woord koʹsmos na die deel van die mensdom wat nie God se knegte is nie, die onregverdige gemeenskap wat van God vervreem is. Johannes is die enigste Evangelieskrywer wat Jesus se woorde aanhaal dat sy volgelinge geen deel van die wêreld is nie, of nie aan die wêreld behoort nie. In Jesus se laaste gebed saam met sy getroue apostels sê hy dit nog twee keer. — Joh 17:14, 16.

(Johannes 15:21) Maar hulle sal julle al hierdie dinge aandoen weens my naam, omdat hulle hom wat my gestuur het, nie ken nie.

Studienota oor Joh 15:21 in nwtsty

weens my naam: In die Bybel verwys die woord “naam” soms na die persoon wat die naam dra, sy reputasie en alles wat hy voorstel. (Sien die studienota oor Mt 6:9.) Byvoorbeeld, Jesus se naam stel ook sy gesag en posisie voor wat sy Vader vir hom gegee het (Mt 28:18; Flp 2:9, 10; Heb 1:3, 4). Jesus verduidelik hier hoekom mense van die wêreld teen sy volgelinge sou optree: omdat hulle nie die Een ken wat hom gestuur het nie. As hulle God geken het, sou dit hulle gehelp het om te verstaan en te erken wat Jesus se naam beteken (Han 4:12). Dit sluit Jesus se posisie in as God se aangestelde Heerser, die Koning van die konings, voor wie alle mense hulle gehoorsaam moet neerbuig om die lewe te verkry. —  Joh 17:3; Op 19:11-16; vergelyk Ps 2:7-12.

(Johannes 16:33) Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle deur middel van my vrede kan hê. In die wêreld het julle verdrukking, maar skep moed! Ek het die wêreld oorwin.”

it-1-E 516

Moed

Christene het moed nodig om nie besmet te word deur die gesindhede en dade van ’n wêreld wat teen Jehovah God gekant is nie en om getrou aan Hom te bly al haat die wêreld hulle. Jesus Christus het vir sy dissipels gesê: “In die wêreld het julle verdrukking, maar skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Joh 16:33). God se Seun het nooit toegelaat dat die wêreld hom beïnvloed nie, maar hy het die wêreld oorwin deur dit in geen opsig na te volg nie. Die uitstekende voorbeeld van Jesus Christus as ’n oorwinnaar en die resultaat van sy sondelose lewe, kan ’n mens die moed gee wat jy nodig het om, soos Jesus, afgesonderd en onbesmet van die wêreld te bly. — Joh 17:16.

Soek na geestelike skatte

(Johannes 17:21-23) sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat u my uitgestuur het. 22 Ook het ek hulle die heerlikheid gegee wat u my gegee het, sodat hulle een kan wees net soos ons een is. 23 Ek in eenheid met hulle en u in eenheid met my, sodat hulle volkome een gemaak kan word, sodat die wêreld kan weet dat u my uitgestuur het en dat u hulle liefgehad het net soos u my liefgehad het.

Studienotas oor Joh 17:21-23 in nwtsty

een: Of, “in eenheid”. Jesus het gebid dat sy ware volgelinge “een” moet wees en met dieselfde doel in eenheid moet saamwerk. Dit is net soos hy en sy Vader “een” is; want hulle voel en dink eenders oor dinge en hulle werk in eenheid saam (Joh 17:22). In 1Kor 3:6-9 praat Paulus van hierdie soort eenheid onder Christenbedienaars. Hulle werk saam met mekaar en saam met God. — Sien 1Kor 3:8 en die studienotas oor Joh 10:30; 17:11.

volkome een gemaak kan word: Of, “heeltemal verenig wees”. In hierdie vers wys Jesus dat volmaakte eenheid direk verband hou met die Vader se liefde. Dit stem ooreen met Kol 3:14 wat sê: “Liefde . . . is ’n volmaakte band van eenheid.” Hierdie volmaakte eenheid is relatief. Mense se persoonlikheid, hulle vermoëns, gewoontes en gewete sal nog steeds van mekaar verskil. Maar Jesus se volgelinge is wel verenig in hulle dade, hulle oortuigings en hulle leringe. — Ro 15:5, 6; 1Kor 1:10; Ef 4:3; Flp 1:27.

(Johannes 17:24) Vader, met betrekking tot wat u my gegee het, wens ek dat waar ek is, hulle ook by my kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat u my gegee het, omdat u my voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het.

Studienota oor Joh 17:24 in nwtsty

grondlegging van die wêreld: Die Griekse woord vir “grondlegging” word in Heb 11:11 vertaal as “om saad te ontvang”, soos wanneer iemand kinders voortbring. Die woorde “grondlegging van die wêreld” verwys waarskynlik hier na die geboorte van Adam en Eva se kinders. Jesus verbind Abel met “die grondlegging van die wêreld”, want hy is blykbaar die eerste mens wat losgekoop kon word en die eerste een wie se naam “van die grondlegging van die wêreld af . . . in die boekrol van die lewe geskryf” is (Lu 11:50, 51; Op 17:8). Hierdie gebed van Jesus aan sy Vader bevestig ook dat God al lank gelede sy enigverwekte Seun liefgehad het — nog voordat Adam en Eva kinders gehad het.

29 OKTOBER – 4 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 18-19

“Jesus het van die waarheid getuig”

(Johannes 18:36) Jesus het geantwoord: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie.”

