Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
4-10 MEI
SKATTE UIT GOD SE WOORD | GENESIS 36-37
Soek na geestelike skatte
(Genesis 36:1) Dít is die geskiedenis van Esau, dit wil sê Edom.
it-1-E 678
Edom
(Eʹdom) [Rooi], Edomiete
Edom was die bynaam wat vir Esau, Jakob se tweelingbroer, gegee is (Ge 36:1). Hy het hierdie naam gekry omdat hy sy geboortereg vir die rooi bredie verkoop het (Ge 25:30-34). Toe Esau gebore is, was hy toevallig baie rooi (Ge 25:25), en dele van die land waar hy en sy afstammelinge later gewoon het, was ook rooi.
(Genesis 37:29-32) Later, toe Ruben na die waterput terugkeer en sien dat Josef nie in die waterput is nie, het hy sy klere geskeur. 30 Toe hy weer by sy broers kom, het hy uitgeroep: “Die kind is weg! Wat gaan ek nou doen?” 31 Hulle het toe Josef se kleed geneem en ’n bokram geslag en die kleed in die bloed gedruk. 32 Daarna het hulle die spesiale kleed na hulle pa gestuur en gesê: “Dit is wat ons gevind het. Kyk asseblief of dit Josef se kleed is of nie.”
it-1-E 561-562
Toesig
Wanneer ’n herder of veewagter gesê het dat hy ’n kudde sou versorg of sou oppas, het hy gewys dat hy wetlike toesig oor hierdie diere aanvaar. Dit was ’n waarborg aan die eienaar dat die herder hulle sou voer en dat hulle nie gesteel sou word nie, anders sou hy vergoeding betaal. Maar daar was uitsonderings. Wanneer iets gebeur het wat buite ’n mens se beheer was, soos wanneer ’n wilde dier die kudde aangeval het, is die herder nie daarvoor verantwoordelik gehou nie. Om te wys dat dit nie sy skuld was nie, moes hy vir die eienaar bewyse gee, soos byvoorbeeld die verskeurde karkas. Wanneer die eienaar hierdie bewyse ondersoek het, moes hy dan die herder as onskuldig verklaar.
Dieselfde beginsel het gegeld vir enigiets wat in iemand anders se sorg gelaat is. Byvoorbeeld, selfs in gesinne is die oudste broer as die wettige voog van sy jonger broers en susters beskou. Daarom kan ons verstaan hoekom Ruben, as die oudste seun, so bekommerd was oor Josef se lewe, soos ons kan sien in Genesis 37:18-30, toe die ander broers daarvan gepraat het om hom dood te maak. Hy het gesê: “Ons moenie sy lewe neem nie. . . . Moenie hom doodmaak nie. . . . moet hom nie seermaak nie.” Hy wou hom red sodat hy hom na sy pa kon terugbring. En toe Ruben gesien het dat Josef nie meer daar is nie, was hy so angstig dat hy sy klere geskeur het en uitgeroep het: “Die kind is weg! Wat gaan ek nou doen?” Hy het geweet dat hy daarvoor verantwoordelik gehou kon word dat Josef weg was. Om te sorg dat hulle nie die skuld daarvoor kry nie, het die broers ’n slim storie opgemaak en gesê dat Josef deur ’n wilde dier doodgemaak is. – Ge 37:31-33.
11-17 MEI
SKATTE UIT GOD SE WOORD | GENESIS 38-39
Soek na geestelike skatte
(Genesis 38:9, 10) Maar Onan het geweet dat die nageslag nie as syne beskou sou word nie. Elke keer as hy seksuele omgang met sy broer se vrou gehad het, het hy dus sy saad op die grond gestort sodat hy vir sy broer geen nageslag sou gee nie. 10 Wat hy gedoen het, was sleg in Jehovah se oë, en daarom het hy hom ook doodgemaak.
it-2-E 555
Onan
(Oʹnan) [van ’n grondwoord wat beteken “voortplantingsvermoë, dinamiese energie”].
’n Seun van Juda, sy tweede seun by die Kanaänitiese dogter van Sua (Ge 38:2-4; 1Kr 2:3). Nadat Onan se kinderlose ouer broer Er deur Jehovah doodgemaak is omdat hy gesondig het, het Juda vir Onan gesê om ’n swaershuwelik te sluit met Er se weduwee, Tamar. As Onan ’n seun gehad het, sou die seun nie die stigter van Onan se familie gewees het nie, en sou die eersgeborene se erfdeel aan die seun behoort het, as erfgenaam van Er. Maar as geen erfgenaam gebore is nie, sou Onan alles geërf het. Wanneer Onan seksuele omgang met Tamar gehad het, het hy “sy saad op die grond gestort” in plaas van om dit vir haar te gee. Onan het nie gemasturbeer nie, want die verslag sê: “Elke keer as hy seksuele omgang met sy broer se vrou gehad het,” het hy sy saad gestort. Dit was blykbaar ’n geval van “coitus interruptus” waar Onan aspris gekeer het dat sy semen in Tamar se geslagskanaal ingaan. Onan, wat ook geen kinders gehad het nie, is deur Jehovah doodgemaak. Dit was omdat hy ongehoorsaam was aan sy pa, gierig was en teen God se reëling vir die huwelik gesondig het, en nie as gevolg van masturbasie nie. – Ge 38:6-10; 46:12; Nu 26:19.
25-31 MEI
SKATTE UIT GOD SE WOORD | GENESIS 42-43
“Josef wys dat hy baie selfbeheersing het”
(Genesis 42:21, 22) En hulle het vir mekaar gesê: “Ons word beslis gestraf as gevolg van ons broer, want ons het gesien hoe angstig hy was toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Daarom het hierdie moeilikheid oor ons gekom.” 22 Toe het Ruben hulle geantwoord: “Het ek nie vir julle gesê: ‘Moenie teen die kind sondig nie’? Maar julle wou nie luister nie. Nou word sy bloed van ons teruggeëis.”
it-2-E 108 ¶4
Josef
Omdat al hierdie dinge gebeur het, het Josef se halfbroers begin dink dat Jehovah hulle straf omdat hulle hom jare gelede as ’n slaaf verkoop het. Hulle het voor hulle broer gepraat van die dinge wat hulle verkeerd gedoen het, want hulle het hom nog steeds nie herken nie. Toe Josef hoor hoe jammer hulle was oor wat hulle gedoen het, het hy so emosioneel geword dat hy moes weggaan om te gaan huil. Toe hy terugkom, het Josef Simeon laat vasbind totdat hulle hulle jongste broer na hom toe sou bring. – Ge 42:21-24.
Soek na geestelike skatte
(Genesis 42:22) Toe het Ruben hulle geantwoord: “Het ek nie vir julle gesê: ‘Moenie teen die kind sondig nie’? Maar julle wou nie luister nie. Nou word sy bloed van ons teruggeëis.”
(Genesis 42:37) Maar Ruben het vir sy pa gesê: “Pa kan my eie twee seuns doodmaak as ek hom nie terugbring nie. Plaas hom in my sorg, en ek sal hom na Pa toe terugbring.”
it-2-E 795
Ruben
Party van Ruben se goeie eienskappe het uitgekom toe hy sy nege broers oorreed het om Josef nie dood te maak nie, maar om hom in ’n droë put te gooi. Ruben was van plan om in die geheim terug te kom om Josef uit die put te haal (Ge 37:18-30). Meer as 20 jaar later is hierdie selfde broers in Egipte daarvan beskuldig dat hulle spioene is. Hulle het gedink dat dit met hulle gebeur omdat hulle Josef so sleg behandel het. Ruben het hulle daaraan herinner dat hy nie met hulle saamgesweer het om Josef dood te maak nie (Ge 42:9-14, 21, 22). En toe Jakob geweier het dat Benjamin saam met sy broers op hulle tweede reis na Egipte gaan, was dit Ruben wat sy eie twee seuns as waarborg gegee het toe hy gesê het: “Pa kan [hulle] doodmaak as ek [Benjamin] nie terugbring nie.” – Ge 42:37.