Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
13-19 APRIL
SKATTE UIT GOD SE WOORD | GENESIS 31
“Jakob en Laban sluit ’n vredesverbond”
(Genesis 31:44-46) Kom dan nou, laat ons ’n verbond maak, ek en jy, en dit sal as ’n getuie tussen ons dien.” 45 Jakob het dus ’n klip geneem en dit as ’n pilaar opgerig. 46 Toe het Jakob vir sy broers gesê om klippe op te tel. En hulle het klippe geneem en dit op mekaar gestapel. Daarna het hulle daar op die stapel klippe geëet.
it-1-E 883 ¶1
Gal-Ed
Nadat Jakob en Laban die dinge waaroor hulle gestry het, op ’n vreedsame manier uitgesorteer het, het hulle ’n verbond met mekaar gesluit. Daarom het Jakob ’n klippilaar opgerig en vir sy “broers” gesê om klippe op mekaar te stapel, moontlik in die vorm van ’n tafel, waarop die ete van die verbond geëet is. Laban het toe die plek na hierdie stapel vernoem en dit die Aramese (Siriese) naam “Jegar-sahadutha” gegee, maar wat deur Jakob “Gal-Ed” genoem is, wat die Hebreeuse ekwivalent daarvan is. Laban het gesê: “Hierdie stapel klippe [Heb., gal] is vandag ’n getuie [Heb., ʽedh] tussen my en jou” (Ge 31:44-48). Die stapel klippe (en die klippilaar) het as ’n getuienis gedien vir almal wat daar verbygegaan het. Dit was soos vers 49 sê: “Die Wagtoring [Heb., mits·pahʹ]” wat ’n getuienis daarvan was dat Jakob en Laban ooreengekom het om die vrede tussen en in hulle onderskeie families te behou (Ge 31:50-53). Later is klippe op dieselfde manier as stille getuies gebruik. – Jos 4:4-7; 24:25-27.
(Genesis 31:47-50) En Laban het dit Jeʹgar-Sahaduʹta begin noem, maar Jakob het dit Gal-Ed genoem. 48 Laban het toe gesê: “Hierdie stapel klippe is vandag ’n getuie tussen my en jou.” Daarom is dit Gal-Ed genoem, 49 en ook die Wagtoring, want Laban het gesê: “Mag Jehovah wag hou tussen my en jou wanneer ons mekaar nie kan sien nie. 50 As jy my dogters sleg behandel en jy buiten my dogters nog vrouens begin neem, moet jy onthou dat God ’n getuie tussen my en jou is, al is daar niemand by ons nie.”
it-2-E 1172
Wagtoring
Jakob het ’n stapel klippe op mekaar gepak en dit “Gal-Ed” (wat “getuienisstapel” beteken) en “die Wagtoring” genoem. Laban het toe gesê: “Mag Jehovah wag hou tussen my en jou wanneer ons mekaar nie kan sien nie” (Ge 31:45-49). Hierdie stapel klippe sou getuig van die feit dat Jehovah gekyk het dat Jakob en Laban hulle verbond van vrede hou.
(Genesis 31:51-53) Laban het verder vir Jakob gesê: “Hier is die stapel klippe, en hier is die pilaar wat ek tussen my en jou opgerig het. 52 Hierdie stapel klippe is ’n getuie, en die pilaar is iets wat getuig dat ek nie verby hierdie stapel klippe sal gaan om iets slegs aan jou te doen nie en dat jy nie verby hierdie stapel klippe en hierdie pilaar sal gaan om iets slegs aan my te doen nie. 53 Mag die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle pa, tussen ons oordeel.” En Jakob het gesweer by die Een wat deur sy pa, Isak, gevrees word.
Soek na geestelike skatte
(Genesis 31:19) Terwyl Laban sy skape gaan skeer het, het Ragel die terafim-beeldjies gesteel wat aan haar pa behoort het.
it-2-E 1087-1088
Terafim
Argeologiese ontdekkings in Mesopotamië en omliggende gebiede wys dat die persoon wat die terafim-beelde in sy besit gehad het heel moontlik die familie-erfenis sou ontvang. Volgens ’n tablet wat in Noezi ontdek is, kon ’n skoonseun, as die huisgode in sy besit was, in sekere gevalle in die hof verskyn en die erfporsie van sy oorlede skoonpa eis. (Ancient Near Eastern Texts, geredigeer deur J. Pritchard, 1974, bl. 219, 220, en vtn. 51.) Miskien het Ragel daaraan gedink toe sy gevoel het dat sy die reg het om die terafim te vat omdat haar pa so bedrieglik teenoor haar man Jakob opgetree het. (Vergelyk Ge 31:14-16.) Omdat die terafim so belangrik was ten opsigte van erfregte, verduidelik dit dalk hoekom Laban so bekommerd was en dit wou terugkry en dat hy selfs bereid was om sy broers saam met hom te neem en Jakob agterna te sit vir ’n reis van sewe dae (Ge 31:19-30). Jakob het natuurlik glad nie geweet wat Ragel gedoen het nie (Ge 31:32), en daar is geen aanduiding dat hy ooit probeer het om die terafim te gebruik om Laban se seuns se erfporsie te kry nie. Jakob het niks met afgode te doen gehad nie. Jakob sou op die laatste van die terafim ontslae geraak het toe hy al die vreemde gode wat sy huishouding vir hom gegee het onder die groot boom naby Sigem begrawe het. – Ge 35:1-4.
20-26 APRIL
SKATTE UIT GOD SE WOORD | GENESIS 32-33
“Stoei jy om ’n seën te kry?”
(Genesis 32:25, 26) Toe die man sien dat hy nie die oorhand oor Jakob gaan kry nie, het hy aan die potjie van Jakob se heup geraak, en die potjie van sy heup het uit lid geraak terwyl hy met hom gestoei het. 26 Daarna het die man gesê: “Laat my gaan, want dit word al dag.” Maar Jakob het gesê: “Ek sal u nie laat gaan tensy u my seën nie.”
it-2-E 190
Kreupel, kreupelheid
Jakob se kreupelheid. Toe Jakob 97 jaar oud was, het hy die hele nag met ’n gematerialiseerde engel van God gestoei. Hy het geweier om die engel te los totdat die engel hom geseën het. Gedurende die stoeiery het die engel aan die potjie van Jakob se heup geraak en dit het uit lid geraak. Jakob het daarna mank geloop (Ge 32:24-32; Ho 12:2-4). Jakob het daarna ’n herinnering gehad, dat hy, al het hy “met God [God se engel] en mense ’n stryd gevoer, en . . . uiteindelik die oorhand gekry”, soos die engel gesê het, hy in werklikheid nie ’n magtige engel van God oorwin het nie. Dit was net omdat dit God se doel was dat hy Jakob toegelaat het om met die engel te stoei sodat dit kon wys hoe graag Jakob God se seën wou hê.
(Genesis 32:27, 28) Toe het die man hom gevra: “Wat is jou naam?” En hy het gesê: “Jakob.” 28 Daarna het hy gesê: “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie, maar Israel, want jy het met God en mense ’n stryd gevoer, en jy het uiteindelik die oorhand gekry.”
it-1-E 1228
Israel
1. Die naam wat God vir Jakob gegee het toe hy omtrent 97 jaar oud was. Dit was gedurende die nag, toe Jakob deur die drif van die Jabbok-stroom geloop het om sy broer Esau te ontmoet, dat hy met ’n man gestoei het wat eintlik ’n engel was. Omdat Jakob nie opgehou het om te stoei nie al was dit moeilik, is sy naam later na Israel verander as ’n teken van God se seën. As ’n herdenking aan hierdie gebeure het Jakob die plek Pniël genoem. (Ge 32:22-31; sien “JACOB” in it-1-E.) Die verandering van daardie naam is later by Bet-El deur God bevestig, en Jakob is toe vir die res van sy lewe gereeld Israel genoem (Ge 35:10, 15; 50:2; 1Kr 1:34). Die naam Israel word 2 500 keer in die Bybel gebruik, maar baie van die kere verwys dit na die nasie Israel, wat afstammelinge van Jakob was. – Eks 5:1, 2.
Soek na geestelike skatte
(Genesis 33:20) Daar het hy ’n altaar opgerig en dit genoem: God is die God van Israel.
it-1-E 980
God is die God van Israel
Omdat Jakob by Pniël met die engel van Jehovah gestoei het, het hy die naam Israel gekry, en nadat hy en sy broer Esau mekaar in vrede ontmoet het, het hy in Sukkot en toe in Sigem gebly. Hier het hy ’n stuk veld by die seuns van Hemor gekoop en sy tent daar opgeslaan (Ge 32:24-30; 33:1-4, 17-19). “Daar het hy ’n altaar opgerig en dit genoem: God is die God van Israel” (Ge 33:20). Toe Jakob sy nuwe naam, Israel, by die naam van die altaar ingesluit het, het hy gewys dat hy daardie naam aanvaar en waardeer en dat hy dankbaar was dat God hom veilig terug na die Beloofde Land gelei het. Hierdie uitdrukking word net eenkeer in die Bybel gebruik.
27 APRIL–3 MEI
Soek na geestelike skatte
(Genesis 35:8) Later het Deboʹra, Rebekka se oppasser, gesterf en is sy by Bet-El onder ’n eikeboom begrawe. Daarom het hy dit Allon-Baʹkut genoem.
it-1-E 600 ¶4
Debora
1. Rebekka se oppasser. Toe Rebekka die huis van haar pa Betuel verlaat het om na Palestina te gaan en met Isak te trou, het Debora saam met haar gegaan (Ge 24:59). Nadat Debora jare lank in Isak se huishouding gedien het, het sy deel geword van Jakob se huishouding, dalk ná Rebekka se dood. Debora het gesterf omtrent 125 jaar nadat Rebekka met Isak getrou het, en sy is onder ’n groot boom in Bet-El begrawe. Die naam wat vir die boom gegee is (Allon-Baʹkut, wat beteken “eikeboom van gehuil”), wys hoe lief Jakob en sy familie vir haar was. – Ge 35:8.