(Johannes 18:37) Daarom het Pilatus vir hom gesê: “Wel, is jy dan ’n koning?” Jesus het geantwoord: “U sê self dat ek ’n koning is. Hiervoor is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig. Elkeen wat aan die kant van die waarheid is, luister na my stem.”

Studienotas oor Joh 18:37 in nwtsty

om van . . . te getuig: Die Griekse woorde wat met “om van te getuig” (mar·ty·reʹo) en “getuig” (mar·ty·riʹa; marʹtys) vertaal word, soos dit in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word, kan verskillende dinge beteken. Albei hierdie uitdrukkings beteken basies dat ’n persoon getuienis lewer oor feite waarvan hy persoonlik kennis dra, maar dit kan ook beteken om “te verklaar; te bevestig; goed te praat van”. Jesus het getuienis gelewer van die waarhede waarvan hy oortuig was en het dit verkondig, maar hy het ook op ’n manier gelewe wat getuig het van die waarheid van sy Vader se profetiese woord en beloftes (2Kor 1:20). God se voorneme in verband met die Koninkryk en die Messiaanse Heerser daarvan is in detail voorspel. Jesus se hele aardse lewe en sy uiteindelike offerdood het alle profesieë oor hom vervul; insluitende die afbeeldings of groter vervullings van die Wetsverbond (Kol 2:16, 17; Heb 10:1). ’n Mens kan dus sê dat Jesus in woord en daad ‘van die waarheid getuig’ het.

die waarheid: Jesus het nie na waarheid oor die algemeen verwys nie, maar na die waarheid oor God se voornemens. ’n Belangrike deel van God se voorneme is dat Jesus, “die seun van Dawid”, as Hoëpriester en as Heerser van God se Koninkryk dien (Mt 1:1). Jesus het die waarheid oor daardie Koninkryk bekend gemaak; hy het verduidelik dat dit een van die belangrikste redes was waarom hy na die mensewêreld toe gekom het, vir sy lewe op aarde en vir sy bediening. Die engele het voor en met Jesus se geboorte in Betlehem van Judea, die stad waar Dawid gebore is, ’n soortgelyke boodskap verkondig. — Lu 1:32, 33; 2:10-14.

(Johannes 18:38a) Pilatus het vir hom gesê: “Wat is waarheid?”

Studienota oor Joh 18:38a in nwtsty

Wat is waarheid?: Pilatus se vraag verwys blykbaar na waarheid oor die algemeen, en nie spesifiek na “die waarheid” waaroor Jesus pas tevore gepraat het nie (Joh 18:37). As Pilatus hierdie vraag opreg bedoel het, sou Jesus hom beslis geantwoord het. Maar Pilatus is waarskynlik skepties of sarkasties en vra ’n retoriese vraag, so asof hy wil sê: “Waarheid? Wat is dit? Daar is nie so iets nie!” Om die waarheid te sê, Pilatus wag nie eers vir ’n antwoord nie, maar gaan na buite, na die Jode toe.

Soek na geestelike skatte

(Johannes 19:30) En toe Jesus die suur wyn ontvang het, het hy gesê: “Dit is volbring!” en hy het sy kop gebuig en sy gees oorgegee.

Studienota oor Joh 19:30 in nwtsty

hy het . . . sy gees oorgegee: Of, “hy het gesterf; hy het ophou asemhaal”. Die woord “gees” (Grieks, pneuʹma) verwys hier skynbaar na “asem” of “lewenskrag”. Hierdie gedagte word ondersteun deur die gebruik van die Griekse werkwoord ek·pneʹo (lett., “om uit te asem”) in die ooreenstemmende verslae in Mr 15:37 en Lu 23:46 (waar dit vertaal word as “het hy die laaste asem uitgeblaas”, of soos die studienotas oor hierdie verse ook wys, “hy het gesterf”). Party meen dat die gebruik van die Griekse woord wat vertaal word as “oorgegee”, beteken dat Jesus vrywillig opgehou het om te stry om aan die lewe te bly omdat alle dinge toe volbring was. Hy het gewillig “sy siel in die dood uitgestort”. — Jes 53:12; Joh 10:11.

(Johannes 19:31) Toe het die Jode, omdat dit die Voorbereiding was, Pilatus versoek om hulle bene te laat breek en die liggame te laat wegneem, sodat die liggame nie op die Sabbat aan die folterpale sou bly nie (want die dag van daardie Sabbat was groot).

Studienota oor Joh 19:31 in nwtsty

die dag van daardie Sabbat was groot: 15 Nisan, die dag ná die Pasga, was altyd ’n sabbat, maak nie saak op watter dag van die week dit geval het nie (Le 23:5-7). Wanneer hierdie spesiale sabbat met die gewone sabbat ooreengestem het (die sewende dag van die Joodse week, wat duur van sonsondergang Vrydag tot sonsondergang Saterdag), was dit ’n “groot” sabbat. Jesus het op ’n Vrydag gesterf, en die dag ná Jesus se dood was dus ’n groot sabbat. In die tydperk van 29 tot 35 HJ was die jaar 33 HJ die enigste jaar waarin 14 Nisan op ’n Vrydag geval het. Dit wys dus dat Jesus wel op 14 Nisan 33 HJ gesterf het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel