Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr24 Mei bl. 1-12
  • Verwysings vir die “Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die “Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek”
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2024
  • Onderhofies
  • 6-12 MEI
  • 13-19 MEI 2012
  • 20-26 MEI 2012
  • 27 MEI 2012–2 JUNIE 2012
  • 3-9 JUNIE 2012
  • 10-16 JUNIE 2012
  • 17-23 JUNIE 2012
  • 24-30 JUNIE 2012
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2024
mwbr24 Mei bl. 1-12

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

© 2024 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania

6-12 MEI

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 36-37

“Moenie ontsteld wees as gevolg van goddelose mense nie”

w17.04 10 ¶4

Wat sal tot ’n einde kom wanneer God se Koninkryk kom?

4 Watter uitwerking het goddelose mense nou op ons? Nadat die apostel Paulus voorspel het “dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”, is hy geïnspireer om te skryf: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Tim. 3:1-5, 13). Het jy al gesien hoe hierdie woorde vervul word? Baie van ons was al slagoffers van goddelose mense soos gewelddadige boelies, rassiste en wrede misdadigers. Party van hulle probeer nie eers om hulle goddelose dade weg te steek nie. Ander gee voor dat hulle mense help, maar hulle is in werklikheid goddeloos. Al was ons nog nooit self ’n slagoffer van misdaad nie, het goddelose mense nog steeds ’n uitwerking op ons. Dit maak ons siek as ons hoor hoe sleg kinders, bejaardes en mense wat hulleself nie kan beskerm nie, behandel word. Goddelose mense tree onmenslik, dierlik of selfs demonies op (Jak. 3:15). Gelukkig gee Jehovah se Woord ons hoop.

w22.06 10 ¶10

Jehovah seën dié wat ander vergewe

10 Om kwaad te bly vir iemand, is sleg vir ons. Om kwaad te wees, is soos ’n swaar las, en Jehovah wil hê dat ons die vrede moet ondervind wat ons sal voel wanneer ons daarvan ontslae raak. (Lees Efesiërs 4:31, 32.) Hy moedig ons aan: “Hou op om kwaad te wees en laat vaar die woede” (Ps. 37:8). As ons daardie raad volg, sal dit ons help. Om kwaad te bly vir iemand, kan sleg wees vir ons fisiese en verstandelike gesondheid (Spr. 14:30). As ons kwaad bly vir iemand, is dit nie sleg vir hom nie, net soos dit nie vir hom sleg sou wees as ons gif drink nie. So wanneer ons ander vergewe, gee ons onsself ’n geskenk (Spr. 11:17). Ons vind innerlike vrede, en ons kan voortgaan in ons diens aan Jehovah

w03 12/1 13 ¶20

‘Verlustig jou in Jehovah’

20 Dan sal “die sagmoediges . . . die aarde besit” (Psalm 37:11a). Maar wie is die “sagmoediges”? Die woord wat met ‘sagmoedig’ vertaal word, kom van ’n grondwoord wat “geteister, nederig, verneder” beteken. Ja, “die sagmoediges” is diegene wat nederig wag op Jehovah om al die onregte wat hulle verduur, reg te stel. “Hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:11b). Ons vind nou reeds oorvloedige vrede in die geestelike paradys wat deel vorm van die ware Christengemeente.

Geestelike skatte

it-2-E 445

Berg

Stabiliteit, permanentheid of verhewenheid. Berge word gewoonlik as stabiel en permanent beskryf. (Jes 54:10; Hab 3:6; vergelyk Ps 46:2.) Daarom het die psalmis moontlik bedoel dat Jehovah se regverdigheid onbeweeglik is toe hy gesê het dat Jehovah se regverdigheid soos die “berge van God” is (Ps 36:6, vtn.). Of, omdat berge so verhewe is, verwys dit moontlik na die feit dat God se regverdigheid ver verhewe bo dié van mense is. (Vergelyk Jes 55:8, 9.) In verband met die uitgooi van die sewende bak van God se woede, sê Openbaring 16:20: “Berge is nie gevind nie.” Dit wil sê dat selfs dinge wat so verhewe is soos berge God se woede nie sal kan vryspring nie. – Vergelyk Jer 4:23-26.

13-19 MEI 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 38-39

Moenie vashou aan skuldgevoelens nie

w20.11 27 ¶12-13

“Kyk reguit vorentoe” na die toekoms

12 Lees 1 Johannes 3:19, 20. Ons almal voel soms skuldig. Byvoorbeeld, party voel skuldig as gevolg van dinge wat hulle gedoen het voordat hulle die waarheid geleer het. Ander voel skuldig as gevolg van foute wat hulle gemaak het nadat hulle gedoop is. Sulke gevoelens is normaal (Rom. 3:23). Ons wil natuurlik doen wat reg is. Maar “ons almal struikel dikwels” (Jak. 3:2; Rom. 7:21-23). Alhoewel ons nie daarvan hou om skuldig te voel nie, kan dit soms goed wees. Hoekom? Omdat skuldgevoelens ons kan motiveer om veranderinge in ons lewe te maak en om vasbeslote te wees om nie weer dieselfde foute te maak nie. – Heb. 12:12, 13.

13 Aan die ander kant kan ons dalk vashou aan skuldgevoelens – met ander woorde ons kan aanhou om skuldig te voel selfs al het ons gewys dat ons jammer is en al het Jehovah gewys dat hy ons vergewe het. Daardie tipe skuldgevoelens kan sleg wees vir ons (Ps. 31:10; 38:3, 4). Hoe so? Dink aan die voorbeeld van ’n suster wat aangehou het om skuldig te voel oor haar sondes van die verlede. Sy het gesê: “Ek het gemeen dat dit nie sou help om my in Jehovah se diens in te span nie, aangesien dit vir my seker in elk geval te laat was.” Baie van ons voel dalk ook so. So ons moet versigtig wees om nie vas te hou aan skuldgevoelens nie. Hoekom? Want dink net hoe bly Satan sal wees as ons ophou om Jehovah te dien – selfs al het Jehovah ons vergewe. – Vergelyk 2 Korintiërs 2:5-7, 11.

w02 11/15 20 ¶1-2

Hoe kan ons ons dae voor Jehovah laat tel?

DIE dae van ons lewe lyk maar min en is van korte duur. Die psalmis Dawid het oor die kortstondigheid van die lewe gepeins en is beweeg om te bid: “Maak aan my, o Jehovah, my einde bekend, en die maat van my dae—wat dit is, sodat ek kan weet hoe verganklik ek is. Kyk! U het my dae maar min gemaak; en my lewensduur is soos niks voor u.” Dawid wou graag so lewe dat hy God behaag, deur sy spraak sowel as deur sy dade. Hy het sy afhanklikheid van God soos volg uitgedruk: “My verwagting is op u gerig” (Psalm 39:4, 5, 7). Jehovah het geluister. Hy het inderdaad Dawid se bedrywighede ondersoek en hom dienooreenkomstig beloon.

Dit is maklik om elke minuut van die dag besig te wees en eenvoudig meegesleur te word deur ’n gejaagde en vol lewe. Dit kan ’n angstigheid in ons wek, veral met so baie om te doen en te ervaar en so min tyd om dit te doen. Het ons dieselfde begeerte as Dawid—dat ons ons lewe so wil lei dat ons God se goedkeuring kan wegdra? Dit ly geen twyfel nie dat Jehovah elkeen van ons waarneem en noukeurig ondersoek. Job, ’n man wat God gevrees het, het sowat 3 600 jaar gelede erken dat Jehovah sy weë gesien en al sy voetstappe getel het. Job het hierdie retoriese vraag gevra: “Wanneer hy rekenskap eis, wat kan ek hom antwoord?” (Job 31:4-6, 14). Dit is moontlik om ons dae voor God te laat tel deur geestelike prioriteite te stel, sy gebooie te gehoorsaam en ons tyd wyslik te gebruik. Kom ons beskou hierdie sake van naderby.

w21.10 15 ¶4

Hoe om jou vriendskap met Jehovah weer op te bou

Praat gereeld met Jehovah. Jou Vader verstaan dat skuldgevoelens dit vir jou moeilik kan maak om met hom te praat (Rom. 8:26). Maar hou aan om tot Jehovah te bid en om vir hom te sê hoe graag jy sy vriend wil wees (Rom. 12:12). ’n Broer met die naam Andrej sê: “Ek het baie skuldig en sleg oor myself gevoel. Maar ná elke gebed het ek beter gevoel. Ek het meer innerlike vrede gehad.” As jy nie weet waaroor om te bid nie, kan jy die gebede van die berouvolle koning Dawid in Psalm 51 en 65 gaan lees.

Geestelike skatte

w22.09 13 ¶16

Bewys dat jy betroubaar is

16 Selfbeheersing is baie belangrik as ons wil hê dat ander ons moet vertrou. Hierdie eienskap help ons om stil te bly wanneer ons in die versoeking kom om iets vertroulik vir ander te vertel. (Lees Spreuke 10:19.) Dit kan moeilik wees om selfbeheersing te hê wanneer ons sosiale media gebruik. As ons nie versigtig is nie, kan ons per ongeluk vertroulike dinge met baie mense deel. En sodra ons die inligting elektronies versprei het, het ons geen beheer oor hoe dit gebruik sal word of oor hoeveel skade dit sal veroorsaak nie. Selfbeheersing help ons ook om stil te bly wanneer teenstanders ons probeer kry om dinge te openbaar wat ons broers en susters in gevaar kan stel. Dit gebeur dalk wanneer ons deur die polisie ondervra word in ’n land waar ons werk verbied is of beperk is. Ons kan die beginsel om ons “mond met ’n muilband toe [te] maak” in hierdie en in ander situasies toepas (Ps. 39:1). Of ons nou met ons familie, ons vriende, ons broers en susters of enige iemand anders te doen het, ons moet betroubaar wees. En om betroubaar te wees, het ons selfbeheersing nodig.

20-26 MEI 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 40-41

Hoekom moet ons ander help?

w18.08 22 ¶16-18

Mense wat vrygewig is, is gelukkig

16 Mense wat regtig vrygewig is, verwag nie dat ander vir hulle iets moet teruggee nie. Dit is wat Jesus in gedagte gehad het toe hy gesê het: “Maar wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, kreupeles, verlamdes, blindes; en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie” (Luk. 14:13, 14). Die Bybel sê dat ’n vrygewige persoon ‘geseën sal word’. Dit sê ook: “Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe” (Spr. 22:9; Ps. 41:1). Ja, ons moet vrygewig wees, want dit maak ons gelukkig om ander te help.

17 Toe Paulus Jesus se woorde aangehaal het dat ‘dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang’, het hy nie net van materiële dinge gepraat nie. Ons kan ook gee deur ander aan te moedig, raad te gee en op praktiese maniere te help (Hand. 20:31-35). Die apostel Paulus het ons deur sy woorde en sy voorbeeld geleer om van onsself te gee — ons tyd, ons energie, ons aandag, ons liefde

18 Navorsers op die gebied van sosiale wetenskappe het ook gesien dat dit mense gelukkig maak wanneer hulle gee. Volgens een artikel voel mense gelukkiger nadat hulle goeie dinge vir ander gedoen het. Navorsers sê dat wanneer ons ander help, dit voel asof ons lewe meer betekenis het en ons ’n doel in die lewe het. Daarom raai deskundiges mense dikwels aan om vrywillige werk te doen omdat dit hulle gelukkig sal maak en dit goed is vir hulle gesondheid. Dit verbaas ons nie, want ons liefdevolle Skepper het nog altyd gesê dat dit mense gelukkig maak as hulle vrygewig is. — 2 Tim. 3:16, 17.

w15 12/15 24 ¶7

Jehovah sal jou onderskraag

7 Maar as jy siek is, sal Jehovah jou vertroos en ondersteun, net soos hy met sy knegte in die verlede gedoen het. Koning Dawid het geskryf: “Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe; in die dag van rampspoed sal Jehovah aan hom ontkoming verskaf. Jehovah sal hom bewaar en hom in die lewe hou” (Psalm 41:1, 2). Dawid het natuurlik nie bedoel dat iemand wat destyds uit sy pad uit gegaan het om behoeftige, nederige mense te help, nooit sou sterf nie. Hoe sou Jehovah so ’n goeie persoon dan help? Dawid het verduidelik: “Jehovah sal hom op ’n siekbed onderskraag; sy hele bed sal u beslis gedurende sy siekte verander” (Psalm 41:3). Jehovah weet presies wat sy knegte deurmaak en hy vergeet hulle nie. Hy kan hulle moed en wysheid gee. En Jehovah het die menseliggaam op so ’n manier gemaak dat dit vanself gesond kan word.

w17.09 12 ¶17

Wees medelydend soos Jehovah

17 Ons moenie net medelydend wees omdat dit goed is vir ons nie. Die hoofrede moet wees omdat ons Jehovah God, die Bron van liefde en medelye, wil navolg (Spr. 14:31). Hy stel vir ons die volmaakte voorbeeld. Laat ons alles in ons vermoë doen om hom na te volg. As ons medelydend is, sal dit ons liefde vir ons broers en susters vergroot en sal ons beter oor die weg kom met ons naaste.—Gal. 6:10; 1 Joh. 4:16.

Geestelike skatte

it-2-E 16

Jehovah

Die hele Bybelverslag gaan oor die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit, en dit wys duidelik wat Jehovah God se hoofdoel is – die heiliging van sy eie naam. Dit beteken dat God se naam van alle oneer gereinig moet word. Maar nog belangriker, dit vereis dat alle intelligente skepsele in die hemel en op die aarde daardie naam as heilig moet beskou. Dit beteken dat hulle Jehovah se posisie as soewerein erken en respekteer, hulle doen dit gewilliglik, hulle wil hom dien, en dit maak hulle bly om sy goddelike wil te doen omdat hulle lief is vir hom. Dawid se gebed aan Jehovah in Psalm 40:5-10 is ’n goeie voorbeeld van hierdie soort gesindheid en hoe om werklik Jehovah se naam te heilig. (Kyk hoe die apostel gedeeltes van hierdie psalm op Christus Jesus toepas in Heb 10:5-10.)

27 MEI 2012–2 JUNIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 42-44

Maak goed gebruik van onderrigting wat van Jehovah kom

w06 6/1 9 ¶4

Glanspunte uit die Tweede Boek van Psalms

42:4, 5, 11; 43:3-5. As ons om die een of ander rede buite ons beheer tydelik van die Christengemeente afgesny word, kan die vreugdevolle herinneringe aan die omgang wat ons in die verlede daarmee geniet het, ons onderskraag. Hoewel dit aanvanklik die pyn van eensaamheid kan vererger, sal dit ons ook daaraan herinner dat God ons toevlug is en dat ons op hom moet wag vir verligting.

w12 1/15 15 ¶2

Maak studietyd aangenamer en produktiewer

1 BID: Die eerste stap is om te bid (Ps. 42:8). Waarom? Ons moet die bestudering van God se Woord as deel van ons aanbidding beskou. Ons moet Jehovah dus vra om ons in die regte stemming te bring en om ons sy heilige gees te gee (Luk. 11:13). Barbara, wat al lank ’n sendeling is, sê: “Ek bid altyd voordat ek die Bybel lees of bestudeer. Dan voel ek dat Jehovah met my is en dat hy goedkeur wat ek doen.” As ons bid voordat ons studeer, open dit ons verstand en hart om die oorvloedige geestelike voedsel wat voor ons is, ten volle te aanvaar.

w16.09 5 ¶11-12

“Laat jou hande nie slap word nie”

11 Ons word ook versterk deur goddelike onderrigting by ons Christelike vergaderinge, byeenkomste en teokratiese skole. Hierdie opleiding kan ons help om die regte beweegredes te hê, om geestelike doelwitte te stel en om al ons Christelike verantwoordelikhede na te kom (Ps. 119:32). Doen jy jou bes om krag te put uit hierdie opleiding?

12 Jehovah het die Israeliete gehelp om die Amalekiete en die Etiopiërs te verslaan, en hy het Nehemia en sy metgeselle versterk om Jerusalem se mure te voltooi. Net so sal God ons die krag gee om ten spyte van teenstand, onverskilligheid en angstigheid standvastig te bly sodat ons ons predikingswerk kan doen (1 Pet. 5:10). Ons verwag nie dat Jehovah wonderwerke vir ons sal verrig nie. Ons moet ons deel doen. Ons kan dit doen deur God se Woord elke dag te lees, elke week vir die vergaderinge voor te berei en dit by te woon, ons verstand en hart te voed deur middel van persoonlike studie en gesinsaanbidding en deur altyd in gebed op Jehovah te vertrou. Ons moet nooit toelaat dat ander strewes en bedrywighede ons verhinder om ten volle baat te vind by die middele wat Jehovah gebruik om ons te versterk en aan te moedig nie. As jy agterkom dat jou hande op enige van hierdie gebiede slap geword het, moet jy God vra om jou te help. Dan sal jy sien hoe sy gees ‘in jou werk sodat jy kan wil sowel as werk’ (Fil. 2:13). Maar wat kan jy doen om ander se hande te versterk?

Geestelike skatte

it-1-E 1242

Jakkals

In die Bybel word jakkalse herhaaldelik gebruik om iets te illustreer. Toe Job sy jammerlike toestand beskryf het, het hy gesê dat “die jakkalse [sy] broers geword” het (Job 30:29). Toe God se volk nederig oorwin was, het die psalmis gesê: “U het ons verpletter op die plek waar die jakkalse woon” (Ps 44:19). Hy het dalk verwys na die slagveld waar jakkalse bymekaargekom het om dié te eet wat verslaan was. (vergelyk Ps 68:23.) Toe Jerusalem in 607 VHJ deur Babilon beleër was, het dit ’n hongersnood veroorsaak, en as gevolg daarvan het ma’s hulle eie kinders wreed behandel. Daarom was dit gepas dat Jeremia die kontras getref het tussen die wreedheid ‘van sy volk’ en die moederlike sorg van jakkalse. – Klg 4:3, 10.

3-9 JUNIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 45-47

’n Liedjie oor die huwelik van ’n Koning

w14 2/15 9-10 ¶8-9

Wees bly oor die huwelik van die Lam!

8 Lees Psalm 45:13, 14a. Die bruid is “die ene heerlikheid”, pragtig versier vir die koninklike bruilof. In Openbaring 21:2 word die bruid vergelyk met ’n stad, Nuwe Jerusalem, en is sy “vir haar man versier”. Hierdie hemelse stad het “die heerlikheid van God”, en die glans daarvan is “soos ’n baie kosbare steen, soos ’n jaspissteen wat kristalhelder blink” (Op. 21:10, 11). Die luisterrykheid van Nuwe Jerusalem word pragtig beskryf in die boek Openbaring (Op. 21:18-21). Dit is geen wonder dat die psalmis die bruid as “die ene heerlikheid” beskryf nie! Die koninklike bruilof vind immers in die hemel plaas.

9 Die Een na wie die bruid gelei word, is die Bruidegom—die Messiaanse Koning. Hy het haar voorberei deur haar ‘te reinig met die waterbad deur middel van die woord’. Sy is “heilig en sonder smet” (Ef. 5:26, 27). Sy bruid moet ook gepas geklee wees vir die geleentheid. En sy is! Ja, “haar klere het goue borduurwerk”, en “in geweefde klere sal sy na die koning toe gelei word”. Vir die bruilof van die Lam ‘is dit aan haar gegee om geklee te wees in blink, skoon, fyn linne, want die fyn linne beeld die regverdige dade van die heiliges af’.—Op. 19:8.

w22.05 17 ¶10-12

Openbaring – Wat dit vir jou toekoms beteken

10 Hoe sal Jehovah reageer wanneer sy volk aangeval word? Hy sê vir ons: “My groot woede [sal] opvlam” (Eseg. 38:18, 21-23). Openbaring hoofstuk 19 verduidelik wat volgende gebeur. Jehovah stuur Sy Seun om Sy volk te verdedig en om hulle vyande te oorwin. “Die leërmagte in die hemel”, dit wil sê die getroue engele en die 144 000, sal saam met Jesus veg (Op. 17:14; 19:11-15). Wat is die uiteinde van hierdie oorlog? Alle mense en organisasies wat Jehovah teëstaan, sal heeltemal vernietig word! – Lees Openbaring 19:19-21.

11 Dink net hoe alle getroue mense op die aarde sal voel nadat al God se vyande vernietig is! Dit sal ’n tyd van groot vreugde wees! Almal in die hemel sal uitroep van vreugde wanneer Babilon die Grote vernietig is. Maar daar is nog iets wat tot groter vreugde sal lei (Op. 19:1-3). Wat is dit? “Die huwelik van die Lam” – die hoogtepunt van die boek Openbaring. – Op. 19:6-9.

12 Wanneer sal die huwelik plaasvind? Al die lede van die 144 000 sal al in die hemel wees wanneer Armageddon begin. Maar dit is nie wanneer die huwelik van die Lam sal plaasvind nie. (Lees Openbaring 21:1, 2.) Die huwelik van die Lam vind plaas ná Armageddon en nadat al God se vyande vernietig is. – Ps. 45:3, 4, 13-17.

it-2-E 1169

Oorlog

Aan die einde van hierdie oorlog, sal die aarde vir ’n duisend jaar vrede geniet. Die psalm wat sê: “[Jehovah] maak regoor die aarde ’n einde aan oorloë. Hy breek die boog en vernietig die spies. Hy verbrand die militêre waens met vuur”, het sy eerste vervulling gehad toe God vrede in die land Israel gebring het toe hy die vyand se wapens vernietig het. Nadat Christus die voorstanders van oorlog by Har–Magedon vernietig het, sal die hele aarde vrede ten volle geniet (Ps 46:8-10). Mense wat die ewige lewe sal kry, is dié wat van ‘hulle swaarde ploegskare gemaak het en van hulle spiese snoeimesse’ en wat “nie meer leer om oorlog te voer nie”. “Want Jehovah van die leërmagte het dit gesê.” – Jes 2:4; Mi 4:3, 4.

Geestelike skatte

w17.04 11 ¶9

Wat sal tot ’n einde kom wanneer God se Koninkryk kom?

9 Sal daar ná Armageddon enige organisasies op die aarde wees? Die Bybel sê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Pet. 3:13). Die vorige hemele en aarde, die korrupte organisasies en al die mense onder hulle beheer, sal iets van die verlede wees. Waarmee sal hulle vervang word? “Nuwe hemele en ’n nuwe aarde.” Die nuwe hemele verwys na ’n nuwe regering, of die Koninkryk, wat bestaan uit Jesus Christus en sy 144 000 medeheersers. Die nuwe aarde verwys na diegene waaroor God se Koninkryk sal regeer. Die Koninkryksregering sal Jehovah God, wat ’n God van orde is, volmaak navolg (1 Kor. 14:33). Die “nuwe aarde” sal goed georganiseerd wees. Regverdige manne sal die leiding neem (Ps. 45:16). Hulle sal deur Christus en sy 144 000 medeheersers gerig word. Stel jou voor hoe dit sal wees as al die korrupte organisasies vervang word met ’n enkele, verenigde organisasie wat nooit korrup sal word nie!

10-16 JUNIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 48-50

Ouers – Versterk julle gesin se vertroue in Jehovah se organisasie

w22.03 22 ¶11

Ware aanbidding sal jou gelukkiger maak

11 Ons aanbid Jehovah wanneer ons sy Woord studeer en ons kinders oor hom leer. Die Sabbat het vir die Israeliete die geleentheid gegee om op hulle verhouding met Jehovah te fokus, eerder as op hulle daaglikse aktiwiteite (Eks. 31:16, 17). Getroue Israeliete het hulle kinders oor Jehovah en sy goedheid geleer. Vandag moet ons ook tyd maak om God se Woord te lees en te studeer. Dit is deel van ons aanbidding aan Jehovah en dit help ons om nader aan hom te kom (Ps. 73:28). En wanneer ons saam as ’n gesin studeer, kan ons ’n nuwe generasie – ons kinders – help om ’n sterk persoonlike verhouding met ons liefdevolle hemelse Vader op te bou. – Lees Psalm 48:13.

w11 3/15 19 ¶5-7

Jy het rede tot blydskap

“Gaan rondom Sion en trek daaromheen, tel sy torings. Rig julle hart op sy skans. Besigtig sy woontorings, sodat julle dit aan die toekomstige geslag kan vertel” (Ps. 48:12, 13). Die psalmis het die Israeliete hier aangespoor om Jerusalem van naderby te beskou. Kan jy jou voorstel watter kosbare herinneringe Israelitiese gesinne gehad het wat vir jaarlikse feeste na die heilige stad gereis en die pragtige tempel daar gesien het? Dit het hulle ongetwyfeld beweeg om “dit aan die toekomstige geslag [te] vertel”.

Dink aan die koningin van Skeba, wat aanvanklik skepties was oor berigte van Salomo se voortreflike heerskappy en groot wysheid. Wat het haar oortuig dat wat sy gehoor het, waar is? “Ek het geen geloof gestel in hulle woorde nie”, het sy gesê, “totdat ek gekom het sodat my eie oë kon sien” (2 Kron. 9:6). Ja, wat ons met ons “eie oë” sien, kan ’n groot uitwerking op ons hê.

Hoe kan jy jou kinders help om die wonders van Jehovah se organisasie met hulle “eie oë” te sien? As daar ’n takkantoor van Jehovah se Getuies naby julle huis is, moet julle dit probeer besoek. Mandy en Bethany het byvoorbeeld ongeveer 1 500 kilometer van die Bethelhuis in hulle land grootgeword. Tog het hulle ouers hulle gereeld daarheen geneem om op ’n toer deur die fasiliteite te gaan, veral terwyl hulle dogters grootgeword het. “Voordat ons op ’n toer deur Bethel gegaan het, het ons gedink dat dit nogal formeel en net vir ou mense is”, het hulle verduidelik. “Maar ons het jongmense ontmoet wat hard werk vir Jehovah en dit geniet! Ons het gesien dat Jehovah se organisasie meer is as net die klein gebied waar ons woon, en elke besoek aan Bethel het ons geestelik versterk.” Omdat Mandy en Bethany God se organisasie van naderby beskou het, is hulle beweeg om die pionierdiens te betree, en hulle is selfs genooi om as tydelike vrywilligers by Bethel te dien.

w12 8/15 12 ¶5

Gedra julle as koninkryksburgers!

5 Bestudeer die geskiedenis. Iemand wat ’n burger van ’n menseregering wil word, moet moontlik iets omtrent daardie regering se geskiedenis leer. Diegene wat Koninkryksburgers wil word, moet eweneens soveel moontlik van God se Koninkryk leer. Neem die voorbeeld van die seuns van Korag, wat in eertydse Israel gedien het. Hulle het groot behae geskep in Jerusalem en sy plek van aanbidding en in die vertelling van die stad se geskiedenis. Dit was nie soseer die geboue wat hulle beïndruk het nie, maar wat die stad en daardie plek van aanbidding verteenwoordig het. Jerusalem was “die stad van die Grootse Koning”, Jehovah, want dit was die sentrum van rein aanbidding. Dit was hier dat Jehovah se Wet aan die volk geleer is. Dit was aan die volk waaroor die Koning van Jerusalem regeer het, dat Jehovah liefderyke goedhartigheid bewys het. (Lees Psalm 48:1, 2, 9, 12, 13.) Wil jy, soos hulle, die geskiedenis van die aardse deel van Jehovah se organisasie bestudeer en ander daarvan vertel? Hoe meer jy leer omtrent God se organisasie en hoe Jehovah sy volk onderskraag, hoe werkliker sal God se Koninkryk vir jou wees. Jou begeerte om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, sal natuurlikerwys toeneem.—Jer. 9:24; Luk. 4:43.

Geestelike skatte

it-2-E 805

Rykdom

As ’n voorspoedige nasie kon die Israeliete dit geniet om te eet en te drink (1Kn 4:20; Pr 5:18, 19), en hulle rykdom het hulle beskerm teen die probleme van armoede (Spr 10:15; Pr 7:12). Dit was in ooreenstemming met Jehovah se wil dat die Israeliete voorspoed vir hulle harde werk moes geniet. (vergelyk Spr 6:6-11; 20:13; 24:33, 34.) Maar hy het hulle ook gewaarsku teen die gevaar daarvan om hom as die Bron van hulle rykdom te vergeet en om op hulle rykdom te begin vertrou (De 8:7-17; Ps 49:6-9; Spr 11:4; 18:10, 11; Jer 9:23, 24). Hulle was daaraan herinner dat rykdom net tydelik is (Spr 23:4, 5), dat dit nie vir God as ’n losprys gegee kon word om hulle van die dood te red nie (Ps 49:6, 7) en dat dit geen waarde vir die dooies het nie (Ps 49:16, 17; Pr 5:15). Hulle was gewys dat as hulle te veel waarde aan rykdom sou heg, dit tot oneerlike dade sou lei en hulle nie meer Jehovah se goedkeuring sou geniet nie. (Spr 28:20; vergelyk Jer 5:26-28; 17:9-11.) Hulle was ook aangemoedig om ‘Jehovah met hulle waardevolle dinge te eer’. – Spr 3:9.

17-23 JUNIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 51-53

Wat jy kan doen om ernstige foute te vermy

w19.01 15 ¶4-5

Hoe kan jy jou hart beskerm?

4 In Spreuke 4:23 verwys die woord “hart” na die innerlike persoon of geheime persoon. (Lees Psalm 51:6.) Die woord “hart” verwys met ander woorde na ons gedagtes, gevoelens, motiewe en begeertes. Dit is wie ons werklik is en nie net hoe mense ons sien nie.

5 Ons kan ons fisiese gesondheid as ’n voorbeeld gebruik om te verduidelik hoe belangrik dit is om na ons geestelikheid om te sien. Eerstens, as ons gesond wil bly, moet ons gesonde kos eet en gereeld oefen. Net so, as ons geestelik gesond wil bly, moet ons ’n gesonde geestelike dieet volg en gereeld geloof in Jehovah beoefen. Ons beoefen geloof in Jehovah deur toe te pas wat ons leer en deur te praat oor ons geloof (Rom. 10:8-10; Jak. 2:26). Tweedens, as ons in ’n spieël kyk, kan ons gesond lyk, al is ons eintlik siek. Net so kan dit lyk asof ons geloof sterk is omdat ons ’n geestelike roetine het, maar ons kan dalk verkeerde begeertes begin ontwikkel (1 Kor. 10:12; Jak. 1:14, 15). Ons moet onthou dat Satan wil hê dat ons soos hy moet dink. Hoe sal hy dit dalk probeer doen? En hoe kan ons onsself beskerm?

w15 6/15 14 ¶5-6

Ons kan kuis bly

5 Jehovah sal ons help om teen onsedelike gedagtes te stry as ons aanhou om sy hulp in gebed te vra. Hy gee ons sy heilige gees, wat ons meer vasbeslote kan maak om kuis te bly. In ons gebede kan ons vir Jehovah sê dat ons graag wil hê dat ons denke hom moet behaag (Psalm 19:14). Vra hom dus nederig om te kyk of daar enige skadelike begeertes in jou hart is wat jou kan laat sondig (Psalm 139:23, 24). En hou aan om Jehovah te vra om jou te help om onsedelikheid te verwerp en om te doen wat reg is, selfs wanneer dit moeilik is.—Matteus 6:13.

6 Voordat ons Jehovah leer ken het, het ons dit dalk geniet om dinge te doen wat hy nie goedkeur nie, en ons stry miskien nog steeds teen hierdie verkeerde begeertes. Maar Jehovah kan ons help om te verander en om te doen wat hom behaag. Byvoorbeeld, nadat koning Dawid geslagsomgang met Batseba gehad het, was hy berouvol en het hy Jehovah gesmeek om hom “’n suiwer hart” te gee en hom te help om gehoorsaam te wees (Psalm 51:10, 12). As ons dus nog steeds teen diepgewortelde onsedelike begeertes stry, kan Jehovah ons help om ons begeerte te versterk om hom te gehoorsaam en om te doen wat reg is. Hy kan ons help om ons onvolmaakte gedagtes te beheers.—Psalm 119:133.

Geestelike skatte

it-1-E 644

Doëg

’n Edomiet wat as koning Saul se hoofherder dien, ’n verantwoordelike opsienersposisie (1Sa 21:7; 22:9). Doëg was heel moontlik ’n proseliet. Omdat Doëg “die dag . . . voor Jehovah [moes] deurbring” in Nob, moontlik as gevolg van ’n gelofte, die een of ander onreinheid of moontlike melaatsheid, het hy gesien hoe die hoëpriester Ahimeleg vir Dawid offerbrood en die swaard van Goliat gee. Later, toe Saul vir sy knegte sê dat hulle planne teen hom beraam, het Doëg gesê wat hy in Nob gesien het. Nadat Saul die hoëpriester en ander priesters van Nob laat roep het en Ahimeleg ondervra het, het hy die hardlopers beveel om die priesters dood te maak. Toe hulle weier, het Doëg, onder Saul se bevel, sonder om te huiwer 85 priesters doodgemaak. Ná hierdie goddelose daad, het Doëg alles en almal, jonk en oud in Nob doodgemaak. – 1Sa 22:6-20.

Soos die opskrif van Psalm 52 wys, het Dawid oor Doëg geskryf: “Jou tong, wat so skerp soos ’n skeermes is, beraam skadelike planne en is bedrieglik. Jy het goddeloosheid meer lief as die goeie, en jy lieg meer as wat jy die waarheid praat. Jy is lief vir elke skadelike woord, o bedrieglike tong!” – Ps 52:2-4.

24-30 JUNIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 54-56

God is aan jou kant

w06 8/1 22 ¶10-11

Wees wys—Vrees God!

10 By een geleentheid het Dawid skuiling gesoek by Agis, die koning van die Filistynse stad Gat, waar Goliat vandaan gekom het (1 Samuel 21:10-15). Die koning se knegte het Dawid aan die kaak gestel as ’n vyand van hulle nasie. Hoe het Dawid in hierdie gevaarlike situasie gereageer? Hy het sy hart in gebed voor Jehovah uitgestort (Psalm 56:1-4, 11-13). Hoewel hy moes voorgee dat hy kranksinnig is sodat hy kon wegkom, het Dawid geweet dat dit in werklikheid Jehovah was wat hom verlos het deur sy pogings te seën. Die feit dat Dawid heelhartig op Jehovah vertrou het en op hom staatgemaak het, het getoon dat Dawid werklik godvresend was.—Psalm 34:4-6, 9-11.

11 Soos Dawid, kan ons vrees vir God toon deur vertroue te stel in sy belofte om ons te help om ons probleme die hoof te bied. “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree”, het Dawid gesê (Psalm 37:5). Dit beteken nie dat ons eenvoudig ons probleme aan Jehovah oorlaat sonder om te doen wat ons kan en dan van hom verwag om ten behoewe van ons op te tree nie. Dawid het nie tot God gebid om hulp en sake dan daar gelaat nie. Hy het die fisiese en intellektuele vermoëns gebruik wat Jehovah hom gegee het en die probleem aangepak. Maar Dawid het geweet dat mensepogings op sigself nie tot sukses sou lei nie. Dit moet ook met ons die geval wees. Nadat ons alles in ons vermoë gedoen het, moet ons die res aan Jehovah oorlaat. Trouens, ons kan dikwels niks anders doen nie as om op Jehovah te vertrou. Dit is waar die vrees van God in ’n baie persoonlike sin belangrik is. Ons kan vertroosting put uit Dawid se opregte woorde: “Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees.”—Psalm 25:14.

cl 243 ¶9

Niks kan ons “skei van God se liefde nie”

9 Jehovah waardeer ook ons volharding (Matteus 24:13). Onthou, Satan wil hê dat jy jou rug op Jehovah moet draai. Elke dag dat jy aan Jehovah getrou bly, is nog ’n dag waarin jy gehelp het om ’n antwoord op Satan se uittartings te gee (Spreuke 27:11). Dit is soms nie maklik om te volhard nie. Gesondheidsprobleme, finansiële moeilikhede, emosionele angs en ander struikelblokke kan van elke dag ’n beproewing maak. Uitgestelde verwagtinge kan ook ontmoedigend wees (Spreuke 13:12). Volharding ondanks hierdie uitdagings is vir Jehovah nog kosbaarder. Daarom het koning Dawid Jehovah gevra om sy trane in ’n “leersak” te bewaar, en hy het vol vertroue bygevoeg: “Is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:8). Ja, Jehovah waardeer en onthou al die trane en lyding wat ons verduur terwyl ons ons lojaliteit teenoor hom handhaaf. Ook dit is kosbaar in sy oë.

w22.06 18 ¶16-17

Hoe liefde ons help om vrees te oorkom

16 Satan weet dat ons lewe vir ons kosbaar is. En hy sê dat ons alles wat ons het – selfs ons vriendskap met Jehovah – sal opoffer om aan die lewe te bly (Job 2:4, 5). Maar Satan is verkeerd! Aangesien hy “die een [is] wat die vermoë het om die dood te veroorsaak”, probeer hy om ons natuurlike vrees vir die dood uit te buit sodat ons Jehovah sal verlaat (Heb. 2:14, 15). Mense wat onder Satan se invloed is, dreig soms om Jehovah se aanbidders dood te maak as hulle nie hulle geloof opgee nie. En ander kere sien Satan dalk dat ons ’n mediese noodgeval het en hy sal dit dalk gebruik om ons te kry om iets te doen wat Jehovah nie wil hê ons moet doen nie. Mediese dokters of ongelowige familielede kan dalk druk op ons plaas om ’n bloedoortapping te aanvaar, iets wat teen God se wet is. Of iemand anders probeer ons dalk oortuig om ’n ander behandeling te aanvaar wat teen Bybelbeginsels is.

17 Al wil ons nie doodgaan nie, weet ons dat Jehovah ons nog steeds sal liefhê, al gaan ons dood. (Lees Romeine 8:37-39.) As Jehovah se vriende doodgaan, hou hy hulle in sy geheue asof hulle nog steeds lewe (Luk. 20:37, 38). Hy wil hulle graag weer lewend maak (Job 14:15). Jehovah het ’n hoë prys betaal sodat ons “die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Ons weet hoe lief Jehovah vir ons is en hoe baie hy vir ons omgee. So eerder as om Jehovah te verlaat wanneer ons siek is of wanneer ons met die dood gedreig word, vertrou ons op hom vir vertroosting, wysheid en krag. Dit is presies wat Valérie en haar man gedoen het. – Ps. 41:3.

Geestelike skatte

it-1-E 857-858

Voorkennis, voorbestemming

Die feit dat Judas Iskariot ’n verraaier geword het, het profesie vervul en bewys dat Jehovah sowel as sy Seun weet wat in die toekoms gaan gebeur (Ps 41:9; 55:12, 13; 109:8; Han 1:16-20). Maar dit beteken nie dat God vooraf besluit het dat Judas dit sou doen nie. Die profesieë het voorspel dat iemand wat na aan Jesus is sy verraaier sou wees, maar dit het nie spesifiek gesê wie dit sou wees nie. En, Bybelbeginsels wys dat God nie vooraf besluit het hoe Judas sou optree nie. Die goddelike standaard wat deur die apostel neergeskryf is, sê: “Moet nooit haastig wees om jou hande op enigiemand te lê nie, en moenie ’n deel hê aan die sondes van ander nie. Bly sedelik rein.” (1Ti 5:22; vergelyk 3:6.) Jesus het die hele nag tot sy Vader gebid voordat hy sy 12 apostels gekies het, dit wys dat hy goed daaroor nagedink het sodat hy ’n wyse besluit kon maak (Lu 6:12-16). As God alreeds besluit het dat Judas ’n verraaier sou wees, sou dit teenstrydig wees met God se leiding en riglyne. Dit sou ook beteken dat God deel het aan die sondes wat gepleeg was.

Daarom kan ons sê dat daar geen bewyse in Judas se hart was dat hy ’n verraaier sou wees toe hy as ’n apostel gekies was nie. Hy het toegelaat dat ’n “giftige wortel opskiet” en hom besoedel, wat veroorsaak het dat hy nie meer God se leiding volg nie, maar eerder die Duiwel s’n, wat hom ’n dief en verraaier gemaak het (Heb 12:14, 15; Joh 13:2; Han 1:24, 25; Jak 1:14, 15). Teen die tyd dat Judas se hart hierdie punt bereik het, kon Jesus dit in sy hart sien en het hy geweet dat Judas hom sou verraai. – Joh 13:10, 11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel